Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 2 Maart 2003
OPVOEDING EN ONDERWYS
EVOLUSIE EN DIE BYBEL
Kan hulle versoen word?
Outeur: Pieter J Pelser
Stellenbosch: Bybeldenke Uitgewers
> R95-00 Posgeldkoste ingesluit <
Bestel by administrasie van Die Kerkpad
'n Passende geskenk vir ons skoolgaande jeug. 'n Gids vir ouers wat graag hulle kinders wil inlig en begelei in die problematiek wat evolusionisme teenoor die Bybelse geloof lewer wanneer dit voorskriftelik in die skole opgedis word. Pieter Pelser lig talle onwaarskynlikhede op populêr-wetenskaplike wyse uit om daarmee die evolusieleer as onwetenskaplik te bewys en tegelykertyd by die Skriftuurlike openbaring vas te staan."Soos herhaaaldelik in hierdie boek aangedui, is evolusie totaal onmoontlik. Die hoofstuk oor biologiese aspekte bewys dit, die hoofstuk oor wiskunde bewys dit, die hoofstuk oor ontwerp bewys dat geen saamgestelde vorm van lewe met sy komplekse samestelling óóit per toeval kon ontstaan het nie. ...
"Die evolusieleer en okkultiese verskynsels het die plaasvervanger van God en sy skeppingsmag- en Woord geword, en dit (die evolusieleer) móét as die verklaring vir alles in die ganse heelal gesien word. Alles evalueer opwaarts! Reeds in hoofstuk een is verwys na Huxley waar hy sê dat Darwin daarin geslaag het om God uit die debat aangaande die ontstaan van lewe te verwyder.
Die Bybel se skeppingsgeskiedenis moet daarom diskrediteer word, want evolusioniste weet dat ander godsdienste nie hulle probleem is nie. Waarom dus met hulle sukkel? Mik vir die slagaar, en vernietig dit!", aldus die skrywer Pieter J Pelser. (bl 294, 296)
(Manifesto on Values, Education and Democracy, Ministry of Education, August 2001)
Deputate vir Christelike Onderwys van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, November 2001.
- SAAMGEVAT, AFGEROND EN BESIKBAAR GESTEL DEUR PROF PH STOKER, PU VIR CHO -
Onderwysstrategie 8:
Realiseer meertaligheid
Dit begin met : "Only slaves can be forced to give up their own language" - n aanhaling van Neville Alexander. Hiermee en met die genoemde punte, waarmee die strategie kortliks saamgevat word, kan heelhartig saamgestem word:
Dat gelykberegtiging vir al 11 landstale op grond van die Suid-Afrikaanse Grondwet bewerkstellig word;
Dat leerders baie beter behoort te vorder indien hulle deur middel van hulle moedertaal onderrig word. Dit is n geldige opvoedkundige beginsel;
Dat Engels as internasionale wêreldtaal goed deur leerders bemeester behoort te word;
Dat Afrikaanssprekende leerders hul moedertaal, Engels en n streek Afrikataal moet aanleer;
Indien enigsins bekostigbaar behoort hierdie taalbeleid van die Minister geimplementeer te word.
Onderwysstrategie 9:
Gebruik sport vir sosialisering van gemeenskappe en bevordering van nasiebou op skoolvlak
"When it comes to race and colour, sport has led in accelerating equality. Sport is able to transcend all notions of prejudice, and has often done pioneering work in doing so not at least in our land". Sam Ramsamy, President van die Nasionale Olimpiese Komitee van S.A.
Sport het die potensiaal om saamhorigheid tussen mense te bewerkstellig wat op geen ander manier met mekaar kan kommunikeer om mekaar te verstaan nie. Dit bevorder verdraagsaamheid, vertroue en respek tussen gemeenskappe wat in die verlede kunsmatig uitmekaar gehou is.
Die grondslag vir voorgestelde riglyne vir n nasionale beleid vir buitekurrikulêre sport sal in die Grondwet gesetel wees en sal in lyn wees met die eise wat die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring stel. (Manifesto 2001:53).
Opmerking: Die staat beoog wetgewing om hierdie buite-kurrikulêre sportbeleid op skole af te dwing as deel van sy program van nasiebou.
