Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: 'N "STERWENDE KERK" ?  Prof Bennie van der Walt se "'Requiem' op 'n sterwende kerk"

AKTUEEL: Christene se  deelname aan verkiesings

SKRIFOORDENKING: "Om te wag op die belofte van die Vader" (Hand 1 : 4 en 5)

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (2)

WARE EN VALSE SPIRITUALITEIT

SKRIFKRITIEK: Teologiese fondament vir die Nuwe Suid-Afrika

BOEKBESPREKING:  WA de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (2)

KERKLIKE JOERNAAL:  Independentistiese vernuwing:   " 'n Gemeente wat in selgroepe funksioneer ..."
Dr PW Bingle se Evolusionisme

OPVOEDING EN ONDERWYS: Die Akademie vir Christelik-volkseie Onderwys (ACVHO)

DIE ONBYBELSE MULTI-RELIGIEUSE BENADERING IN DIE HUIDIGE ONDERWYSBEDELING

DIE EVOLUSIELEER VERSUS DIE BYBELSE SKEPPINGSOPENBARING

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (4)

PERSRUBRIEK:  Lewens- en Wêreldbeskouing
Nog NG predikante uit NG Kerk uit?
Wil volk skuld hê?

KOMMENTAAR:  Korrespondensie met die Kuratorium TSP

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (5)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Die drome aangaande die moderne medisyne

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 2  Maart  1999

BOEKBESPREKING

"DIE VREEMDE GOD EN SY MENSE"

Prof JC Lombard  (em)  UOVS:  Dept Bybelkunde

(Tweede Aflewering)
(Eerste Aflewering)

"Die vreemde God en sy mense"  -  Outeur:   WA de Klerk  Uitgewer:  Human en Rousseau, 1998

Vrysinnige Leer oor die Verlossing:

Ons sluit hier aan by die vorige aflewering oor WA de Klerk se Skrifbeskouing soos dit tot uitdrukking kom in sy hierbo vermelde geskrif.

In 1974 het die Instituut vir Reformatoriese Studies van die PU vir CHO 'n publikasie (versamelwerk) die lig laat sien getitel: "Reformasie en Rewolusie". De Klerk se bydrae daarin het gehandel oor: Die antwoord van die Afrikaner op die huidige kulturele rewolusie. Op bladsy 228 het hy, in sy beter dae, die antitese gestel tussen humanisme en Calvinisme. Op bladsy 232 het hy sy siening geformuleer, wat onder andere behels: "... en so 'n styl te vind as 'n moderne Afrikaner in 'n moderne leefwêreld wat kraakvars modern is en geanker bly in die ou waarhede van die Christendom" (my kursief JC L).

Só is en behoort dit en só kan dit. Hier is nog nie sprake van die vreemde indringerplante in De Klerk se denke soos tans, vyf-en-twintig jaar later nie. In sy huidige problematiese denke en pennevrug , soos reeds in die vorige aflewering aangetoon, slaan sy uiters aanvegbare Skrifbeskouing, sy relativistiese, vrysinnige en postmoderne deinserigheid gistend uit in die leer oor God en sy verlossingswerk (die via salutis). Binne die begrensde ruimte van hierdie artikel behandel ons dit net saaklik.

Met verwysing na 'n kritiek wat reeds in DIE KERKBLAD oor De Klerk se boek en onderliggende saak geskrywe is, kry mens die indruk dat min of geen fout met sy standpunt gevind word nie, dat dit daaruit voortspruit dat dié boek slegs vinnig of net bolangs gelees is en dat die konsekwensies daarvan nie begryp is nie. Dis te hope dat dié omstrede siening deur lidmate van die Gereformeerde Kerke nie werklik gedeel word nie.

Groter Genade

Onder hierdie opskrif vra De Klerk op bl 47: "Kan 'n Hindoe, 'n Boeddhis, 'n aanhanger van New Age, 'n tradisionele Jood, 'n Moslem en ander nie-Christene, langs die weg van hulle eie godsdiens, alles verkry wat Christus aanbied? Populêr gestel: kan hulle gered word deur hulle eie geloof?", aldus De Klerk. Die antwoord wat hy daarop verskaf bots regstreeks met die getuienis van Gods Woord en getuig van ontstellende vrysinnigheid. Dit lui as volg: "Die Here se Gees werk ook in ander godsdienste. Hy aanvaar hulle deur die verdienste van Christus. Dit maak nie saak of die mense in Christus glo nie, want uit genade gee Hy Christus se belofte aan dié wat Hy verkies".

De Klerk se motivering van hierdie teenskriftuurlike leer van algemene versoening vir alle mense is drieledig, naamlik, (1)God is liefde; (2) Christus se verdienste het inpak op die hele wêreld (Dit blyk reeds hier dat De Klerk min begryp van die werklike kosmologiese betekenis van Christus se versoening). (3) Jesus Christus wat self God is, is die enigste weg tot verlossing. Wie sy Naam bely is kinders van God en sal alleen deur dié Naam gered word. Sy Christologie by (3) is egter inherent problematies , al klink dit op die gehoor af reg. Sy eie invoeging as sou Christus vir meer as die gelowige uitverkorenes gesterf het is eiegeregtigheid, dwalend en spekulatief. Ten aansien hiervan dring hy Christus, ongevraagd, op as 'n welwetende, weldoenende Kersvader, vir almal, insluitend die ongelowiges en heidene.

