Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: 'N "STERWENDE KERK" ?  Prof Bennie van der Walt se "'Requiem' op 'n sterwende kerk"

AKTUEEL: Christene se  deelname aan verkiesings

SKRIFOORDENKING: "Om te wag op die belofte van die Vader" (Hand 1 : 4 en 5)

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (2)

WARE EN VALSE SPIRITUALITEIT

SKRIFKRITIEK: Teologiese fondament vir die Nuwe Suid-Afrika

BOEKBESPREKING:  WA de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (2)

KERKLIKE JOERNAAL:  Independentistiese vernuwing:   " 'n Gemeente wat in selgroepe funksioneer ..."
Dr PW Bingle se Evolusionisme

OPVOEDING EN ONDERWYS: Die Akademie vir Christelik-volkseie Onderwys (ACVHO)

DIE ONBYBELSE MULTI-RELIGIEUSE BENADERING IN DIE HUIDIGE ONDERWYSBEDELING

DIE EVOLUSIELEER VERSUS DIE BYBELSE SKEPPINGSOPENBARING

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (4)

PERSRUBRIEK:  Lewens- en Wêreldbeskouing
Nog NG predikante uit NG Kerk uit?
Wil volk skuld hê?

KOMMENTAAR:  Korrespondensie met die Kuratorium TSP

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (5)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Die drome aangaande die moderne medisyne

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 2  Maart  1999

Hoofartikel

'N "STERWENDE KERK"?

Prof Bennie van der Walt se
" 'Requiem' op 'n sterwende kerk"

Prof BJ van der Walt, direkteur van die Instituut vir Reformatoriese Studies aan die PU vir CHO, stel in die "Someruitgawe" van WOORD EN DAAD agt "gewetensvrae", aan die hand waarvan hy konkludeer dat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika - en moontlik ook ander kerke - die sterwensfase bereik het: "Daar is uitsonderings op die reël, maar hierdie agt simptome wat algemeen voorkom, regverdig reeds 'n requiem". Hierdie artikel, onder die hoofopskrif: "Gedopte of omgedopte Doppers". is wyer bekendgestel in BEELD van Vrydag 8 Januarie 1999 en het op dié wyse, wat ons betref, omstrede geraak.

"Kom ons wees dus eerlik oor onsself - nie net die Gereformeerde Kerke nie, maar die hele Doppergemeenskap buite die kerke. Is ons net verlam, dalk siek, miskien reeds sterwende? Die lyding mag nog lank duur, maar in my eie hart bestaan daar min twyfel dat ons reeds die sterwensfase bereik het. ... Dit verduidelik waarom ons die toets van ware Christenwees gedruip het. Daarom is dit 'n requiem, 'n doodslied. ... kom ons doen na aanleiding van die volgende agt punte diep en eerlike selfondersoek", aldus prof Van der Walt. Dan volg sy motivering en agt gewetensvrae waarop hy 'n antwoord verskaf. Beslis nie alles sonder sin en waarheid wat hy kritiseer nie. Maar van 'n professor - direkteur van die Instituut vir Reformatoriese Studies - verwag 'n mens 'n ander benadering van die saak wat hy poog om te beskryf. Soos wat hy dit stel is die kerk 'n bloot menslike instelling en aangeleentheid, wat as gevolg van verdraaide meriete en swak motivering dreig om te verloop of, soos hy dit tipeer "te sterwe".

Goddank is dit nie geloofstaal nie, altans nie dié van die Bybel en die Gereformeerde belydenisskrifte nie. Dáárvolgens is die vergadering en voortbestaan van die heilige algemene Christelike kerk, nie afhanklik van die menslike doen en late nie, maar God se saak. Dit is Hy wat deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, vergader, beskerm en onderhou (HK, Sondag 21, vr/antw 54). Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is 'n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het ... (NGB, art 27). Beslis geen sterwensnood en requiem nie!

In Van der Walt se motivering van die kerk se "sterwensfase" is dit opmerklik dat sy normering nie ooreenstem met dié van die Skrif, die Gereformeerde belydenisskrifte en kerkorde nie. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf - kortom, wanneer hulle almal ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken (NGB, art 29). Dit is nie waaroor die artikel van prof Van der Walt handel nie. Dit is sy eie vooronderstellings, maatstawe en standpunte wat hy aanvoer vir motivering.

