Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 2 Maart 2003
PROFESSOR KLAAS SCHILDER (1890 - 1952)
- SH SALOMONS - PRETORIA -
OORGENEEM UIT KERK EN WOORD, MONDSTUK VAN DIE GEREFORMEERDE KERK PRETORIA=-DIE KANDELAAR
(DESEMBER 2002 BL 17-21. - ENIGSINS AANGEVUL EN GEWYSIG)
Vanjaar (2002 PvdK) was dit vyftig jaar gelede dat die teoloog, prof dr K Schilder oorlede is. Sy naam is veral onder die oueres onder ons bekend. Van die jongeres onder ons het wel sy naam gehoor en weet moontlik dat hy 'n leidinggewende rol binne die Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN) gespeel het. Dalk weet hulle ook dat hy die grootste rolspeler was wat tydens die Tweede Wêreldoorlog binne die GKN gewoed het. Dis 'n stryd wat op die "Vrymaking" in 1944 uitgeloop het.
Schilder is gesien as 'n omstrede figuur: vir sommige was hy 'n reformator, vir ander 'n skeurmaker. Dat hy 'n briljante en hoogsbegaafde mens was (sommige beskou hom selfs as geniaal) word algemeen erken. Daarby kom ook die erkenning dat hy waarskynlik die grootste gereformeerde teoloog van die twintigste eeu was.
Sy lewensloop
Schilder is op 9 Desember 1890 in Kampen (Nederland) gebore en in dieselfde stad op 23 Maart 1952 oorlede. Sy skoolopleiding het hy dan ook in Kampen ontvang en vanaf 1909 tot 1914 opleiding aan die teologiese skool aldaar. In 1914, kort voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, word hy in sy eerste gemeente, Ambt-Vollenhoven, as predikant bevestig. Gedurende die jare 1914 tot 1933 het hy ses gemeentes bedien. Die gemid-delde bedieningstydperk per gemeente was dus weinig meer as drie jaar.
In 1933 het Schilder in Erlangen (Duitsland) summa cum laude tot doktor in die filosofie gepromoveer. Die titel van sy doktorale verhandeling was: "Zur Begriffsgeschichte des 'Paradoxons'. Mit besonderer Berücksichtigung Calvins und des nachkierkegaardschen 'Paradoxon'". In dieselfde jaar is hy tot hoogleraar in die Dogmatiek aan sy alma mater, die teologiese skool in Kampen, benoem. Daar het hy gewerk tot die Here hom op Sondag 23 Maart 1952, vry onverwags, in sy heerlikheid opgeneem het.
As gevolg van die kerklike verdeeldheid en sy prominente leiding in die kerklike stryd is hy in 1944 as hoogleraar deur die GKN se sinode afgesit. Kort daarna het hy egter sy arbeid voortgesit in diens van die Gereformeerde Kerken in Nederland (onderhoudende art 31 ko), wat as gevolg van die ontstane kerkskeuring ontstaan het,
Kyk 'n mens na sy lewensloop, dan kan die gedagte maklik ontstaan dat Schilder 'n rustige lewe kon gehad het. Gebore, skoolgegaan en gestudeer in Kampen, 'n aantal jare predikant, dan hoogleraar in Kampen tot die dag van sy dood en toe in sy geboortestadjie begrawe. Hy was egter nie 'n studeerkamergeleerde nie; beslis nie! Hy was 'n geharnaste en rustelose stryder vir die waarheid van God se Woord en die gereformeerde belydenisse. Staande midde-in die gereformeerde kerklike lewe, het hy die kerke wat hy bedien en liefgehad het, tot voortgaande reformasie opgeroep en daarby talle dierbare "gangbare menings" aan die kaak gestel - tot oortuiging van sommige en verontrusting van ander.
Schilder het die geeste (van sy tyd) beproef of hulle uit God was en profeties sy stem laat hoor. Veral deur middel van polemieke in die kerklike pers. Dat hy dit soms te ver gevoer het, kan nie ontken word nie. Voorts het hy in die besonder bepaalde aspekte van dr A Kuyper se teologie in sy blad "De Reformatie" bekritiseer. Dit betref veral leerstellings van Kuyper oor die verbond en die doop, die pluriformiteit van die kerk en die onderskeiding van algemene en besondere genade.
A Kuyper en K Schilder
Die figuur van dr Abraham Kuyper (1837 - 1920) het die gereformeerde kerklike, politieke en maatskaplike lewe van sy tyd oorheers. Hy was die leidinggewende figuur tydens die Doleansie (1886). Onder sy leiding is daar 'n politieke party gestig en 'n gereformeerde (vrye) universiteit opgerig. Daarbenewens het hy 'n oneindige reeks boeke en artikels gepubliseer. Ook was hy 'n tyd lank eerste minister in Nederland. "Abraham die geweldige"!
Na sy afsterwe in 1920, na 'n halwe eeu van enorme aktiwiteit, het die gereformeerde volksdeel in Nederland, in vergelyking met die beginjare van Kuyper se optrede deur sy invloed geweldig verander.