Onderwysstrategie 10:
Verseker gelyke toegang tot onderwys
"All of these values will not amount to much if the allocation of resources remains as skewed as it is, where the majority of rural schools are made of mud and thatch grass, have no piped water, have no electricity, have no modern equipment and no reliable and affordble transport for both learners and teachers" Chief Pathekile Holomisa, Voorsitter van die Raad van Tradisionele Leiers van S.A.)
Hierdie strategie handel oor gelyke toegang tot die onderwys, gelyke per capita besteding per leerder en n gunstige onderwyser-leerderverhouding. Die Manifes stel dat die sekerste pad uit armoede is dat die staat sy opvoedkundige missie moet uitvoer deur aan die Grondwet getrou te bly deur gelykberegtiging in die onderwys.
Onderwysstrategie 11:
Bevorder antirassisme in skole
Die uitgangspunt is dat daar rassisme in skole is. Daar moet dus gepoog word om integrasie op alle vlakke in skole te bereik. Spesifieke programme, ens. moet in plek gestel word om hierdie doelwit te laat slaag. Indien nodig moet sekere reëls afgedwing word en streng strafmaatreëls moet toegepas word waar daar van hierdie reëls afgewyk word. Alle vorme van ongelykhede word as vorme van rassisme beskou.
Beoordeling: Andersheid en diversiteit en alle sosiale ongelykhede wat bestaan, kan egter nie op simplistiese wyse bloot voor die deur van rassisme gelê word nie.
Die volgende word as rassisme beskou: "if pupils from other races want to come to our school then they must adjust to the culture and norms of the school ... a zealous attempt to "civilise" black children into "white" ways of being, turning them against their own culture by devaluing it." (Manifesto 2001:59)
Beoordeling: Die gemeenskap van n skool behoort (in lyn met die Grondwet van die R.S.A.) self sy etos en kultuur en waardes te bepaal. Dit is tog die grondslag van n sogenaamde demokratiese samelewing en dit is een van die mees basiese uitgangspunte van ons Grondwet. Elkeen behoort die vrye keuse te hê om in te skakel by die skool waarop jy besluit het, solank jy jou aan die bepaalde "grondwet" van daardie skool hou.
"The Gauteng Education Department has a policy on teacher representivity and aims to have 50% of teachers black in all save former Model C schools." (Manifesto 2001:59,60)
Beoordeling: Hierdie beleid is niks anders as diskriminasie en omgekeerde rassisme nie. As daar teen die wil en die norme en die kultuur van die meerderheid van n spesifieke gemeenskap sulke besluite aan hulle opgedwing word, word al die bestanddele vir moontlike konflik en konfrontasie byeengebring. Wie gaan die verantwoordelikheid dra vir die gevolge van sulke "op n gemeenskap afgedwonge besluite"?
Onderwysstrategie 12:
Bevry die potensiaal van meisies sowel as seuns
"... sexuality education is an integral part of the school curriculum. Such education should give both girls and boys the resources they need to practise birth control." (Manifesto 2001:63)
Beoordeling: Dit is die primêre verantwoordelikheid van Christenverbondsouers om hul kinders in die lig van God se Woord ten opsigte van die seksuele toe te rus en te leer. Dit is duidelik dat die uitgangspunt van die Departement geensins op God se Woord gebaseer is nie. Nie "onthouding voor die huwelik" nie, maar "voorkoming tot swangerskap" is die Departement se vertrekpunt. n Christen-gelowige kan op grond van God se eis volgens die Bybel nie met so n suiwer pragmatiese uitgangspunt vrede maak nie. (Vgl. Onderwysstrategie 13)
Die Manifesto se verdere vertrekpunt is dat daar voort-durend en op alle vlakke teen (veral) vroue gediskrimineer word. Die wyse waarop skole georganiseer word, bevorder hierdie diskriminasie, omdat vroue selde (volgens die Manifes) in die hoër gesagsposisies (hoofde en adjunkhoofde) verteenwoordig word. Daar word veral geredeneer vanuit die situasie in landelike gebiede (hoofsaaklik sogenaamde swart skole).
Beoordeling van vertrekpunt: Baie stellings wat in die Manifes gemaak word, is n veralgemening van die werklikheid. In die verlede was die meeste vroue moontlik nie so suiwer beroepsgerig as mans nie, maar in die Onderwys het hierdie situasie in die onlangse tyd dramaties verander. Bekwaamheid speel n al groter rol om te bepaal watter gesagsposisie hetsy mans/vroue in die Onderwys beklee.
