Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 2 Maart 2003
VERSTERK ONS EIE POLITIEK
- PROF AWG RAATH - UOVS BLOEMFONTEIN -
Gepubliseer in en oorgeneem uit DIE BOODSKAPPER, Maart 2003
Die Afrikaner-kerkvolk van gereformeerde oortuiging in Suid-Afrika word tans voor 'n besliste keuse gestel - enersyds kan die weg van politieke opportunisme gekies word en gemenesaak met die politieke gang van sake, afgesien van godsdienstige geskille, gemaak word; andersyds kan die weg van Reformatoriese oortuiging gekies word, hoe min daarvan tans ook al in ons land teregkom. Welke keuse die Afrikaner-kerkvolk ook mag maak, moet die besef egter steeds wees dat verantwoording teenoor God en die verbondsnageslagte van die toekoms gedoen sal moet word. Dit is voor hierdie keuse wat gelowige Afrikaners tans staan.Telkens in die geskiedenis
Gelukkig daardie volksgenote wat, gekonfronteer met die verval, geweld, politieke leuenagtigheid van die dag en die onetiese optrede van staatslui - ook blanke politici - steeds aan die Woord getrou lewe, en vir wie die keuse 'n eenvoudiger een is - alhoewel die uitlewing van die politieke keuses wat ons maak nie so maklik is nie omdat dit groot offers van ons vra. Dit is in hierdie verband dat die taak van kerk en volk van deurslaggewende belang is om aan ons verslae geloofsgenote leiding en ondersteu-ning te gee. Die wonderlike troos is egter dat gelowiges in tye van revolusie en verval telkens in die geskiedenis voor hierdie keuse te staan gekom het. In Genève was dit Calvyn wat die leiding geneem het in die stryd teen die Anabaptisme en die vestiging van 'n gesonde Gods- en volksregering; In Zürich was dit veral Zwingli wat die verset teen die Roomse invloed en die Anabaptisme gelei het; in Stassburg het Bucer en Vermigli dieselfde krisisse megemaak ten einde politieke en staatkundige instellings van gereformeerde inslag op te rig. Uit die optrede van hierdie gereformeerde geloofsvadere kan ons steeds vandag waardevolle lewenslesse put.
Uit die geskiedenis van die Reformasie van die sestiende en sewentiende eeue staan 'n paar belangrike ligpunte uit - ook ligpunte wat in ons eie volksgeskiedenis vir gelowige voorgeslagte bakens op die politieke pad was.
Eie gemeenskapslewe
Die eerste ankerpunt op die weg van politieke en staatkundige vryheid is die versterking van ons gereformeerde volksgemeenskap. Sonder 'n Christelike gemeenskap waarin die gereformeerde waarheid kan gedy en ontwikkel; waarin verbondsouers en -kinders hul kan tuisvoel en uitleef; waarin Boerevolksgenote hul aan die handhawing van hul eie onderwysinstellings en godsdiensonderrig kan toewy; waarin volksgenote kan meewerk om dié wat verarm en verwaarloos is finansieel te ondersteun en te help; waarin volksgenote in hul eie gemeenskappe kan saamwerk om hul veiligheid en besittings te kan beskerm, kan die sade vir toekomstige politieke en staatkundige vryheid en selfstandigheid nie ontluik en ontkiem nie. Die versterking van ons Christelike gemeenskapslewe het vir ons voortbestaan van deurslaggewende belang geword. Hierin kan ons kerklike instellings oor die algemeen en gemeentelike lewe in besonder 'n wesentlike rol speel. Die klein groepies gelowiges in die tyd van die Hugenote, in Genève en in Zürich, het mekaar gedra en ondersteun en die grondslag vir die gereformeerde gemeenskapslewe gelê waar-op maatskaplike en politieke strukture gevestig kon word.
Dink Bybels oor politiek
Tweedens mag die Bybelse eise vir gereformeerde politieke instellings nie verflou nie. Die gevaar is dat opkomende geslagte so deur die kultuur (en godsdiens) van die nuwe Suid-Afrika meegevoer kan word, dat die eise vir gereformeerde politieke instellings geleidelik in ons volkslewe begin verflou. Die kerklike, gesins- en skolastiese opvoeding in die Bybelse politieke beginsels is in ons volkslewe van deurslaggewende belang. Om hierdie rede het reformatore soos Calvyn, Bullinger, Zwingli, Bucer en andere geen steen onaangeroer gelaat om die Bybelse opvoeding vir kinders van gelowige ouers 'n werklikheid te maak nie. Ook in ons eie volkslewe is kinders uitvoerig onderrig in die Heidelbergse Kategismus en Ursinus se Skatboek ('n kommentaar op die Kategismus); in Wilhelmus a Brakel se uiteensetting van die gereformeerde geloofsleer (Redelike Godsdiens); Heinrich Bullinger se preekbundel met die titel Huisboek, ensomeer. Ook Calvyn se Institusie het in die opvoeding van verbondskinders besondere aandag gekry.
