Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 2 Maart 2003
KERKLIKE JOERNAALSINODALE PERSVERKLARING OOR OMSTREDE BELEGGING VAN R 680 000
Die Sinode het die volgende persverklaring tydens sy vergadering vrygestel:
"Daar het berigte in die pers verskyn dat die Gereformeerde kerke R680 000 in 'n piramideskema belê het.
Die ledevergadering van die Administratiewe Buro van die GKSA het deur hulle regsdeputate en hulle finansiële kommissie, wat verskeie deskundiges insluit, 'n indringende ondersoek na die aangeleentheid gedoen en die volgende bevind:
Bestuur het goedkeuring gegee om 'n bedrag van R680 000 te belê. Die belegging is nie geplaas by 'n bank nie.
Bestuur het met hulle besluit 'n oordeelsfout gemaak.
Daar was nie besluit om fondse in 'n piramideskema te belê nie.
Daar is bestuursmatig verkeerd opgetree om aan een bestuurslid die afhandeling van die transaksie toe te vertrou.
Die transaksie se afhandeling deur een bestuurslid het die probleem veroorsaak.
Behalwe die optrede van die lid wat nog nie ten volle verreken kon word nie, kon geen rede gevind word om die integriteit van die Bestuur en die personeel van die Buro, te bevraagteken nie.
Die beheer en kontroles van alle aangeleenthede onder die Bestuur se mandaat het aan goeie bestuurspraktyke voldoen.
Die broeders wat betrokke is, is vermaan en hulle het ook hul fout bely.
Die ledevergadering betreur die aangeleentheid en wil almal verseker dat afgesien van hierdie enkele oordeelsfout van die Bestuur, hulle goeie en betroubare werk gedoen het wat strek tot voordeel van die kerk en tot eer van God.
Die Sinode bevestig dat die volgende ook gedoen is.
Die opdragte waarvolgens die Bestuur werk is uitgebrei.
Die bestuur is met addisionele lede en kundigheid versterk.
Regsaksies is ingestel om die geld terug te vorder.
Die Sinode doen 'n beroep op alle Kerke om uiters versigtig te wees ten opsigte van deelname en/of beleggings in twyfelagtige finansiële skemas."