Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 2 Maart 2003
SINODE 2003 - 'N NUWE KOERS VIR DIE GKSA?Prof GJC (Jorrie) Jordaan skryf in sy redaksionele kommentaar in Die Kerkblad van 29 Januarie 2003 (bl 5,6), die laaste uitgawe wat hy as redakteur behartig het, oor die "Ekumeniese implikasies" daarvan.
As die GKSA 'n nuwe koers sou inslaan, sal dit besliste ekumeniese implikasies vir ons hê. Die nuwe koers mag ons dalk nader aan die Nederduits Gereformeerde Kerk hier in Suid-Afrika, die Christian Reformed Churches in North America en selfs die Gereformeerde Kerken in Nederland bring.
Maar terselfdertyd is dit 'n koers wat die GKSA verder laat wegbeweeg van 'n beduidende deel van die Gere-formeerde wêreld, soos die Reformed Church of New Zealand, die United Reformed Church of North America, die Christelik Gereformeerde Kerken en die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) in Nederland.
Dat gereformeerdes met wie ons in korrespondensie is, die gevare van 'n koersverandering by die GKSA raaksien, het by die Sinode self aan die lig gekom. Rev John Rodgers, verteenwoordiger van die Reformed Church of New Zealand, het aan die einde van die Sinode juis die vrees uitgespreek dat Sinode 2003 se besluit insake vroue in die amp die bande tussen die Nieu-Seelandse Gereformeerde Kerke en die GKSA in gedrang gaan bring. Ook rev Sikkema, afgevaardigde van die United Reformed Church of North America, het aangedui dat die pogings om bande met die GKSA aan te gaan, met hierdie Sinode 'n ernstige knou ontvang het.
Dit mag dan blyk dat die GKSA met Sinode 2003 'n pad betree het wat hom wel nader laat beweeg aan 'n ander deel van die gereformeerde wêreld as dié met wie ons nog tot dusver bande gehad het. As dit wel die geval is, dan beteken dit 'n drastiese koersverandering vir die GKSA.