Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: 'N "STERWENDE KERK" ?  Prof Bennie van der Walt se "'Requiem' op 'n sterwende kerk"

AKTUEEL: Christene se  deelname aan verkiesings

SKRIFOORDENKING: "Om te wag op die belofte van die Vader" (Hand 1 : 4 en 5)

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (2)

WARE EN VALSE SPIRITUALITEIT

SKRIFKRITIEK: Teologiese fondament vir die Nuwe Suid-Afrika

BOEKBESPREKING:  WA de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (2)

KERKLIKE JOERNAAL:  Independentistiese vernuwing:   " 'n Gemeente wat in selgroepe funksioneer ..."
Dr PW Bingle se Evolusionisme

OPVOEDING EN ONDERWYS: Die Akademie vir Christelik-volkseie Onderwys (ACVHO)

DIE ONBYBELSE MULTI-RELIGIEUSE BENADERING IN DIE HUIDIGE ONDERWYSBEDELING

DIE EVOLUSIELEER VERSUS DIE BYBELSE SKEPPINGSOPENBARING

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (4)

PERSRUBRIEK:  Lewens- en Wêreldbeskouing
Nog NG predikante uit NG Kerk uit?
Wil volk skuld hê?

KOMMENTAAR:  Korrespondensie met die Kuratorium TSP

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (5)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Die drome aangaande die moderne medisyne

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 2  Maart  1999

DIE EVOLUSIELEER VERSUS DIE BYBELSE SKEPPINGSOPENBARING
Onlangse ontdekkings in die grotte van Sterkfontein

PROF  PIETER STOKER    -   PU VIR CHO

 Koerantberigte

Onlangs is in die pers en ander media die ontdekking van 'n bykans volledige geraamte van 'n aapmens in die grotte van Sterkfontein wêreldkundig gemaak. Die aapmens sou 3,5 miljoen jaar gelede geleef het. DIE BURGER van 16 Desember 1998 gee inleidend die volgende blik op die lewe miljoene jare gelede by Sterkfontein: "Toe Sterkfontein oortrek was met ondeurdringbare woude, moes die aapmens vlug voor die verskrikking van sabeltandkatte, langbeen hiënas, reusagtige leeus en yslike ape. Met hul duimagtige tone kon hulle in bome skuil, en hulle mensagtige enkels het hulle in staat gestel om in die voetpaadjies te hardloop". In hierdie trant gaan die berig voort. Dit laat die indruk by die leser dat dit alles feitelik waar is volgens wetenskaplike bevindinge. Later in die berig kom daar effens balans met sinsnedes soos: "In 1947 het ... Broom mev Ples se skedel met dinamiet uitgeblaas - 2,5 miljoen jaar nadat sy vermoedelik in 'n gat na haar dood geval het. ... Nou het Clarke en Wits se navorsingsspan vermoedelik een van mev Ples se voorsate opgegrawe". Volgens sy tande "lyk dit of die 3,5 miljoen jaar oue" voorsaat 'n omnivoor was (hy het net soos die mens van plant- en dieragtige voedselsoorte geleef).

Natuurwetenskaplike Benadering

Natuurwetenskaplikes stel steeds hulle bevindinge in vaktydskrifte en voor kollegas versigtig, as moontlike bevindinge. 'n Goeie wetenskaplike is altyd daarop bedag dat die afleidings wat hy uit materiaal maak, voorlopig is; sy kollegas kan ander dinge in sy materiaal raaksien of nuwe gegewens kan hom tot ander gevolgtrekkings lei. Daarom is wetenskaplike bevindings en teorieë altyd voorlopig en slegs geldig vanuit die aanvaarde metode en wêreldbeeld. Hierteenoor het nie-wetenskaplikes, die publiek, die persepsie dat wetenskaplike bevindings finaal is en aanvaar dan hierdie bevindings as feite.

'n Goeie (klassieke) voorbeeld is Carl Sagan se TV-reeks "Cosmos", wat SATV in die laat tagtiger jare vertoon het. Die reeks het die ontstaan van die heelal sedert die oerknal 160 miljoen eeue gelede, die latere ontstaan van lewe en die daarop volgende evolusie tot vandag op 'n baie professionele en aanskoulike wyse uitgebeeld. Die oplettende kyker sou egter dikwels gehoor het "met die veronderstelling", "ons neem aan dat", "ek glo dat". Al het Sagan dié reeks wetenskaplik-"versigtig" aangebied, was dit sy lewens- en wêreldbeskouing wat daarin na die kykerspubliek oorgekom het. In een van sy programme het hy dan ook gesê: "Evolution is not a theory, it is a fact". Dié reeks het dan ook by die publiek die oortuiging gelaat dat die heelal en alles daarin deur evolusie vanaf die eenvoudigste vorme van lewe tot die mens van vandag ontstaan het. Dit is hierdie ideologie wat vandag deur kommunikasiemedia, populêr-wetenskaplik, aan die mensdom oorgedra word.

