Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 2 Maart 1999
OPVOEDING EN ONDERWYSDIE AKADEMIE VIR CHRISTELIK-VOLKSEIE ONDERWYS
(ACVHO)
'n Geloofs- en Wonderdaad
DR PE VAN DER DUSSEN - REGISTRATEUR
Op 31 Januarie 1996 het die Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys as 'n geloofsdaad tot stand gekom. Na drie jaar staan die ACVHO daar - as wonderdaad. Dit is 'n instelling vir hoër onderwys binne Verbondsverband en binne volksverband. Uitgaande van die slagspreuk: "Daar staan geskrywe" aanvaar die Akademie die Drie Formuliere van Eenheid van die Christelike geloof as die skriftuurlike uiteensetting van die ware leer van die Woord. Gekoppel daaraan gaan hy daarvan uit dat die Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing, wat uit die belydenisskrifte voortspruit, die geestelike wortel van die Afrikanervolk is. Sy wetenskapsbeskouing en -onderrig geskied op ten volle geïntegreerde wyse vanuit hierdie grondslae met die oogmerk om die studente en dosente tot volle roepingsontplooiing te bring. Om dit te bewerkstellig, moet elke student 'n driejaarkursus in Calvinistiese Wysbegeerte en Wetenskaps-leer en 'n tweejaarkursus in Skrifleer slaag.
Toe die Beweging vir Christelik-volkseie Onderwys (BCVO) op 30 September 1995 op 'n buitengewone kongres besluit het dat die Akademie so gou moontlik as die naskoolse of tersiêre arm van die Beweging tot stand gebring moes word, is totaal nuwe terrein betree. Altans, nuwe terrein vir hierdie tyd en geslag. Daar was voorbeelde: Dr Abraham Kuyper se Vrije Universiteit van Amsterdam, wat meer as 'n eeu gelede opgerig is; die Calvin College te Grand Rapids in die VSA; die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys te Potchefstroom. En ver in die verlede die voedingsbron van hierdie instellings: L'Acadèmie de Calvin wat in 1559 in Genève opgerig is en van meet af aan 'n saamtrekpunt van die Skrifgebonde reformatore geword het - studente sowel as dosente en besoekers. Tot hierdie ry van instellings het die Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys op 31 Januarie 1996 toegetree.
Dat daar in hierdie tyd van ontkerstening en toenemende kerkloosheid 'n nuwe instelling van Christelike oortuiging tot stand kom, is op sigself buitengewoon. Die Woord leer egter: Drukking van melk bring botter voort. Eerder moet die ontstaan van die Akademie gesien word as die antwoord van verbonsgelowiges op dié ontkerstening en die aanslag van daaruit op die onderwys.
Sedert 1989 ontstaan eers die Raad en daarna die Beweging vir CVO - onderwys binne Verbondsverband én binne volksverband op gereformeerd-konfessionele grondslag binne die raamwerk van wat vandag bekendstaan as die Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing as die geestelike wortel van die Afrikanervolk. Dit slaan uiteraard eerstens op die skoolonderwys. Om Verbondsouers in staat te stel om hulle doopbelofte van te onderrig en te laat onderrig, tot volle ontplooiing te laat kom, is die Verbondsouerskool as model ontwikkel, met die klem op die skriftuurlike verpligting van die ouers om hul kind(ers) te (laat) onderrig, wat in skoolverband die verpligting op die ouers plaas om sélf dié onderwys te beheer en te bekostig. Sulke skole funksioneer wel binne die raamwerk van die owerheid maar is verder onafhanklik. Hierdie model stel nie bloot in die bekende sin privaatskole daar nie, maar metterdaad ouerskole. Dié skole word deur groepe ouers op bepaalde plekke opgerig, beheer en bestuur - deur ouers wat een van hart en een van sin oor die inhoud en betekenis van die Verbond is waartoe hulle hul met die doop van hulle kinders verbind het. Hierdie ouers en hulle skole verbind hulle saam in die BCVO om deur gesamentlike optrede gestelde doelstellinge te bereik. Die grootste gesamentlike taak is die daarstelling van leerplanne wat die grondslag en beginsels van die BCVO vertolk.
Die Akademie vir CVHO is die logiese verlengstuk van die beginsel van eie onderwysverantwoordelikheid. Vanweë die omvang van die taak daarvan het die BCVO in geheel oor die oprigting daarvan besluit. Terselfdertyd het die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys 'n vennoot in dié onderneming geword. Al die lede van die BCVO en VCHO het die Akademie gesamentlik opgerig en besit, beheer en bestuur dit. Die Akademie is 'n onafhanklke privaatinstelling en daarom binne die wetlike raamwerk 'n vrye instelling wat na binne en na buite sy grondslag en beginsels tot hulle reg laat kom.
