Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 2 Maart 2003
KERKLIKE JOERNAALNUWE REDAKTEUR VIR "DIE KERKBLAD"
Prof GJC (Jorrie) Jordaan het voorafgaande aan die Nasionale Sinode van die GKSA hom nie weer beskikbaar gestel om te dien as redakteur van Die Kerkblad, amptelike mondstuk van die GKSA, nie.Prof Jordaan, asook die hulpredakteur wat behulpsaam was, is bedank vir die bekwame waarop hulle die redaksie van Die Kerkblad vir meer as elf jaar hanteer het.
Die onlangs geëmeriteerde professor JH van Wyk is aangestel as nuwe redakteur. Hy sal in samewerking met die nuwe deputate 'n redaksiekommissie aanwys.
Dit is tydens die Sinode gerapporteer dat die publisering en verspreiding van Die Kerkblad met finansiële verlies gepaard gegaan het. Die afgelope drie jare is met 'n tekort van R101 000 afgesluit.
Die Sinode het na kennisname hiervan aan die nuwe deputate van die kerklike tydskrifte opdrag verleen om die moontlikhede te ondersoek om dit op 'n gesonde finansiële basis te plaas. Van die moontlikhede wat aanbeveel is: (a) dat Die Kerkblad 'n maandblad sal word; (b) dat kerkrade opnuut ingelig word oor die omvang van die krisis waarin die kerklike blaaie hulle bevind; (3) dat kerkrade en predikante opgeroep word tot daadwerklike pogings om nuwe intekenare te werf; (4) dat kerke opnuut aangemoedig word om die tydskrifte per massapos te ontvang.
As redaksie van Die Kerkpad wens ons die nuwe redakteur, prof Amie van Wyk, die krag en wysheid toe om hierdie werk in getroue verantwoordelikheid aan God en die kerke, namens wie hy benoem is, te bedryf.