Van 'n miskende minderheidsgroep het hulle 'n moderne, goed georganiseerde en gerespekteerde volksdeel geword. Dit was te veral danke aan Kuyper se geweldige organisatoriese en strategiese vermoëns. Hy, die "klokkenis van die kleine luyden", het die gereformeerde volk geaktiveer en geïnstrueer. Die gereformeerde organisasies het gebloei, hulle was goed ontwikkel en doeltref-fend. Ten tye van sy heengaan, was die tyd van stryd en opbou verby en was dit vir baie gereformeerdes verder slegs 'n saak om die verworwe posisies te bewaar en uit te bou.
Die gereformeerde volksdeel was by uitstek konserwatief, burgerlik en volgsaam. Die kerklike "leiers" is trou nagevolg. Die kerke en die volk het helaas steeds meer uit kuyperiaanse "beginsels" in plaas van uit die Woord van God gaan lewe. Kuyper het dikwels na die "calvinisme", "calvinistiese beginsels", "herlewing van die Calvinisme" ensovoorts, verwys. Jammer genoeg het die Calvinistiese vlag nie altyd die lading gedek nie!
Vir 'n groot deel het die gereformeerde kerkvolk egter rustig by die Kuyperiaanse gedagtekonstruksies, wat as "beginsels" getipeer is, volstaan. Waar hulle oorwegend gesagsgetrou was, het hulle die "leier" gehoorsaam nagevolg. Dit was in hierdie tyd dat Schilder begin publiseer het en baie klippe in die bos gegooi het.
Heelwat "ewige beginsels" het begin wankel toe "KS", soos Schilder gaandeweg bekendgestaan het, sterk analiserend, skriftuurlik gefundeerde vrae begin stel het. Soms lyk dit of in Vrygemaakte kringe die gedagte heers dat Schilder hulle van Kuyper bevry het. Die omgekeerde is egter waar. Schilder wou Kuyper se erfenis vir sy tyd behou en bruikbaar maak, deur simpateties- krities daarop voort te bou.
Schilder het ongetwyfeld die geskiedenis as een van die selfstandigste teologiese leerlinge van Kuyper inge-gaan. Deur sy optrede het hy egter beweging en problematiek gebring in kringe waar betreklike rus en vanselfsprekendheid geheeers het. Hy was nie bereid om te berus in en stil te staan by die verworwenhede van die Kuyperiaanse tyd nie, Tesame met 'n klein kring van geesverwante het hy besef dat verdere ontwikkeling van die gereformeerde lewe noodsaaklik was.
Die Gereformeerde Kerk word steeds geroep om te reformeer. Deurgaande reformasie, terugkeer tot die Skrif, steeds weer alles toetsend aan die Skrif, is die gebiedende eis, juis om gereformeerd te bly!
Schilder se lewensinset was om slegs gereformeerde teologie te bedryf: radikaal, konkreet en konsekwent. Die rykdom daarvan, wat dit beteken om gereformeerd te mag wees, het hy op 'n moderne wyse vertolk. Daarom het hy inderdaad Kuyperiaanse spekulasies en skolas-tiese redenasies afgewys, maar tegelykertyd sy verbon-denheid met Kuyper se reformatoriese arbeid beklem-toon. Daarby het hy tereg die slaafse navolging van hom (Kuyper), op grond van kerk-politieke oorwegings, gekri-tiseer.
Vergelyk 'n mens Kuyper en Schilder, dan lei dit tot die konklusie dat eersgenoemde 'n politikus-strateeg was, maar Schilder 'n profeet wat met 'n oop visier, sonder politiek, strategie of beplanning, gestry het om in sy tyd enduit gereformeerd te wees. Daarom het hy altyd weer met die sleutelwoord: "Gehoorsaamheid!" gekom. Lewe in die verbond is nooit vryblywend nie.
Die Here vra hier en nou gehoorsaamheid aan sy gebooie. Daarom het Schilder steeds in die lig van die Skrif, profeties, 'n wye spektrum van sake aan die orde gestel. Dit het heftige reaksies binne die Gereformeerde Kerke in Nederland veroorsaak, reaksies wat hy waar-skynlik nie voorsien het nie. Besef asseblief dat hy daar-in en daarmee juis gehoorsaamheid wou bewys. Hy, 'n leraar van die kerk, wou in alles 'n gehoorsame leerling van die Woord wees. "Wij hebben aan zijn Woord genoeg. En wij zullen de kracht van dat Woord al breder ontplooien en den inhoud van dat Woord al beter laten spreken, ook tegenover de kwesties van den dag, doch dan altoos alleen naar het Woord en om het Woord en door het Woord."