Dit beteken natuurlik dat hulp van die owerheid en ander instellings nie maklik bekom sal word nie, en dat dit alleen aanvaar kan word as dit die Akademie nie aan gewetensbinding sal verplig nie.
Die Akademie word tans deur sy eie Raad wat uit nege lede bestaan, wat deur die BCVO-Direksie aangewys word, bestuur. Na 'n eerste termyn van twee jaar is die Raad onveranderd vir nog 'n termyn aangestel en op 29 Januarie 1999 tydens die Vierde Jaaropening opnuut heraangestel. Dit bestaan uit verskeie bekende akademici, bedryfswetenskaplikes en bestuurskundiges. Tot Voorsitter is prof Alkmaar Swart verkies en tot Ondervoorsitter prof WJG Lubbe, terwyl die skrywer hiervan as die eerste voltydse Registrateur aangestel is. Gedurende die eerste dienstyd van die eerste Raad was die belangrikste taak om die Akademie organisatories en administratief op vaste grond te plaas. Daarin is grootliks geslaag. Gedurende die tweede semester, van 1998, het die Akademie eie kantore betrek wat die vorderingsproses aansienlik versnel het.
Die Akademie het in1996 met drie Institute begin, naamlik Calvinistiese Op-voedkunde en Onderwyskunde, Ekonomiese Wetenskappe en Lettere en Wysbegeerte. Aanvanklik het ses studente ingeskryf en wel in aldrie Institute. Gedurende 1996 is die Instituut vir Ingeni-eurskunde ingestel. Aan die begin van 1997 het die studentetal tot agt aangegroei, waarvan drie in die eerste jaar van Ingenieurskunde.In 1998 het vier nuwe studente ingeskryf en was daar in totaal tien studente. Vir die eerste keer is die Hoër Onderwysdiploma aan drie onderwyseresse aangebied. Op hierdie stadium het ses nuwe studente vir 1999 opgedaag, wat die studentetal vir vanjaar tot 16 opstoot.
Die jaar 1999 is vir die Akademie in meer as een opsig van groot belang. Na binne is dit sy vierde bestaansjaar en aangesien die eerste kwalifikasie, naamlik Licentiatus, vier jaar duur, sal sy eerste studente DV aan die einde van vanjaar afstudeer. Dit sal 'n grootse oomblik wees wanneer die eerste gewone promosiegeleentheid DV op 28 Januarie 2000, tydens die jaaropening sal plaasvind. Hieromtrent sal ons dan kan sê: "Nie aan ons nie, o HERE, maar alleen aan u Naam kom die eer toe". Na buite moet die Akademie vanjaar voldoen aan die nuwe wetlike vereiste om as 'n privaat instelling vir Hoër Onderwys (dit wil sê as 'n privaat "universiteit/tegnikon") te registreer. Onder die omstandighede waarin dit moet plaasvind, is dit geen geringe taak nie. Maar dit alles word in die geloof aangepak met die vaste vertroue dat die getroue Verbondsgod nie die werke van sy hande laat vaar nie.
Van meet af aan was die Akademie 'n geloofsdaad. Hy het met slegs R 30,000 tot sy beskikking afgeskop - maar met baie geloof. Daardie geloof is nie beskaam nie. Danksy die toename in die getal ingeskrewe studente en skenking van goedgesindes is die vierde jaar reeds goed aan die gang. Die Raad gee vanjaar voorrang daaraan om die finansiële grondslag van die Akademie te verstewig en op vaste voet te plaas. Daarvoor is hy afhanklik van die welwillendheid en begeestering van medestanders in die stryd vir die daarstelling van die regte onderwys en opleiding van ons kinders en jongmense. Enigiemand wat hiertoe 'n bydrae wil maak kan met die Registrateur skakel (Dr PE van der Dussen, Telefoon/Faks 012: 365 3703 (w) of 804 6601(h). As u belangstel om op die adreslys van die Akademie te wil kom om gereeld inligting te ontvang, kan u dit gerus aan die bogenoemde vermeld.
In die geloof begin - 'n geloofsdaad. Die eerste Jaaropening op 2 Februarie 1996 het begin met die sing van Psalm 90 : 1 en 9. Op 29 Januarie vanjaar is die vierde Jaaropening met die sing van Psalm 150 begin. Hoe kan dit anders? In die geloof het die oprigters van die Akademie met God oor 'n muur gespring en sy seën gevra in die bevestiging van die werk van hulle hande. Dit het Hy gegee - ruimskoots. Dus kom die lof en die dank en die aanbidding Hom toe, uit Wie, deur Wie en tot Wie alle dinge is.