Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 2 Maart 2003
Hoofartikel
KERK EN DEMOKRASIE: SINODEKRASIE!
KERK EN DEMOKRASIE:
SINODEKRASIE
! Die staatkundige verandering, die sogenaamde "nuwe bedeling" wat in 1994 'n aanvang geneem het, word as "demokraties" getipeer. Dit beteken kortweg dat meerderheidsbeslissing gesaghebbend is vir besluitneming, magsbeskikking en regering. In die staatkunde word oor hierdie begrippe gefilosofeer. "Die proses waarvolgens konflik in 'n samelewing hanteer word, moet ook bepaal word deur die instemming van die burgers, tradisioneel gesien as regering deur die wil van die meerderheid ...", aldus die staatspolitikus Robert A Dahl (VSA). "Wanneer 'n normatiewe begrip, soos byvoorbeeld demokrasie-as-legitimiteitsbeginsel, bloot emosioneel en sonder enige empiriese verwysingskrag gebruik word, word dit só subjektief en arbitrêr gebruik dat die normatiewe vereistes wat dit as 'n legitimiteitsbeginsel stel, heeltemal onbruikbaar word as kontroleerbare standaarde vir demokratiese regering. Enige politieke magsbestel kan dan in terme van 'n onkontroleerbare demokrasiebegrip as 'demokraties' geregverdig word." Dis 'n opmerking van dr AM Faure en prof DJ Kriek, dosente in Staatsleer aan UNISA.Op die terreine van die staat geld die bogenoemde demokratiese reëls en beginsels dat die getallemeerderheid die minderheid oorheers. Dit gebeur by hoë uitsondering dat konsensusbesluitneming as gesaghebbend aanvaar word. Maar wat van die kerklike terreine? Is dit vanselfsprekend dat daar dieselfde reëls geld? Waarom maak ons - volgens Gereformeerde geloofsoortuiging - skeiding tussen die terreine van die kerk en die staat? Geld vir albei nie dieselfde Goddelike norme en gebooie nie?
Hoewel God op albei terreine die hoogste wetgewer en gebieder is, is dit in die breë samelewing nie uitvoerbaar om besluite te onderwerp aan toetsing aan God se Woord en die belydenisskrifte van die kerk nie. Die burgerlike samelewing bestaan uit gedifferensieerde gelowiges en ongelowiges wat nie almal dieselfde oortuigings huldig en aanvaar nie. Dus handhaaf ons die onderskeiding van die staat as 'n demokratiese samelewing teenoor die kerk wat teokraties deur God se Woord en Gees regeer word. Daarom behoort kerklike besluitneming ooreen te stem met die norme en reëls van God se Woord, wat die Gereformeerde Kerke betref, in binding aan die belydenisskrifte en kerkorde.
Let ons op die praktyk van kerklike besluitneming dan is dit opvallend dat dit, net soos op die staatlike terreine, nie deur konsensus op grond van die oortuiging: "So sê die Here, so staan dit ontwyfelbaar vas in God se Woord beskrywe" geneem word nie, maar om dit te onderwerp aan meerderheidsbeslissing. Met opsteek van hande word nie slegs oor materiële sake nie, maar ook oor skriftuurlik betwisbare sake wat op die tafels van kerkrade en meerdere vergaderings dien, besluit. Kan op grond daarvan aanvaar word dat "die Heilige Gees en ons - kerkrade, meerdere vergaderings - besluit het" (vgl Hand 15:28)? Is dit daarenteen nie juis 'n kerklike demokrasie of te wel "sinodekrasie" nie?
Tydens die jongste Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke is oor talle sake gedebatteer sonder gesaghebbende Skrifverwysing. Ingrypende besluite is geneem sonder om skriftuurlik en kerkordelik gemotiveerde standpunte daarteen sorgvuldig te oorweeg. Dit geld in die besonder die sake aangaande die Bybelvertaling en aanvaarding van die 2001-Psalmomdigting. Dit geld ook die saak van die vrou in kerklike ampsbediening asook dié van die gebruik van die kelkies by die nagmaalsviering. Ook kan verwys word na die besware van die Partikuliere Sinode Bosveld oor die toekenning van 'n eredoktorsgraad aan biskop Desmond Tutu deur die PU vir CHO. Geen konsensus oor die onbetwisbare geopenbaarde wil van die Here nie, maar eerder onderwerping aan die veranderende tydsgees. Dis soos BEELD dit beskryf in 'n redaksionele kommentaar (Saterdag 18 Januarie 2003, bl 10):
"Vir die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika is die toelating van vroue tot die diakenamp 'n belangrike stap in 'n nuwe rigting.