As hy sy dwaling dan toelig, lees ons: "Hoe die Here Christus sy verdienste toereken aan nie-Christene is 'n misterie. So eenvoudig is dit. Ons ken nie God se plan van genade vir die nie-Christene nie Dit is sy saak en nie ons saak nie ... en terselfdertyd kan ons nie grense stel aan God se genade nie."

De Klerk besluit vanuit sy outonome denke, en "hy weet" dat God ook almal wat Hom verwerp, in Christus salig maak. Hy moet eintlik, interessantheidshalwe, daarby vermeld: wanneer, van wie en hoe hy en sy humanistiese geesgenote (hulle is baie!) hierdie buiten-Bybelse openbaring ontvang het. Dit bots immers radikaal met die bybelse strekking van 'n sondaar se verlossing soos dit beskou moet word as die Goddelike heilsorde (via salutis), vanaf sy Raadsplan: die uitverkiesing, verbondstigting, roeping, wedergeboorte, geloof, bekering, heiligmaking en verheerliking. Dit betref nie 'n goedkoop allemans standaard-evangelie wat op alle markte te koop is nie. Dit is dan ook betreurenswaardig dat De Klerk se siening gevolglik die erns en die appèl van die Skrifprediking, die sending en evangelisasie relativeer.

Teenskriftuurlik Kwantitatief teenoor Bybelgetrou Kwalitatief

Die versanding en ontsporing word verder gevoer as De Klerk stel: "Dit klink en voel (??) nie reg dat die Here slegs die sowat 33% van die huidige mense op aarde (sogenaamde "Christene") red en die meer as 66% verstoot nie. ... en wat van die miljoene mense wat vóór Christus se koms gelewe het? En wat van die miljoene mense wat volgens húlle ander gelowe opreg voor die beelde wat hulle vir geslagte lank al van "God" het en diep daarvoor neerbuig?, aldus De Klerk.

Dit is 'n goedkoop en rojale algemene amnestie aan alle Godveragters, heidene en cum suis. Wat 'n onbegryplike, verlossende status van die patetiese, sinlose heidense ritueel en afgodediens.

Dan is dit aanvaarbaar om, sonder om hulle die evangelie van Christus te verkondig, onvoorwaardelik op "interkerklike en ekumeniese" terreine, met hulle en al hulle gelowe en denominasies broederlik te verkeer!

Deur sy eie "loergaatjie" lewer De Klerk so nog 'n apokriewe boek, maar net meer legendaries en teenskriftuurlik, anti-christelik, as die ander bestaande. Dit verskyn in 'n eie geheimskrif en vreemde taal - vreemd aan die bybelse openbaring: Sinkretisme par excellence en godsdiensgelykheid uit die boonste rakke van die humanisme. Waar bly die Sola Scriptura, sola fide en sola gratia? Mens behoort immers te weet dat al die gereformeerde standaardwerke en ons gereformeerde belydenisskrifte juis oor die uitverkiesing in grondige eksegese veranker is? Vergelyk onder andere Matt 20 : 16: 22 : 14, asook Hand 4 : 12 en Gal 1 : 9. Wat van die soewereiniteit en vrymag van God soos die apostel Paulus dit beskryf in die brief aan die Romeine, hoofstukke 9 tot 11?

Die lyn van die skerp, onversoenbare antitese tussen geloof en ongeloof loop dwarsdeur die Openbaringsgeskiedenis en vind sy afsluiting in die eindoordeel!   Deel De Klerk dalk die versugting van H Berkhof in sy "Christelijke Geloofsleer" dat die hel tog maar net 'n reinigings, 'n suiweringsplek tot verlossing mag wees!? Was Jesus Christus te uitgesproke oor die drie onboetvaardige stede (Matt 11 20 - 24)? Is dit 'n fout, die leerstuk oor die erfsonde, God se heiligheid en regverdigheid, sy toorn oor die sonde en sonde-aanbidders?

As die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika die denkpatrone van die skrywer van "Die vreemde God en sy mense", dr Willem de Klerk, sou volg (let wel sou) beland hulle in dieselfde dilemma as die (sinodaal) Gereformeerde Kerken in Nederland met "teoloë" soos HA Wiersinga en HM Kuitert, asook in dié van die vrysinnigheid in die Nederlands Hervormde Kerk vanaf die negentiende eeu, as gevolg waarvan hy tans uit vyf modaliteite bestaan, strekkend van gereformeerd behoudend (Geref Bond) tot nihilisties-vrysinnig.

Mag die Here dit, tot die eer van sy heilige Naam en die heil van sy kerk en koninkryk verhoed!