Daardie waarhede staan tot vandag as ligbakens van ons gereformeerde oortuiging. So skryf Calvyn byvoorbeeld dat die burgerlike regering die uiterlike godsdiens moet ondersteun en beskerm, die gesonde leer van die vroomheid en die instelling van die kerk moet verdedig, ons lewe in te rig in 'n gesonde samelewingsverband, ons sedes te vorm volgens die die burgerlike geregtigheid, ons met mekaar te verenig en die gemeenskaplike rus en vrede moet bevorder (Institusie, IV:20:3).
Dit is hierdie beginsels wat vir alle owerhede, te alle tye geld omdat ons glo "dat ons goeie God vorste en owerhede verorden het vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag, omdat dit sy wil is dat die wêreld regeer moet word deur wette en regerings, sodat die losbandigheid van die mense bedwing kan word en alles met goeie orde onder die mense kan geskied." Calvyn voeg by: "Vir dié doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoenders te straf en die vromes te beskerm. Hierdie amp geld nie alleen die ag gee op en waak oor die burgerlike regering nie, maar ook die hand te hou aan die heilige kerkdiens om te weer en uit te roei alle afgodery en die valse godsdiens en die ryk van die antichris ten gronde te rig, die koninkryk van Jesus Christus te bevorder en die woord van die Evangelie oral te laat preek sodat God deur elkeen geëer en gedien kan word soos Hy in sy Woord beveel."
Geagte volksgenote, hoe verwaarloos ons hierdie kragtige getuienis en hoe min gebedskrag demonstreer ons deur in ongeloof die huidige owerhede nie te vermaan, aan te spreek en bowenal te bid dat die Afrikanervolk uit ballingskap in sy eie land mag teregkom waar ons die Here in vrede kan dien en aanbid nie - al moet ons gebede vir sewentig jaar of selfs sewe-honderd jaar aanhou en ons vir geslagte op ons knieë ootmoedig voor die Here staan.
Gelowige verankering op eie bodem
Derdens maak dit weinig sin dat die stryd vir politieke en staatkundige instellings op gereformeerde grondslag gestalte kry, indien die volkslewe nie 'n grondgebied het waarbinne 'n orde en -kultuur kan groei en ontwikkel nie!
Maar, geagte volksgenote, die Here lei, ondersteun, dra en bevry sy kinders in hierdie wêreld - ook in Suid-Afrika - nie deur hulle van alle teenspoed weg te raap en hulle die stryd te spaar nie, maar deur hulle deur die gevare en teenspoede heen te dra Dit is hierin waar groot geloof gevra word, soos met die Trekkers gebeur het toe alles verlore gelyk het en die moorde, rampspoed en ellende in Natal hulle daartoe gebring het dat sommige van die mans eerder na die Kolonie wou terugkeer. Dit het ook gebeur in die tyd van Jeremia toe die leër van die koning van Babel Jerusalem beleër het en die profeet Jeremia selfs opgesluit was (Jer 32). Jeremia het die ongehoorde ding gedoen om in tyd van politieke onstabiliteit, besetting van die land deur die goddelose en heidense Babiloniërs, 'n stuk grond te koop teen 'n (vir sommige mense 'n buitensporige) prys, omdat die Here uit hoofde van sy verbondstrou gesê het: "Daar sal weer huise en gronde en wingerde in hierdie land gekoop word," en Jeremia in die geloof kon antwoord: Ag Here HERE, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie ... want U het aan hulle vaders met 'n eed beloof ... om aan hulle te gee 'n land wat oorloop van melk en heuning; en hulle het gekom om dit in besit te neem, maar nie na u stem geluister en in u wet gewandel nie; alles wat U hulle beveel het om te doen, het hulle nie gedoen nie. Daarom het U al hierdie onheil oor hulle laat kom. Teen die einde van dié hoofstuk en in hoofstuk 33 kom die Here se belofte van herstel: Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie, en dan ook die verdere belofte: Kyk, Ek laat vir hom genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar 'n oorvloed van duursame vrede.