Onderwysstrategie 13:
Gee aandag aan HIV/VIGS en kweek n kultuur van seksuele en gemeenskapsverantwoordelikheid
.
Seksualiteit word beskryf as die mees innige ontmoetingsgeleentheid tussen mense waarbinne jong mense ook graag kan en wil eksperimenteer. n Ondersoek het aangetoon dat een derde van jongmense tussen 12 en 17 seksueel verkeer het..
Die hoë statistieke van HIV besmetting veral tussen die ouderdomme van 15 en 25 plaas n groot verantwoordelikheid op die onderwys om kinders te beïnvloed om n unieke rol te speel in die gang van die epidemie (pandemie?) en in die mededeling van die fundamentele waardes van die Grondwet..
Die onderwys word betrek om die VIGS-noodtoestand te bekamp onder andere deur inligting oor HIV en sy verspreiding in leerareas in te werk, om die lewenshouding van jongmense te verander om die verspreiding van die epidemie (pandemie?) te keer en om n produktiewe lewe vir hulle wat met HIV besmet is te verseker. Verder word n nasionale kon-ferensie oor HIV/VIGS in die onderwyssektor gereël en die Departement van Onderwys word met die "Tirisano program" verbind..
Inligting oor HIV/VIGS en seksuele opvoeding moet in die kurrikulum, op alle vlakke as verpligtend geïntegreer word..
Die opvoedkundige sektor moet ook gebruik maak van TV dramas en ander openbare media om die seksuele bewustheid te verhoog.Beoordeling:
. Hierdie pandemie het te make met die moraliteitskrisis in die Suid-Afrikaanse samelewing. Volgens die Manifes moet die pandemie HIV/VIGS gekeer word deur inligting oor HIV/VIGS en seksuele opvoeding op alle vlakke as verpligtend in die kurrikulum te integreer, uitgaande van die gedagte dat seksuele verantwoordelikheid uit selfrespek en selfkennis voortvloei en nie bloot uit bepaalde kennis nie.
.
Seksuele realiteit in verhoudings tussen geslagte kan nooit die vertrekpunt wees waarvoor sogenaamde veilige voorsiening gemaak moet word nie. Dit is sonde en oortreding van die wet van God. God verbied seksuele losbandigheid. Trouens, die mens is na die beeld van God geskape. Vir die Christen is die menslike liggaam n tempel van God en dit moet as woonplek van die Heilige Gees heilig gehou word..
Die mensgerigte benadering tot seksuele verantwoordelikheid en seksuele opvoeding is nie die werklike antwoord op die moraliteitskrisis en spesifiek op die voorkoms van HIV/Vigs in die Suid-Afrikaanse samelewing nie. Daar moet gevra word na die wil van God..
Die Manifes sluit aan by die hedendaagse sekulêre mens, wat seksualiteit verhef as die belangrikste en selfs enigste uitdrukking van jou diepste gevoelens en belewenis binne n verhouding. Die verhouding tussen man en vrou is tog by verre meer as `n geslag-fisiologiese verhouding. Dit is n Godgegewe gawe wat slegs binne die huwelik met verantwoording tot God en tot sy eer gebruik kan word..
Die enigste werklike antwoord is te vinde in n heilige en godverheerlikende lewe van kuisheid. Gehoor-saamheid aan die gebooie van God en dan spesifiek die 5de, 6de, 7de, 8ste, en 10de gebooie behoort aan die Suid-Afrikaanse jeug oorgedra te word..
Dit is daarom onaanvaarbaar indien sogenaamde "vrye seks" (voorhuwelikse en buitehuwelikse geslagsgemeenskap) as veilige seks gepropageer word. Die uitgangspunt moet wees: Geen vrye of veilige seks voor of buite die huwelik nie!Beoordeling vanuit God se kosmiese wetsorde:
.
Die sekulêre mens aanvaar vandag dat hy van die dier afstam, dat hy biologies, anatomies, fisies en chemies na die beeld van die dier gevorm is. Hy aanvaar ook dat as jy dors is, jy jou dors moet les. Net so sien hy seks as n natuurlike behoefte, wat bevredig moet word. As n mens met wildbewaarders gesels, kom jy gou agter dat byvoorbeeld elke boksoort sy eie samelewingstruktuur het, wat die verhouding tussen ramme en ooie in die trop bepaal. Hierdie samelewingstrukture in die dierelewe is deel van God se kosmiese wetsorde..