Aristoteles se Wetenskap

Natuurwetenskaplikes se werk en denke geskied altyd binne die raamwerk van 'n lewens- en wêreldbeskouing. Ongeveer 400 jaar voor Christus het die Griekse wysgeer Aristoteles die denke gevestig dat enige verklaring by die bekende, die vanselfsprekende moet begin. Volgens ons alledaagse waarneming kan dit as vanselfsprekend aanvaar word dat die aarde in rus is en dat die son, maan, planete en sterre daaromheen beweeg. Uitgaande hiervan het Aristoteles die heelal verdeel in 'n ondermaanse (die aarde en die atmosfeer) wat nie in die ruimte beweeg nie en 'n bómaanse (die maan. son, planete en sterre) wat ewigdurend beweeg. Volgens hom streef alles in die ondermaanse na 'n toestand van rus, want die aarde is self in rus. As, byvoorbeeld, 'n kar nie meer deur 'n perd getrek word nie, gaan staan die kar omdat die kar na die toestand van rus terugkeer. Hy het 'n verdere onderskeid gemaak: die ewigdurendheid van die bómaanse (maan, son, planete en sterre is altyd daar) en die tydelike of verganklike in die ondermaanse (die kar breek en vergaan; die perd word siek en gaan dood).

Hierdie Aristoteliaanse wêreldbeskouing is deur die vroeë Christene oorgeneem en hulle het die heidense elemente daarin verchristelik. Die Middeleeuse kerk het die verchristelikte leer van Aristoteles later tot 'n dogma verhef. Kopernikus, Kepler en Galileo het teen hierdie kerklik-aanvaarde leer van Aristoteles - van 'n aarde in rus - ingegaan toe hulle uit waarnemings op planete tot die gevolgtrekking gekom het dat die aarde beweeg en nie in rus is nie. 'n Aarde wat saam met die ander planete om die son beweeg is vir ons vandag nie vreemd nie, omdat dit aan ons van kleins af so geleer word.

Ons moet vandag nie weer dieselfde fout as die Middeleeuse kerk maak deur nou in wetenskaplike teorieë soos evolusieleer te glo as bewese en die finale waarheid nie. Daar is Kerksinodes wat alreeds evolusieleer verhef het tot die wyse waarop God geskep het, asof Hy dit sou gedoen het volgens menslike denke!

Die Menslike Faktor

Die Kopernikaanse ideologie van 'n bewegende aarde was gedurende die Renaissance die dryfkrag vir die transformasie vanaf die Aristoteliaanse leer van 'n vaste aarde tot die bewegende aarde in die Newtonse fisika. Deur dié transformasieproses is daar ook 'n totaal nuwe wyse van teorievorming gevestig. Voorheen is vanuit die bekende, die vanselfsprekende uitgegaan om dinge te verklaar (die aarde in rus en hemelligggame wat beweeg). Daarna is gevind dat die mees kragtige wyse om dinge te beskryf is om met die onbekende te begin wanneer teorieë gevorm word. Sodoende kan die nie-waarneembare wetmatighede in die natuur gevind word. Dink byvoorbeeld aan die swaartekragwet, of aan die drie bewegingswette van Newton, wat op die onbekende toegepas word om nuwe wetmatighede in meganiese strukture na vore te bring, soos planetebeweging om die son.Of aan die veronderstelde konstantheid van ligsnelheid as basis van Einstein se relatiwiteitsteorie.

Gedurende die twintigste eeu het die belangrikheid van die menslike faktor in die vorming van teorieë duidelik gword. 'n teorie is mensewerk en bepaal hoe die mens die waarneembare werklikheid beskryf. Die mens skep byvoorbeeld die wiskunde waarmee hy deur sy (die mens se) teorieë die waarneembare beskryf. Die mens kan nie die waarneembare verklaar nie, maar slegs volgens 'n wetenskaplike metode beskryf.

Paul Davies, die bekende natuurfilosoof, kom in sy boek: "The Cosmic Blueprint" tot die gevolgtrekking dat die wetenskap self nie op enige wyse betekenis aan die lewe of aan die bestaan van die wêreld kan gee nie. Waar wetenskap deur die mens deur sy waarnemings en denke gevorm word, beteken dit dat die mens self nie betekenis aan sy bestaan of aan die bestaan van die wêreld kan gee nie, nou ook nie deur die onlangse ontdekking van die gefossileerde skedel van 'n sogenaamde aapmens nie.

Die navorser is dikwels so sterk emosioneel by sy eie werk betrokke dat die aanvaarde veronderstellings nie meer raakgesien word nie, byvoorbeeld in metodes waarvolgens ouderdomme tot miljarde jare onder andere deur radioaktiewe verval bepaal word. Hierdie houding word aangemoedig deur eie- en groepsbelange, om deel te wees van 'n internasionale vakgemeenskap, 'n gemeenskap wat onder andere poog om deur hulle navorsing sin-volle antwoorde op vrae soos die betekenis van die mens se bestaan en van die wêreld waarin hy leef te verkry.

