Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 2 Maart 1999
GESPREK MET DIE LESERSGROEI EN ONDERSTEUNING
Met dankbaarheid kan vermeld word dat dit goed en al maar beter gaan met ons blad. Die afgelope twee maande was daar weer talle nuwe intekenings asook ruim inbetalings vir herintekening en donasies. 'n Besondere verrassing was om 'n nuwe ondersteuner te kry wat vir homself en tegelykertyd veertien ander ingeteken en die tarief daarvoor oorbetaal het. Danksy die medewerking en offervaardigheid van ons lesers kan die werk wat ons beoog met die publisering en verspreiding van ons blad onverpoosd voortgaan. Die medewerking van die ondersteunende leserskorps is egter nodig om ons blad wyer bekend te stel en intekenare te werf. Dit sal waardeer word as elkeen na vermoë en omstandighede in sy omgewing hieraan wil meewerk om sodoende Die Kerkpad se sirkulasie te bevorder.
ADMINISTRATIEWE VEREENVOUDIGING
Aanvanklik is begin met 'n omslagtige stelsel van uitgeskrewe kwitansies vir die bevestiging van die bedrae wat ontvang is vir intekening en/of donasies. Daardie sisteem is nou vereenvoudig deur alles op die rekenaar te administreer. Daarom word geen kwitansies meer uitgereik nie, maar verskyn op die adresstrokie op die koevert met die toesending van Die Kerkpad, langs die naam van die geadresseerde, 'n nommer, naamlik geen, dit beteken gratis toesending of oorspronklik ingeteken en geen herintekeningsbydrae ontvang nie. Nommer 2 beteken: Ingeteken vir die tweede jaargang terwyl die derde jaargang nog hernu moet word. Nommer 3 beteken dat die bydrae vir intekening op die derde jaargang ontvang en geregistreer is. Tegelykertyd word die totale bydraes van elke individuele intekenaar/donateur noukeurig geadministreer en dié gegewens is gerieflik beskikbaar vir die gevalle van navraag. Hou dus die rekenaargeprogrammeerde adresstrokie op die koevert dop om vas te stel of u (her-) intekeningsbydrae/donasie geregistreer is al dan nie.
E-POS EN INTERNET
In die vorige uitgawe is vermeld dat ons redaksie tans sy eie Internet-aansluitingskode het. Dié kode is vermeld op die voorblad by die pos-, telefoon- en faksadresse. Vir die gerief van talle lesers wat van hierdie tegniek gebruik maak beskik ons nou ook oor 'n E-Posadres. Dit is 'n gerieflike middel om te kommunikeer en u kan dit maar toepas om vir ons boodskappe aan te stuur. Dié kode is ook op die voorblad bekendgestel. Dit is soos volg:
KURATORE TSP
In die rubriek "Kommentaar", op bl 17, is reeds genoem dat die Kuratorium ons redaksie se uitnodiging aanvaar het om 'n gesprek te voer oor wat deur hulle as noodsaaklik beskou word, terwille van die Teologiese Skool en die professore daaraan verbonde. In die betrokke artikel is enkele gedeeltes waaroor met hulle gekorrespondeer is uitgelig vir die kennisname van die lesers van ons blad. Daarby kan ook vermeld word dat ons verskeie reaksies ontvang van kerkrade, gewoonlik beswaard teen polemiek in ons blad. Soveel as moontlik word dit beantwoord en in toepaslike perspektief gestel. Daarby wil ons nogmaals onder die aandag van die lesers bring dat ons blad na vrywel alle kerkrade van die GKSA gepos word, of hulle daarvoor betaal en daarvan hou, al dan nie. Dit word gedoen om die voorligting wat in ons blad verskaf word so wyd as moontlik bekend te stel en sodoende reformasie in die kerk daadwerklik te bevorder. Doen gerus navraag by u predikant of die skriba van u gemeente, om vas te stel of hulle die eksemplaar wat hulle ontvang, laat sirkuleer in die kerkraad en in die gemeente vir almal se kennisname. Dit is duidelik aan elke kerkraad versoek en vermeld dat dit daarvoor bedoel is.
POLITIEK
Soos eerder vermeld bedryf ons blad geen partypolitiek nie. Die naaste wat ons redaksie die politiek beskryf is om prinsipiële standpunte te stel oor die regering van ons land en wat God van ons vra, in lyn met die Skrif: Rom 13 : 1 - 7 en die toepassing daarvan in die NGB, art 36. In die reeks oor "Ware Betekenis van die Calvinisme", word dit deur Groen van Prinsterer prinsipieel en prakties toegelig waarby ons aansluiting vind. Die kwessie oor al dan nie deelname aan die verkiesing wat voorlê word in hierdie uitgawe, in die rubriek "Aktueel", in dié lig beskryf. Ons besef dat daar praktiese oorwegings is om wél aan dié verkiesing deel te neem. Ons laat dit aan die verantwoordelikheid van elkeen om daaroor persoonlik te besluit.
REKENAARSENTRUM
Terwyl ons eiehandig die uitleg van ons blad in ons eie "rekenaarsentrum" voorberei en versorg, wil ons in die besonder br Nico van der Dussen bedank vir sy onbaatsugtige hulp wat hy met betrekking tot die programmering van Internet en E-Poshantering daartoe verleen. ®