Sal die Here dit nie ook doen aan sy Geloftevolk indien hulle hul tot die herstel van die verbond verbind deur die Here weer aan te roep nie? Vir die geloofsvolk wat hom waarlik verootmoedig en aan die Here se verbondseise getrou bly, sal daar weer herstel kom - nie in die VSA, Engeland, Australië en elders in die wêreld nie, maar hier in ons eie vaderland! Dit is die belangrikste - indien die erwe van ons vadere vir ons kinders erwe moet bly, sal die gereformeerde Afrikaners van hierdie land moet leer om te lewe volgens die verbondseise van die Woord, volgens die gereformeerde leer van ons geloofsvadere en met die uitsig van gelowiges wat hierdie land as hul enigste politieke tuiste sien. Om politieke vryheid en staatkundige herstel in die toekoms te geniet, moet gelowige Afrikaners hul tasse vir die reis na vreemde wêreldoorde uitpak en hul lewensroepings getrou aan God se Woord en roeping in ons vaderland uitleef en gelowige volksgenote help en ondersteun om dieselfde te kan doen.
Prof dr AWG Raath, (UOVS, Departement Staats-filosofie, Voorsitter van die Vereniging vir Christe-like Hoër Onderwys, Bloemfontein) was 'n bekende lidmaat/ouderling van die Nederduitsch Her-vormde Kerk in Bloemfontein. Hy het hom, saam met sy gesin, daaraan onttrek en enkele weke gelede gevoeg by die Gereformeerde Kerk te Orania, waarvan hulle verspreidwonende lidmate geword het.
PROF AWG (ANDRIES) RAATH VOEG HOM BY DIE GEREFORMEERDE KERK VAN ORANIA
Hy verantwoord dit as volg:
Die redes vir ons oorgang hou verband met drie wesenlike fasette van die aantasting van die ware Gereformeerde leer:(1) Die suiwer verkondiging van die Woord - vanweë onskriftuurlike Woordverkondiging, tot die mate dat dit aan louter eiewillige Skrifverdraaiing grens, was ons as gelowiges genoodsaak om die ware
gemeenskap van die gelowiges elders op te soek. Die geestelike revolusie wat ons vaderland tans teister het die kerke van gereformeerde oortuiging nie onaangeraak gelaat nie. Wanneer leraars van die kerk sonder skroom vrysinnig in- of -uitleg van die Woord pleeg tot die mate dat die geloof van die kerkvolk daardeur skade lei, is gelowiges genoodsaak om hul na die prediking van die suiwer leer te wend. Voorts word van gelowiges verwag om die Here volgens sy eise en nie volgens menslike opdrag of wens te aanbid nie. Wanneer die nuwe sogenaamde "Liedboek" deur die kerk aanvaar word en in gemeenteverband gebruik word, is die intrede van die metodisme en revivalisme reeds ver gevorder - dit alles in stryd met die Reformatoriese leer oor die gebruik van sang in die erediens.(2) Die suiwer bediening van die sakramente - Mensgemaakte instellings, gebruike en selfs aanstelling oor die sakramente deur dit volgens menslike giere in te rig, maak n bespotting van die Naam en heiligheid van die Here van die kerk, tot die mate dat lidmate wat deel daaraan neem, aktief meewerk daartoe om die ware aard van kerkwees te vernietig. Wanneer leraars en kerkraadslede wat oor die suiwerheid van die sakramente en die leer moet waak hulself nie aan die Woord wil onderwerp nie, het lidmate van gereformeerde oortuiging geen ander keuse as om hulle van die kerk los te maak en die gemeenskap van die gelowiges elders op te soek nie.
(3) Die handhawing van die opsig en toepassing van die tug - Die kerk wat weier om in ooreenstemming met die Skrif, die opsig en tug te handhaaf, is n kerk wat uiteindelik die weg van vrysinnige eiewilligheid bewandel; dit is n kerk wat in liefdeloosheid sy lidmate aan die wolwe van eiesinnige optrede oorlewer. In so n kerk moet die wil van die meerderheid uiteindelik botvier ten koste van die sui-werheid van die leer. Wanneer kerkrege-ring soos politieke demokratisme funk-sioneer, laat dit vir gelowiges van gereformeerde oortuiging geen ander uitweg as om hul lidmaatskap in heroorweging te neem nie. Waarskynlik die duidelikste tekens van verval met betrekking tot die gebrek aan erns oor die regering van die plaaslike gemeente kom aan die lig wan-neer n ouderling wat tot n Ouderlinge-bestuur verkies word openlik verklaar dat hy dit nie kan aanvaar nie, omdat dit op sy weeklikse kaartspel inbreuk maak!
Dit is om hierdie redes wat ek en my gesin ons gevoeg het by die Gereformeerde gemeente van Orania sodat ons die vreugde en seën van ware kerkwees kan geniet.
Heil in Christus word u toegebid.
A.W.G. Raath en gesin.