Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Kerk en demokrasie: Sinodekrasie!

AKTUEEL: Gereformeerde Kerk Waterberg gaan oor tot 'n staat van doleansie       

SKRIFOORDENKING:
Die enige ware God (Deut 6:4)

Die gat van Pase

Die Kategismuspreek

GKSA Sinode Januarie 2003 Verslag met kommentaar

"Ons weet nie" Opmerkings oor huidige bybeluitleg

Professor Klaas Schilder  (1890 - 1952)

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nuwe Redakteur vir "Die Kerkblad"

Sinodale persverklaring oor omstrede belegging van    R680 000

Beker of kelkie by nagmaalvierings in die GKSA nou aan besluitneming van plaaslike kerke oorgelaat

Die nuwe psalmboek

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Ewolusieleer 'n verpligte vak in skole

Evolusie en die Bybel - Kan hulle versoen word?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Wanneer Kerke 'n gevaar word

Sononder of dagbreek?

PERSRUBRIEK: 
Sinode 2003 - 'n Nuwe koers vir die GKSA?

Danie Theron en Afrikanervryheid

10 Kerke doen studie oor doodstraf

Teologie : Westerse neerslag

Versterk ons eie politiek

Mededeling van die Gereformeerde Kerk Pretoria - Kandelaar aangaande jongste sinode-uitsprake

Sinode 2003 - 'n Nuwe koers vir die GKSA - Verhouding skrif en praktyk

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die Bybel leer ons wat goed is

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 2 Maart 2003

SINODE 2003  -  'N NUWE KOERS VIR DIE GKSA?

Verhouding Skrif en praktyk

- PROF GJC (JORRIE) JORDAAN  -   TEOLOGIESE SKOOL POTCHEFSTROOM  -

Oorgeneem uit redaksionele artikel Die Kerkblad, 29 Januarie 2003, bl 4, 5

Die eenheid van die GKSA is geleë in die feit dat al die kerke wat tot een kerkverband saamgevoeg is, hulle eenheid in Skrif, Belydenis en Kerkorde vind. Besluite wat die kerke neem, ook waar hulle saam in sinode is - soos nou weer in 2003 - word bo alles in die Skrif gegrond. Daarom is die vraag na Skrifberoep (begronding in die Bybel) altyd 'n belangrike vraag by alle besluitneming.

Uit die debatte wat op die Sinode gevoer is, wil dit egter voorkom dat daar in die GKSA twee verskillende maniere van Skrifberoep bestaan. Hoewel almal hulle op die Bybel beroep, word die Bybel op verskillende maniere hanteer. In breë trekke lyk dit of hierdie verskillende maniere saamhang met die vraag na die verhouding tussen Skrif en praktyk.

Een manier van Skrifberoep is om vanuit die Skrif na die praktyk toe te redeneer. Dit is die ou, gevestigde manier van Skrifberoep in die gereformeerde wêreld. Die sake waaroor besluit moet word, word dikwels deur praktiese omstandighede bepaal, maar in die besluitneming word dan die sola-Scriptura-vraag gevra: "Watter lig gee die Bybel?" In die lig van wat die Skrif leer, word dan besluite oor die praktyk geneem.

Die ander manier van Skrifberoep is om vanuit die praktyk na die Skrif toe te redeneer. In hierdie benadering word ook gevra na wat die Bybel leer, maar dan word dit opgeweeg teen die eise van die praktyk. Binne hierdie benadering is dit dan geldig om saam met die Skrifstudie ook te vra na wat die mense wil hê.

Dit lei tot vrae soos: Hoeveel vroue is daar wat te kenne gegee het dat hulle graag in die besondere ampte wil dien? Hoeveel gemeentes is daar wat alreeds die Nagmaal met kelkies vier? Hoeveel gemeentes is daar wat alreeds vrye liedere in hulle eredienste sing?

Dit is wel in orde om die situasie in die praktyk in ag te neem. Kerklike besluite kan nie in die lug hang nie. Maar wanneer die situasie in die praktyk die vertrekpunt word wat ook die Skrifgegewens in 'n ander lig moet stel, dan word 'n nuwe pad opgegaan.

Sinode 2003 is nou afgehandel en die besluite wat geneem is, staan (art 31 KO), maar dit onthef die kerke nie van die roeping om te besin oor die vraag of ons in ons besluitneming op die regte wyse met die Skrif omgaan nie. In hierdie verband is dit insiggewend om kennis te neem van wat elders in die gereformeerde wêreld gebeur het.

In 1990 het prof HJB Combrinck in die Ned Geref Teologiese Tydskrif (31 [4]: 509-519) opgemerk dat die verandering in die NG Kerk se standpunt oor die vrou en die besondere ampte op "verskuiwinge ten opsigte van Skrifgebruik en Skrifbeskouing dui". In Apeldoorn verlede jaar het die doktorale proefskrif van dr Koen Lim, getitel: "Het spoor van de vrou in het ambt", dieselfde verskuiwing in Skrifgebruik by die Nederlandse kerke blootgelê.

Dr Lim toon aan dat die hermeneutiek wat in 1965/66 deur die Gereformeerde Kerken in Nederland gebruik is om vroue tot die amp toe te laat, in wese die Skrif as tydgebonde hanteer het. Destyds al het die bekende prof HN Ridderbos gewaarsku dat in die Skrifberoep waarop die vrou in die amp toegelaat word "'n nuwe vorm van Skrifuitleg funksioneer". Dr Lim dui in sy proefskrif aan dat hierdie "nuwe vorm van Skrifuitleg" later in 1979 uitgeloop het op 'n veranderde Skrifbeskouing wat een van die hoofsake was waarom die GKSA daarna bande met die Gereformeerde Kerken in Nederland beëindig het.

Die verloop van die onlangse geskiedenis van kerke binne die gereformeerde dampkring behoort dan as waarskuwing te dien dat die GKSA nie ewe houtgerus agteroor mag sit asof ons dan gearriveerd-gereformeerd is nie. As ons nie wakker is nie, kan nuwe maniere van Skrifgebruik ongemerk by ons binnekom wat die GKSA onwetend 'n nuwe koers laat inslaan en wat ons by 'n bestemming uitbring waarheen ons nie aanvanklik op pad was nie.