Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Kerk en demokrasie: Sinodekrasie!

AKTUEEL: Gereformeerde Kerk Waterberg gaan oor tot 'n staat van doleansie       

SKRIFOORDENKING:
Die enige ware God (Deut 6:4)

Die gat van Pase

Die Kategismuspreek

GKSA Sinode Januarie 2003 Verslag met kommentaar

"Ons weet nie" Opmerkings oor huidige bybeluitleg

Professor Klaas Schilder  (1890 - 1952)

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nuwe Redakteur vir "Die Kerkblad"

Sinodale persverklaring oor omstrede belegging van    R680 000

Beker of kelkie by nagmaalvierings in die GKSA nou aan besluitneming van plaaslike kerke oorgelaat

Die nuwe psalmboek

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Ewolusieleer 'n verpligte vak in skole

Evolusie en die Bybel - Kan hulle versoen word?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Wanneer Kerke 'n gevaar word

Sononder of dagbreek?

PERSRUBRIEK: 
Sinode 2003 - 'n Nuwe koers vir die GKSA?

Danie Theron en Afrikanervryheid

10 Kerke doen studie oor doodstraf

Teologie : Westerse neerslag

Versterk ons eie politiek

Mededeling van die Gereformeerde Kerk Pretoria - Kandelaar aangaande jongste sinode-uitsprake

Sinode 2003 - 'n Nuwe koers vir die GKSA - Verhouding skrif en praktyk

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die Bybel leer ons wat goed is

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 2 Maart 2003

SKRIFOORDENKING

PETRUS EN DIE HAAN SE GEKRAAI

Johannes 18:1-27

-    PROF GJC JORDAAN   -     POTCHEFSTROOM   -

En Simon Petrus het hom staan en warm maak. En hulle sê vir hom: Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie? Toe ontken hy dit en sê:  Ek is nie.                                      (Joh 18:25)    (Joh 18:25)

Dit was koud daardie nag toe Jesus verraai en gevange geneem is. Teen die begin van April het die laaste winterkoue nog in die lug gehang. Johannes sê dit ook in soveel woorde in vers 18: "Dit was koud." Geen wonder nie dat die hoëpriester se dienaars daar in die binnehof van sy paleis ’n koolvuur aangesteek het om die vroeë-oggend se koue te verdryf nie.

Simon Petrus, so lees ons in vers 18 en weer in vers 25, het daar by hulle gestaan en hom warm gemaak. Hoe het hy daar beland? Johannes vertel in vers 15 dat Petrus saam met ’n ander dissipel Jesus en die soldate van Getsemane af gevolg het tot daar by die paleis van die hoëpriester. Waarskynlik was sy bedoeling goed: hy wou naby sy Meester wees in die uur van nood. Daarom het hy die geselskap wat Jesus gevange geneem het, gevolg.

Maar Jesus wou nie hê dat sy dissipels moes saamkom nie. Daarom het Hy by sy gevangeneming uitdruklik vir die soldate gesê dat sy dissipels toegelaat moet word om weg te gaan (vers 8). Maar Petrus, die immer-voortvarende dissipel, het ander planne gehad. Hy ruk sy swaard uit en kap Malchus se regteroor af. Maar Jesus bestraf hom: "Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader my gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?" Ook om hierdie selfde rede moes Jesus se dissipels Hom in daardie laaste ure verlaat, want deel van die beker wat Hy moes drink, was om alleen, van almal verlate (Jes. 53:3), die smarte van die hel te ly, tot die dood toe. Ja, in daardie laaste uur is Hy selfs deur God verlaat.

Maar Petrus wou steeds nie kopgee nie. In sy voortvarendheid het hy saam met ’n ander dissipel Jesus bly volg, tot by die hoëpriester se paleis - waarskynlik op ’n veilige afstand, want hy het besef dat hy hom op gevaarlike terrein bevind. En daar, by die hoëpriesterlike paleis, het Petrus se voortvarendheid hom tot op die punt gebring waar hy Jesus drie maal verloën het, net soos die Here Jesus vroeër daardie nag gesê het gaan gebeur (Joh. 13:28).

Die verloëning het nie eensklaps ge-beur nie. Dit was bloot die dieptepunt van ’n maalkolk waarin Petrus stel-selmatig daardie nag ingesuig was. Wat het daar met Petrus gebeur? Eers het hy buitekant die deur bly staan (vers 16). Hy het besef dat die geselskap daarbinne ’n onheilige geselskap was, waar hy nie tuishoort nie. Maar die warm koolvuur het so heerlik gewink en die koue hierbuite het al ondraagliker gevoel. Daarom, toe die geleentheid hom voordoen, het Petrus ingegaan, selfs al het dit van hom geverg om sy eie verbondenheid aan Jesus te ontken: "Nee, ek is nie een van sy dissipels nie."

So het dit gekom dat Petrus hom daar by die koolvuur van Jesus se vyande staan en warm maak het. Ter wille van oorlewing, sou hy homself kon verontskuldig, maar die prys wat hy daarvoor moes betaal, het al groter geword. ’n Tweede keer word hy gekonfronteer met die vraag: "Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?" Immers, iemand wat aan Jesus verbonde is, hoort nie in hierdie kring om die koolvuur nie. Hierdie keer kom die antwoord nog makliker: "Ek is nie." ’n Derde keer word hy gekonfronteer, hierdie keer deur iemand wat hom herken het. ’n Derde keer verloën Petrus vir Jesus: "Waarlik, ek ken nie daardie man van wie julle praat nie" (Markus 14:71).