'n Lewensbeginsel?

Baie navorsers is vandag oortuig dat alles nie vanself vanaf 'n oerknal (die "skeppingsmôre") tot vandag onder die werking van die tans bekende natuurwette kon ontwikkel het nie. Daar moet 'n oorkoepelende lewensbeginsel, 'n holistiese self-organiserende dryfkrag in die heelal werksaam wees wat ontwikkeling aktief rig en deur die natuurwette laat plaasvind, vanaf die mees eenvoudige tot die hoogsingewikkelde werklikheid vandag (lees byvoorbeeld Paul Davies in "Cosmic Blueprint"). As die veronderstelde vermiste skakels tussen mens en dier gevind kan word, sou dit die bestaan van 'n oorkoepelende lewensbeginsel bevestig. Dit kan ook as bewys dien dat evolusieleer nie slegs 'n wetenskaplike teorie is nie, maar 'n feit.

Die pasontdekte 3,5 miljoen jaar oue aapmens is volgens Clarke en Wits se navorsingsingsspan die oudste aapmens wat tot sover gevind is en die naaste wat paleo-antropoloë (mensfossielkundiges) nog aan die sogenaamde vermiste skakel gekom het. Dit word bevestig deur prof Philip Tobias, Direkteur van die Paleo-Antropologiese Navorsingseenheid aan Wits: "Ons kom al hoe nader aan die stadium, toe die aap en die homonide (die mensfamilie) tussen 5 en 7 miljoen jaar gelede geskei is".

Die evolusieleer lei en rig vandag die mens se denke om die natuur en lewe evolusionisties te verstaan. Dit is die paradigma (dogma) waarvolgens die herkoms van lewe en die wêreld vandag beskryf word. Ook fossielfondse word daarvolgens geïnterpreteer en beskryf. Ouderdomme, wat deur natuurwetenskaplike metodes bepaal word, is getalle waarmee wetenskaplike teorieë werk, en geen feite nie, want die mens het geen manier om die korrektheid van sy ouderdomsberekeninge te kontroleer nie.

Die Skeppingsopdrag

Volgens die Bybel as die Woord van God is die aarde met alles daarop en die heelal deur God geskape, deur Wie alles onderhou en bestuur word tot 'n voleinding volgens sy Raadsplan. Elke plant (Gen 1:11,12) en elke dier (Gen 1:21-25) is na sy eie aard geskape, maar die mens is eiesoortig, as God se verteenwoordiger, na God se beeld (Gen 1:26,27) geskape met 'n opdrag om oor die skepping van God te heers (Gen 1:28). Waar die mens sy hand aan die natuur sit, ontstaan kultuur. Ook deur middel van die wetenskappe verrig die mens kultuurarbeid en voer hy sy beheersingsopdrag uit.

God het 'n geestelike lewensbestaan binne die mens se liggaam, en nie binne die diereliggaam nie, geskep, waardeur die mens geheel en al verskillend van die dier is. Die vermoë om abstrak te dink, om te praat, en om met liggaamshouding, oë, gesigsuitdrukking en stemtoon boodskappe oor te dra, skep 'n groot kloof tussen die mens en enige dier. Die mens se brein is anders en oneindig ingewikkelder as die van die dier of enigiets anders in die hele kosmos. Verder beskik die mens oor geestelike vermoëns soos liefde, geregtigheid, wysheid, barmhartigheid en godsdienssin, wat by geen enkele diersoort aangetref word nie. Dit is daarom onmoontlik dat die mens deur natuurprosesse uit die dier kon ontwikkel het, soos die evolusioniste dit probeer aantoon met die plasing van Sterkfontein se aapmens as 'n evolusionistiese skakel tussen mens en dier.

'n Goddelike doel en bedoeling met die skepping, en daarmee saam die skeppingsopdrag aan die mens, is oorheersend in die Bybel. Om mee te werk aan die doel en voleinding volgens die Raadsplan van God, is deel van die mens se roeping. Deur die sonde is die mens se insig en begrip egter bedoesel. Daarom kan hy nie deur eie insigte en denke ware en gesagvolle betekenis aan sy eie bestaan gee nie, ook nie deur middel van die evolusieleer nie.

Volgens die evolusieleer is die mens vandag die mees ontwikkelde produk van evolusie en is daar geen rede om te dink dat dié proses by die huidige mens gestop het nie. Die proses van evolusie moet steeds vorder totdat die mens 'n gewaande volmaakte wese is. Die sondige selfverheffing van die mens om soos God te word, het tot die sondeval (Gen 3:5) en tot die bou van die toring van Babel (Gen 11:4) gelei.