Samelewingstrukture is net so deel van God se kosmiese wetsorde as byvoorbeeld die wet op swaartekrag. Die mens leer hierdie wet ken deur ervaring en ook deur n wetenskapsbenadering. Hy gebruik hierdie wet in die ontwerp van brûe, opskiet van satelliete, en intuïtief in baie sportsoorte. Net so is die seksuele n krag tussen geslagte wat die sondige mens moet beheer met sy verstand volgens God se wetsorde. Dit is die Woord van God, wat aan ons openbaar wat die wetsorde is, waaraan die menselike geslag moet voldoen. In Genesis 1:27 vind ons die woorde: man en vrou het Hy hulle geskape, en daaropvolgend in Gen.1:28 word hulle geseën en word die kultuurmandaat aan hulle gegee met die opdrag om die aarde te vul. God het die huwelik ingestel. Hierdie instelling van God moet eerbiedig word. In Gen. 2:20-24 word die vrou beskryf as die hulp wat by die man pas. Hierby sluit Jesus aan met die beantwoording van die vraag oor egskeiding, soos verhaal in Markus 10:6-9. Die mens stel kinders in n groot versoeking as hy hulle voortydig seksueel ryp maak, wat die vertrekpunt van die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring is. Daarmee sondig die mens teen God se wetsorde en sy gebooie.
Onderwysstrategie 14:
Maak skole veilig vir leer en onderrig en verseker wetshandhawing
Die stelling word gemaak dat geen onderrig kan plaasvind in n vreesagtige en onwettige omgewing nie. As daar geen respek is vir die gesag van diegene wat die reg moet handhaaf, kan daar ook geen ontspanne atmos-feer wees nie.
Beoordeling: Op gesag van die Bybel erken die gelowige dat God oppergesag oor Sy skepping en daarom ook oor die mens het, omdat God die Skepper is. Die mens het van God afgeleide gesag ontvang om die kultuurmandaat te kan uitvoer. Daarmee beskik die mens oor die gesag om sy kinders op te voed volgens die verbond. Dit plaas die mens onder die verpligting om gesag oor sy kinders uit te oefen om sodoende n veilige atmosfeer vir leer en onderrig te verseker. Daarom is ouerinspraak, gebaseer op Bybelse beginsels en norme, onmisbaar by die opstel van elke skool se gedragskode. Ouers moet op hierdie verantwoordelikheid gewys word om die skool se gedragskode na te gaan.
.
Onderwysstrategie 15:
Etiek en die omgewing
In hierdie onderwysstrategie word opvoeding tot verantwoordelikheid behandel teenoor die omgewing, beide vanuit n perspektief van huidige behoeftes sowel as die behoeftes van toekomstige generasies [volhoubaarheid]. Die verband tussen sosio-ekonomiese omstandighede en omgewing en die bydrae wat opheffing van armoede tot verbetering van omgewingstoestande mag hê, word ook aangespreek. Laastens word die omvattendheid van die omgewingskwessie behandel. Dit sluit ook in stedelike sowel as plattelandse aspekte, lewenstyle, grondgebruikspatrone ensovoorts. Hoewel die begrip van Bybelse rentmeesterskap nie pertinent hier genoem word nie, kan dit deur ons as Christene maklik daarin gelees word. Oor die algemeen kan die strekking van hierdie hoofstuk deur ons ondersteun word.
Onderwysstrategie 16:
Kweek nuwe patriotisme en bevestig ons gemeenskaplike burgerskap
n Onderliggende strategie word vir die bevordering van die waardes in skole aangespreek. Die bevordering van ons nasionale simbole [soos die volkslied, die vlag, landsblom, -dier, en voël] by skole word bepleit. Aan skole word opgedra om vanuit die skool in die gemeenskap diens te lewer asook om n eie etos en simbole by die skool te ontwikkel wat die waardes en identiteit van die skool weerspieël. Lojaliteit teenoor die skool se simbole kan dan as leerskool dien vir lojaliteit teenoor die nasionale simbole.
As Christene kan ons hierdie gedagtes slegs aanvaar as ons die simbole nie binne die konteks van die staat se gerigtheid tot selfverheffing sien nie, maar gerig op ons primêre lojaliteit teenoor die Koninkryk van God. Tweedens behoort hierdie gedagtes ook voldoende voorsiening te maak vir diversiteit binne die groter nasionale eenheid.