Dit is ook 'n aanduiding dat die vernuwende denkstroom in die kerk nou sterker vloei as die meer konserwatiewe of behoudende denkstroom.
Dié tendens word bevestig deur die sinode se aanvaarding van die nuwe Afrikaanse psalmomdigting en die verwerping van die besware teen die toekenning van 'n eredoktorsgraad aan aartsbiskop Desmond Tutu.
Terwyl dit vir behoudende lidmate 'n bron van kommer kan wees, sal daar baie lidmate wees wat dié verwikkeling verwelkom.
Ook in die breër samelewing kan dit daartoe bydra om die kerk 'n gro-ter geloofwaardigheid te gee as mense voel dat die kerk tred hou met maatskaplike ontwikkelings van die tyd.
Oor die meriete van dié stelling kan daar baie geredeneer word. Tereg sou 'n mens daarop kan wys dat die maatstaf waarmee die kerk homself moet meet die Bybel is en nié om by te bly met die wispelturige modegiere van die dag nie.
Tog is dit ook so dat 'n kerk homself op die duur 'n wêreldvreemde randverskynsel kan maak as hy in die proses uiteindelik 'n taal praat wat glad nie meer deur die wêreld verstaan word nie. ... ."
Die skrywer van hierdie kommentaar slaan die spyker op die kop as hy stel dat "die maatstaf waarmee die kerk homself moet meet die Bybel is en nié om by te bly met die wispelturige modegiere van die dag nie". Die vraag is nie wat dink die wêreld van God se Kerk nie, maar wat dink God daarvan? Is dit wat tydens die Nasionale Sinode van die GKSA 2003 besluit is konform die geopenbaarde wil van die Here, onweerspreekbaar volgens die leiding van die Heilige Gees? Is daar nog sprake van teokrasie of berus ons in sinodekrasie?
Die sake waaroor besluit is lê nou op die tafels van die kerkrade en mindere vergaderings van die klassisse en partikuliere sinodes om hulle te toets aan skriftuurlike betroubaarheid in binding aan die Drie Formuliere van Eenheid en die Gereformeerde Kerkorde. Elke kerkraad asook elke kerklid behoort nou die vraag te beantwoord of die jongste sinodebesluite uit die mense of uit die hemel is. Kan dit God se goedkeuring wegdra in die uitvoering daarvan of is dit dalk 'n duidelike miskenning en relativering van sy genadegawes aan die Kerk waarvoor Hy sy bloed gestort het?
Het ons, mense van die een-en-twintigste eeu, die reg en die bevoegdheid om die Here se Woord aan te pas aan ons tyd en liturgiese vernuwings aan te bring in die Here se Kerk om "by te bly met die wispelturige modegiere van die dag"? Hierdie vraag moet allereers dien alvorens oorgegaan word tot beoordeling van betwisbare sinodebesluite. Daarna moet die Skrifgronde wat aangevoer is, vir geldigheid getoets word. Ook sal besin moet word of die sake waaroor besluit is in die eie plaaslike gemeente geïmplementeer mag/kan word. Dit betref die aanvaarding van vrouens in die kerklike ampsbediening, die gebruik van kelkies by die nagmaal, die gebruik van die 1983-Bybelvertaling en die 2001-Psalmomdigting in die eredienste. Uitsprake van die sinodes van die Gereformeerde Kerke moet slegs as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde (art 31 ko). Kerkrade sal nou, in oorlegpleging met die lidmate van hul gemeentes en met naburige kerkrade en in klassisverband, die jongste sinodebesluite moet toets en besluit oor die prinsipiële binding en uitvoerbaarheid daarvan.