Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: 'N "STERWENDE KERK" ?  Prof Bennie van der Walt se "'Requiem' op 'n sterwende kerk"

AKTUEEL: Christene se  deelname aan verkiesings

SKRIFOORDENKING: "Om te wag op die belofte van die Vader" (Hand 1 : 4 en 5)

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (2)

WARE EN VALSE SPIRITUALITEIT

SKRIFKRITIEK: Teologiese fondament vir die Nuwe Suid-Afrika

BOEKBESPREKING:  WA de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (2)

KERKLIKE JOERNAAL:  Independentistiese vernuwing:   " 'n Gemeente wat in selgroepe funksioneer ..."
Dr PW Bingle se Evolusionisme

OPVOEDING EN ONDERWYS: Die Akademie vir Christelik-volkseie Onderwys (ACVHO)

DIE ONBYBELSE MULTI-RELIGIEUSE BENADERING IN DIE HUIDIGE ONDERWYSBEDELING

DIE EVOLUSIELEER VERSUS DIE BYBELSE SKEPPINGSOPENBARING

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (4)

PERSRUBRIEK:  Lewens- en Wêreldbeskouing
Nog NG predikante uit NG Kerk uit?
Wil volk skuld hê?

KOMMENTAAR:  Korrespondensie met die Kuratorium TSP

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (5)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Die drome aangaande die moderne medisyne

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 2  Maart  1999

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

WARE BETEKENIS VAN DIE CALVINISME

P VAN DER KOOI

CALVINISME IS SINONIEM AAN GEREFORMEERD-WEES VIR DIE WETENSKAP EN DIE PRAKTYK VAN DIE LEWE

(Vorige aflewering)

Prof dr S du Toit het die betekenis van Groen van Prinsterer vir ons tyd beskryf in 'n brosjure: "Teen die Revolusie die Evangelie", (ongedateer), uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Calvinistiese Uitgewersmaatskappy (SACUM (BPK). Hy gebruik sitate van Groen wat hy voortreflik in Afrikaans weergegee het. In die vorige en hierdie aflewering maak ons gebruik van sy werk. Hy skryf verder as volg, met Groen se woorde tussen aanhalingstekens:

Is die Soewereiniteit uit die mense of is dit uit God?

Die revolusieleer - en daarin openbaar dit sy oorsprong uit die ongeloof - verwerp die soewereiniteit van God. Uit hierdie dwaling spruit al die ander voort. Daar dit die reg van God ontken, verkondig dit die regte van die mens, veral sy reg op vryheid. Nie alleen is sy rede outonoom en soewerein nie. "Vryheid van denke, ook van handel; oppermag van die verstand, ook van die wil; onbedorwenheid van die rede, ook van die hart. Die mens uit homself goed; vanwaar dan die kwaad? Die mens uit homself geneig tot goeddoen en liefdebetoon; vanwaar dan dat die maatskappy deur die duisendvoudige swaard van die menslike drifte verontrus en verstoor word? Die antwoord van die wysbegeerte is gereed. Die oorsprong van die kwaad lê in die vorme; deur verkeerde vorme is die oorspronklike gaafheid van die menslike natuur verwring en het die neiginge en hartstogte in 'n aan die natuurlike aanleg teenoorgestelde rigting ontwikkel. Slegs in wysiging van die vorme, in omverwerping van al wat die vryheid belemmer, in opvolging van die neiginge en drifte lê die middel van herstel en selfvervolmaking van die staat."

Vir 'n gesag wat sy sanksie nie uit die mens self ontvang nie, is in hierdie leer natuurlik geen plek nie. "Sloping van die selfstandigheid van elke gesag is, uit die standpunt van die ongeloof, wegneming van mensonterende misbruik. Uit hierdie standpunt nie ten onregte nie, want die ongeloof ken geen ander gesag as die menslike nie. In die ontkenning van die droit divin (die goddelike reg) lê die bron van die liberalisme en van die geesdrif wat daardeur gewek word. Die liberale teorie is dus in ooreenstemming met die verhevenheid van ons aanleg. Die mens verneder homself as hy hom aan die natuurgenoot onderwerp. Die mens is te groot om vir die medemens te buig wanneer hy in eie naam bevel voer."

Tog sal daar op een of ander manier gesag moet wees. "Daar is 'n samelewing en 'n staat; daar behoort, as ons geen barbaarsheid verlang nie, 'n samelewing en 'n staat te wees. Gesag en reg en plig en ongelykheid is onmisbaar. Die historiese staat is ontbind; nouwel - hoe word die revolusionêre staat gevorm?"

Groen antwoord: "Hoe die staat gevorm word? Hoe tussen vrye en gelyke mense op wettige manier vereniging tot stand kom? Deur vrywillige ooreenkoms alleen. Lê die revolusionêre begrip van vryheid en gelykheid ten grondslag van u gebou, dan moet gesag en reg konvensioneel wees. Die staat sal, waar nie van geweld sprake is nie, geen oorsprong hê as die maatskaplike verdrag nie."

