Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 2 Maart 2003
DANIE THERON EN AFRIKANERVRYHEID
SM BIEHL van Eldoraigne verskil in die briewekolom van BEELD, Dinsdag 4 Maart, van prof Fransjohan Pretorius se siening dat Danie Theron as 'n breër vry-heidstryder gesien behoort te word. ...Hy skryf daaroor as volg:
Daar is nie iets soos 'n algemene vryheidstryd nie. Vryheid kan net binne die verband van 'n sekere groep gemeet word.
Danie Theron het geveg vir vryheid van die Afrikanervolk teen Britse oorheersing, nie vir die nuwe Suid-Afrika se vertolking van vryheid synde meerderheidsoorheersing nie.
Theron kan net so min deur nie-Afri-kaners as vegter vir hul vryheid aanvaar word soos wat swart vryheidsvegters vir Afrikaners se vryheid aanvaar kan word.
Vryheid is nie objektief en dieselfde vir almal nie. Theron het geveg vir soewereine vryheid van die Afrikaner of Boerevolk, wat op die strewe na 'n eie republiek en later die verdediging daarvan neer-gekom het.
Omdat hy dié ideaal gehuldig het, word hy deur talle Afrikaners, ook in die stad en beslis nie net die groep wat as verkrampte verregses beskou word nie, as vryheidsvegter aanvaar en geëer.
Trouens, die afgelope tyd is daar 'n hernieude belangstelling in Theron, sonder dat of miskien omdat hy nie tot "strugle-hero" herinterpreteer is nie.
'n Mens kan begrip en respek hê vir vryheidsvegters van ander volke.
As ministers hul respek vir Theron of Christiaan de Wet betoon, het 'n mens waardering daarvoor. Afrikaners kan ook begrip en respek vir vryheidsvegters van ander volke betoon.
Maar ons kan nie so ver gaan om met enige vryheidsvegter te vereenselwig asof dit kastig ons eie vryheidstryd is nie.
Wat geskiedenisherinterpretasie vir die doeleindes van breinspoeling betref, is daar twee maniere wat eintlik maar net twee kante van dieselfde munt is: die een manier is om 'n volk se helde af te breek en net klem op hul slegte dade te plaas. Die volk begin dan skaam kry vir hulle en wil niks meer met hulle te doen hê nie.
Die ander is om 'n volk se helde so inklusief te maak dat hulle hul kenmerkendheid verloor. Vir die volk het hulle dan geen groot trekkingskrag meer en gryp nie meer die verbeelding aan nie, want die held het dan volgens die nuwe interpretasie vir 'n ander vryheid geveg.