Schilder se betekenis
Op die oomblik verskyn in Nederland verskeie edisies van Schilder se versamelde werke. Of hulle nog gelees en bestudeer word, is 'n ope vraag. Vanweë sy uitbundige en breedvoerige skryfstyl, is sy werke veral vir die jonge-res nogal moeilik toeganklik. Van sy bekendste werke is waarskynlik die driedelige "Christus in zijn lijden" en "Christus en Cultuur". Van laasgenoemde het tot in 1988 daar ses herdrukke verskyn. Een van die laaste uitgawes is voorsien van verklarende aantekeninge om daarmee die boekie vir 'n wyer publiek verstaanbaar te maak.
'n Mens moet 'n redelike kennis van die destydse kerklike lewe in Nederland hê om werklik te verstaan waaroor dit alles gegaan het. Doen jy moeite daarvoor, dan ervaar jy dat daar onderliggend altyd in alle sake die norm van God se Woord deurklink.
Schilder het daarna gestrewe om in alles normatief te dink: volgens die norm van God se Woord, daarby steunend op die gereformeerde belydenis.
Inderdaad is daar daarom aspekte van sy werk wat steeds aktueel en insiggewend is om daarvan kennis te neem. Dit verg moeite en volharding. Al lesende besef 'n mens ook die betekenis van hierdie teoloog as 'n instrument in Gods hand. Schilder het diep gegrawe en ou en nuwe dinge uit die Woord dikwels op 'n verrassende wyse na vore gebring. Baie van sy insigte is steeds aktueel en daarin lê dan ook die betekenis van sy werk.
Schilder het 'n besondere antenne gehad om die strominge van sy tyd in die lig van die Woord te verstaan en te beoordeel. Daarby het hy ook dikwels 'n profetiese blik op die toekoms gehad en voortydig raakgesien wat as gevolg van die strominge waarteen hy gewaarsku het, sou gebeur.
Die waarde van Schilder se fel polemieke kan seker bevraagteken word. Was hy daarin altyd reg en het hy nie dikwels mense onnodig gekwets nie? Self het hy dit altyd benadruk dat hy oor sake polemiseer en nie oor persone nie. By hom het dit nooit oor die persoon gegaan nie, maar juis om die standpunte wat hulle voorgestaan het. Omdat hy daarvan oortuig was dat die Woord on-voorwaardelike gehoorsaamheid vra, het hy radikaal te werk gegaan, getipeer as "Alles of niks". In sy felheid het dit by Schilder veral daarom gegaan om die waaragtigheid van die Woord en die trou aan die gereformeerde belydenis te bevestig.
In dit alles was hy 'n nederige mens wat foute gemaak het wat nie toegesmeer hoef te word nie. God gebruik sondige, feilbare mense in sy diens, in die vergadering van sy kerk. Dit is God se genade dat Hy steeds weer mense skenk, persone met uitsonderlike vermoëns en begaafdheid, dat Hy hulle gebruik om sy kinders terug te lei na en vas te staan by die onbetwyfelde waarheid van sy Woord.
Daarby gaan dit nie om die navolging van "kerklike leiers" nie, maar om die navolging van Christus in gehoorsaamheid aan sy Woord, oral waar Hy ons roep: kerklik, maatskaplik, in die politiek. Ja, ons hele lewe moet 'n gehoorsame dankbaarheidslewe wees. Daarin, in eenvoudige gehoorsaamheid, staan die eenvoudigste gelowige naas die begaafste, gehoorsame teoloog.
TER HERRINNERING AAN PROF K SCHILDER SE HEENGAAN OP 23 MAART 1952
(Dr C van der Waal. In: KERK EN WOORD, Maart 1972)
"Schilder se teologie is gestempel deur 'n permanente afwysing van die gnostiek, die dualisme tussen stof (wat nie deur God geskape is nie) en gees (wat 'n vonk van God sou wees). Daarom sy beklemtoning van die eenheid en kontinuïteit van die ou en nuwe verbond, die verbondswraak in die nuwe verbond, die heilshistorie (wat die prediking moet beheers), die eenheid tussen Moses en Christus. Hierdie laaste punt het natuurlik in die stryd insake die doop na vore gekom en is ook vandag baie aktueel, onder meer in verband met die teologie van die revolusie.
Schilder wat die valse mistiek afgewys het, wou niks weet van 'n oorbeklemtoning van die onsigbare liggaam van Christus nie. Daarom ook sy aksentuering van die kerk as sigbare vergadering en die onderskeid tussen ware, wettige, getroue (dit is almal vrywel identies) en onware, illegitieme en ontroue vergadering. Hierin het hy 'n damwal teen die (valse - PvdK) Ekumene opgegooi.
Schilder het afgewys dat in elke mens daar nog 'n vonk van God sou wees of dat daar 'n beeld van God in engere sin sou bestaan. Slegs in Christus word die amp van die mens weer herstel. KS wou egter die amp nie laat opgaan in 'n mistieke vergoddeliking nie, maar het die beeld van God gesien as 'n mandaat, 'n kultuurmandaat. Ook daarin is hy van ontsaglike betekenis vir ons tyd en dit word bewys deur die aandag wat sy boek Christus en Cultuur nog altyd kry.