'n Kritiese leser kan wel enkele sake wat hy noem ter harte neem, maar dan op 'n ander wyse as wat die skrywer dit bedoel. Ons kyk na enkele argumente wat die professor aanvoer: "Die eerste gewetensvraag is: Is ek nie ook maar bloot 'n Christen in naam alleen nie? Wie probeer ek bedrieg? God sien dwarsdeur my skynheiligheid." ... "Die tweede gewetensvraag: Het ek ook van die kerk 'n kerker gemaak, 'n blote voorportaal tot die hiernamaals? Is dit nie veel eerder 'n 'verversingspos' op die eerste dag van die week nie, wat my nuwe krag moet gee om gedurende ses dae met blydskap die Here in die hiermaals te dien?" Die laaste gedeelte van hierdie tweede saak is darem positief in dié sin dat dit die betekenis van die kerk en nie dié van die mens beklemtoon nie. ... "Die derde gewetensvraag: Het my geloof 'n susmiddel in plaas van 'n versterkmiddel geword, my kerk 'n veilige ghetto in plaas van 'n mobilisasiepunt om in God se wêreld betrokke te wees?" ... "My vierde gewetensvraag: Het ons nie al so selfingenome en selftevrede (gearriveerd) geraak dat ons nie eers meer sal agterkom dat ons besig is ons eie doodskis aanmekaar te timmer nie? Is dit God se wil dat ek myself in 'n donker, bedompige kis moet toespyker? Is Hy nie die God van lig en lewe nie - wat ook wil hê dat ek die lewe in sy volheid sal sien en beleef?" ... "Ons vyfde gewetensvraag: Is die rede waarom ek nie 'n brandende begeerte het om God se sendingsbevel uit te voer en die ryk skat met ander te deel, nie dalk omdat ekself geestelik so arm en dood is dat ek niks het om te deel nie? ... "Ons sesde gewetensvraag: poerpoer, ad hoc ek ook maar tans van dag tot dag (soos baie hedendaagse ongelowiges) deur die lewe, sonder koers, sonder doel, sonder inspirasie? Leef ek ook net vir myself en my gesin?" ... "Ons sewende gewetensvraag: Ry ek - 'n passiewe passasier - saam op die plesiertrein en druk maar my oë toe wanneer dit by 'n armoedige plakkerskamp verbysnel? Is ek 'n termometer, wat bloot registreer wat rondom my gebeur - soos die wêreld lyk - in plaas van 'n termostaat, wat self die temperatuur reël, 'n bietjie liefde en warmte laat uitstraal? Verwag God van my om 'n toeskouer in plaas van 'n deelnemer te wees?" ... "Ons laaste gewetensvraag: Stry ek - omdat elke mens van nature rassistiese neigings het - daagliks daarteen? Bid ek ernstig om bekering? Betaal ek my werkers, my huishulpe wat hulle toekom? Behandel ek hulle soos mense? Besf ek dat ek 'n leuenaar is as ek sê ek het God lief maar ek verag/verontreg/haat my naaste?" Bo en behalwe dat prof van der Walt dogmatologies ten aansien van die kerk struikel oor die menslike faktore in plaas daarvan om die Goddelike norme en die beskikking van ons lotgevalle, ook dié ten opsigte van die voortbestaan van die kerk te beklemtoon, is hy nie Skrifgetrou en gebind aan die leer van die kerk nie. Daarbenewens huldig hy 'n politieke visie wat skriftuurlik en feitelik betwisbaar en derhalwe nie normatief is nie. Die volgende dien as voorbeeld:

"Etnisisme of rassisme. Baie Gereformeerdes het bloot gedweë die nuwe politieke bedeling aanvaar Hulle harte het egter geensins verander nie. Daarom leef hulle met verdeelde harte. ... Ter stawing net enkele resente voorbeelde: Die belangrike werk van die Waarheids- en Versoeningskommissie is net negatief beskou en met agterdog bejeën. Baie van ons dink nog steeds dat 'vreedsame' naasbestaan ('versoening' sonder opregte skuldbelydenis werklik moontlik is!). 'n Professor aan die Teologiese Skool maak in die openbare pers rassistiese opmerkings - en kom skotvry daarvan af. "