So kom 'n mens tot die stelsel van die revolusionêre volksoewereiniteit. Die owerheid is die mandataris (gevolmagtigde) van die soewereine volk, uitvoerder van die volkswil, waaraan dit sy gesag ontleen. Van hierdie stelsel, verkondig deur die filosowe van die agttiende eeu, is nou die hemel op aarde verwag. "Die opvolging van die voorskrifte van die wysbegeerte, en dit alleen, sou vernietiging van vooroordeel en tirannie, vestiging van vryheid, waarborg van welvaart, van oorvloed, van ware beskawing en hoër lewensgenot, ja trapsgewyse herskepping en vervolmaking van die menslike geslag wees. Nyd en twis sou gesmoor word, die geluk van elkeen sou met die nut van almal ooreenstem. Daar sou vrede op aarde wees, waarheid, geregtigheid, onderlinge liefde, gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die natuur, nie deur die beteueling nie maar deur die bevrediging van begeerlikhede en drifte, wederkerige hulpbetoon, broederskap; daar sou in plaas van rampsaligheid saligheid wees. Tans kon geskied wat in tye van onwetendheid nie moontlik was nie."

So het die revolusionêre idealiste geredeneer. Maar hulle hoop was 'n hersenskim. Ook wanneer ons 'n oomblik die vraag laat rus wat daar van hulle teorie in die praktyk tereggekom het, kan reeds die logika leer waarheen dit moes lei. Ten slotte laat dit geen ander keuse oor nie as tussen anargie en despotisme. Op tweërlei wyse immers kan die stelsel van die volksoewereiniteit uitgewerk word en is dit ook uitgewerk. Want óf die soewereine volk hou die mag aan homself en stel die owerheid in die ongelyk sodra dit teen die volkswil ingaan; of dit dra sy mag op die owerheid oor, wat dan die vrye beskikking oor die lewe en besit van die onderdane verkry.

Wat is van die eerste moontlikheid die gevolg? "Dit is duidelik dat elkeen wat eenmaal die onweerstaanbare volkswil as rigsnoer vir elke rege-ring aangeneem het, noodwendig 'n soort vergeeflike, pligmatige, of, om die eg-revolusionêre term te gebruik, heilige opstand erken, waarby die uitnemendheid van die doel groot vrymoedigheid in die keuse van die middele gee. ... Die skrander Cristen-wysgeer, Stahl, het in weinige woorde oor hierdie regering volgens die wil van die soewereine volk 'n juiste oordeel gevel. Sodanige regering, skryf hy, is vanweë die aard van sy grondbeginsel onbestaanbaar. Die koning het geen mag teenoor die volksverteenwoordiging nie en, volgens dieselfde beginsel, het ook laasgenoemde geen mag teenoor die volksmassa nie; ja die wet is selfs hieraan, as die eie maaksel daarvan, ondergeskik. Die volkswillekeur, aldus tot oppermag verhef, bring 'n voortdurende revolusie teweeg."

Die tweede moontlikheid is net so min aanloklik. "Daar is vryheid en gelykheid, 'n maatskaplike verdrag, 'n staat; die eenheid wat berus op die alvermoë van die algemene wil. Hoe word nou die wil gevorm en gekonstateer? Van onder af op word deur middel van die stemreg die soewereine volksgesag in 'n middelpunt beliggaam, vanwaar dit as alvermoënde staatsgesag namens die volk aan die volk met verbreking van elke teëstand die wet gee." Grense ken hierdie gesag nie, nóg enige ondergeskiktheid. Dus is daar almag, albemoeiing, alleenheerskappy van die staat, en selfs "die heiligste en dierbaarste" moet "aan die staatsbelang (onder verskillende benaminge, soos algemene welsyn, volksheil, nasionale geluk) ten offer gebring word".

Daarby is dit van ondergeskikte belang in watter vorm hierdie revolusionêre staat hom openbaar. Dit kan republikeins wees, maar niks verhinder "om die volksoewereiniteit, met al die ellende van wanorde of dwang wat dit meebring, moontlik te ag ook waar daar 'n eenhoofdige of monargale bewind is". In die laaste geval is daar dan wat Groen noem "die eenhoofdige volksoewereiniteit, die in één persoon gekonsentreerde volkswil".

"Maar, vra u, hoe is dit moontlik dat 'n leer waaruit hierdie willekeur ontspruit, as teorie van die vryheid uitgebasuin is? Watter waarborge is daar dat hierdie konsentrasie, hierdie oppermag, wat hom verhef bo al wat God genoem word, nie tot verdrukking misbruik sal word nie? Watter waarborge? Elke verdediger van die revolusieleer sal dit vir u sê. Die hele sisteem is 'n samestelling van waarborge. Let slegs op die populêre oorsprong van alle magte. Dit is die algeheelheid van die burgers van wie die staatswil uitgaan, wat op die staatsgesag reg het, wat homself beheer, wie se vryheid en selfbeskikking die lewensbeginsel van die staat is, wie se goedvinde die hoogste wet is. Elkeen aan wie enige mag toevertrou is en wat hom daarvan sou wil bedien tot inkorting van die volksoewereiniteit, word deur die vryheid van verkiesinge, van drukpers, van publieke mening in toom gehou of, waar dit nodig is bedwing en gestraf."

Aldus die teorie! In 'n volgende hoofstuk sal ons sien wat daar in die praktyk van hierdie ideale tereggekom het. Maar ook wanneer ons die toepassing eers buite beskouing laat, is dit duidelik dat hierdie leer vanweë die beginsel daarvan vir die Christen onaanvaarbaar is. Die revolusie-teorie is anti-Christelik. Dit soek die kwaad alleen in die vorme en verwag alles van die mens. Dit gaan daarvan uit dat die mens van nature goed is, dat die voortreflikheid van sy aanleg enkel deur bygeloof en verdrukking onkenbaar gemaak word, en dat die verbreking van sy bande hom met snelle vaart die volmaaktheid ook in die staatswese sal laat bereik ...".

Ons wil Groen in 'n volgende aflewering nog verder laat praat.