Toe kraai die haan. Net soos Jesus gesê het. En onmiddellik het Petrus besef waar hy hom bevind: in die kring van Jesus se vyande. Hy het ook besef dat hy, ter wille van sy eie gemak en aanvaarding deur sy omstanders, hy homself in ’n maalkolk laat insuig het tot op die punt waar hy Jesus blatant verloën het - hy, Petrus, wat homself vroeër bereid verklaar het om sy lewe vir Jesus te gee (Joh. 13:37). Tot in sy siel teleurgesteld in homself, het Petrus buitentoe gestorm en bitterlik gehuil (Matt. 28:75).

Hierdie geskiedenis van Petrus is vir ons as waarskuwing opgeteken, ons wat in sondige oormoedigheid ons graag staan en warm maak by die koolvure van die goddelose wêreld. Dit lyk so heerlik warm daar by hulle, veral soos hulle hulle koolvure op televisie en in rolprente propageer. Kort voor lank laat ons onsself wysmaak dat dit "hier buite" in die kerk maar koud en onherbergsaam is. En as die geleentheid hom voordoen, waarom nie ingaan en ’n bietjie in die wêreld se pret deel nie? So het baie mense, selfs kerkmense, hulleself in die maalkolk van die wêreld laat insuig en op die ou einde hulle vingers erg verbrand. Agterna kom die trane.

As ons ons voete op daardie pad begin sit, word ons gewoonlik op een of ander manier met die Petrusvraag gekonfronteer: Is jy dan nie een van sy dissipels nie? Soms kom die vraag in ’n effens ander vorm op ons af: Is jy dan nie ook ’n Gereformeerde nie, iemand wat hom daartoe verbind het om met volle oorgawe in alles wat jy sê en besluit en doen, die Here se Woord na te volg nie? Waarom wil jy dan kom staan in die kring van moderne wetenskap? Gereformeerdes is mos fundamentalisties, mense wat naïef aan die Bybel vashou as die gesagvolle, Gees-geïnspireerde Woord van God. En iemand wat sulke uitgangspunte handhaaf, is nie tuis in die geselskap van wetenskaplike teoloë nie. So word ons dikwels as Gereformeerdes met die Petrusvraag gekonfronteer.

Hoe antwoord ons op die vraag? Die vrees om "buite in die koue gelaat te word" plaas groot druk op ons, sodat die antwoord dikwels maklik kom: Nee, ek is nie een van hulle nie. Of: Ja, ek is lid van die Gereformeerde Kerk, maar ek is bereid om skiet te gee op die gevestigde Gereformeerde siening dat elke woord in die Bybel God se Woord is waarmee Hy met Goddelike gesag ook nou in die 21e eeu met ons praat. Soos die res van julle hier om die koolvuur, dink ek ook ’n mens moet sekere dele van die Bybel maar as irrelevant vir ons tyd beskou. Ek is Gereformeerd, maar ek dink dat altyd-reformeer beteken dat die kerk bereid moet wees te verander volgens die eise van ons tyd.

So klink die eerste antwoord van Gereformeerde toegewing. Maar met daardie eerste toegewing werp ons onsself in die maalkolk waarin altyd meer toegewings gevra word. Totdat ons in die situasie beland waar hulle vra: "Glo jy werklik dat Jesus ons Verlosser is en dat daar buite Hom geen saligheid is nie?" Teen daardie tyd is ons al so warm gebak by die koolvuur dat ons bereid sal wees om ewe diplomaties só ’n dubbelsinnige antwoord te gee dat niemand sal aanstoot neem nie.

Niemand nie, behalwe die Here. In Lukas 9:26 hoor ons die Here Jesus sê: "Elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid." Vir so iemand loop dit uit op ’n geween en ’n gekners van die tande.

Daardie koue, donker nag in Petrus se lewe was egter nie sy einde nie. Die nag het vir hom in baie trane en diepe droefheid geëindig. Maar daardie trane was trane van berou, en daarom die begin van sy terugkeer na die Here toe. Want die Here was ook nie met Petrus klaar nie. Na sy opstanding stuur Jesus ’n boodskap aan die dissipels en uitdruklik ook aan Petrus dat hulle Hom in Galilea sal sien (Markus 16:7). En daar in Galilea praat die opgestane Here self met Petrus: "Laat my lammers wei. Pas my skape op. Laat my skape wei." Ja, Petrus het geval, maar deur die genade van die Here het hy weer opgestaan en word hy uitgestuur as apostel van die Here.

Teenoor die lokstem van die godde-lose wêreld wat wil hê ons moet ons by hulle koolvure gaan staan en warm maak, kom die roepstem van ons Here. Hy sê: "Onthou dan wat jy ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou" (Openb 3:3). "Kyk," sê Hy, "Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie. Wie oorwin, Ek sal hom ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie." "Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees sê" (Openb 3:12).