Die skrywer praat oor "trivialisme of beuselagtighede" en nivelleer in 'n bepaalde opsig die basiese strydpunte in die kerk. Die saak van die WVK is belangriker as om vas te staan by die prinsipiële en tradisionele norme en waardes van die kerk. Dit word op 'n skertsende wyse deur hom as volg beskryf:

"Die nuwe woord dui op nog 'n sterwenstrek wat telkens in die geskiedenis bevestig is, naamlik om jou met irrelevante onbenullighede besig te hou. Dit wil sê 'n kerk wat vergeet het wat sy prioriteite behoort te wees, en daarom nie meer kerk kan wees nie. Die 1997 Sinode is in die pers beskryf as die Sinode van 'wine' (kelkies by die nagmaal), 'women' (die vrou in die ampte) en 'song' (psalmberymings). Seker noodsaaklike dinge oor te praat (beslis nie lewensbelangrik nie), maar op dieselfde Sinode word 'n skulderkenning oor apartheid afgestem, omdat die beskrywingspunt wat so 'n belydenis voorgestel het, nie oortuigend genoeg sou wees om so 'n belydenis te regverdig nie. Asof so 'n ernstige misdaad soos die onreg van apartheid sonder enige skuldbelydenis net vergeet en begrawe kan word! Wat moet word van 'n kerk wat geen besef meer het van wat sonde is nie?"

Die onderrok van liberale en Skrifkritiese neigings hang verder uit met die volgende standpunte van hom:

"As u hierdie sterwenssimptoom duidelik wil sien, lees dan DIE KERKBLAD. Dit is volgens baie nie meer die blad van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika nie, want dit het 'n gekaapte blad geword, die stem van 'n gedeelte van die Gereformeerde Kerke. ... Persona non grata (ongewenste skrywers, omdat hulle nie 'his master's voice' laat hoor nie) kry hulle artikels teruggestuur met 'n flou of selfs sonder enige motivering ... . Nog 'n voorbeeld: 'n Ander lidmaat se boek word deur 'n eer-waarde dominee 'geresenseer' - en by voorbaat afgekraak - sonder dat hy (die 'resensent') dit nog self gelees het! Die ketterjagtery word nou dus al selfs teen eie lidmate gepleeg! ..."

Hierdie "Requiem" van prof Van der Walt moet in 'n ernstige lig beskou en aangespreek word. Want dit verteenwoordig 'n tendens wat ver strekkend is. Dit is nie net hy wat so tekere gaan oor simptome van 'n gewaande verval van die kerk van Jesus Christus nie. Dit betref 'n gedagtestroming wat in hoofsaak gedeel word deur talle professore, predikante en ander vooraanstaandes in die GKSA en daarbuite, vernaamlik in die verligte kringe van die NG en NH Kerke onder beïnvloeding van die postmodernisme en die bybelse ontwaarding deur die Skrifkritiese eksegetisering en toepassing van die heilige en onbetwyfelde Woord van God.

Die enigste wyse waarop dergelike aanvalle op die kerk daadwerklik teengestaan en geweer kan word is om dit aan te spreek op die amptelike kerklike vergaderings: kerkraad, klassis, partikuliere sinode en uiteindelik die Nasionale Sinode. Leer en lewenstug betref die asemhaling van die kerk. As die kerklike tug nie gehandhaaf word nie, dan versiek die kerk. Daaromtrent sal die Nasionale Sinode 2000 duidelik standpunt moet inneem teen hierdie soort aksies wat onderneem word om die kerk te ondermyn. En die plaaslike kerke sal in eie geledere moet toesien dat die ware leer, volgens die Drie Formuliere van Eenheid asook die reëls van die kerkorde, getrou gehandhaaf word en die tug oor hulle lidmate, professore of wie ook al, moet toepas as dit nie die geval is nie.  ®