Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: 'N "STERWENDE KERK" ?  Prof Bennie van der Walt se "'Requiem' op 'n sterwende kerk"

AKTUEEL: Christene se  deelname aan verkiesings

SKRIFOORDENKING: "Om te wag op die belofte van die Vader" (Hand 1 : 4 en 5)

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (2)

WARE EN VALSE SPIRITUALITEIT

SKRIFKRITIEK: Teologiese fondament vir die Nuwe Suid-Afrika

BOEKBESPREKING:  WA de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (2)

KERKLIKE JOERNAAL:  Independentistiese vernuwing:   " 'n Gemeente wat in selgroepe funksioneer ..."
Dr PW Bingle se Evolusionisme

OPVOEDING EN ONDERWYS: Die Akademie vir Christelik-volkseie Onderwys (ACVHO)

DIE ONBYBELSE MULTI-RELIGIEUSE BENADERING IN DIE HUIDIGE ONDERWYSBEDELING

DIE EVOLUSIELEER VERSUS DIE BYBELSE SKEPPINGSOPENBARING

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (4)

PERSRUBRIEK:  Lewens- en Wêreldbeskouing
Nog NG predikante uit NG Kerk uit?
Wil volk skuld hê?

KOMMENTAAR:  Korrespondensie met die Kuratorium TSP

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (5)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Die drome aangaande die moderne medisyne

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 2  Maart  1999

KINDERKOMMUNIE:
REFORMASIE OF DEFORMASIE?

DS  T DANZFUSS  -  (NGK)  WITFIELD

(Tweede Aflewering)
(Eerste Aflewering)

In vervolg op die vorige aflewering kyk ons nou kortliks vanuit 'n Gereformeerd- konfessionele perspektief na die sogenaamde "kindernagmaal". Kan 'n kerk wat kindernagmaal bedien nog bekend staan as 'n Gereformeerde kerk? Die Gereformeerde belydenisse, kategismusse en formuliere ken geen kindernagmaal nie, en dit laat ook nie ruimte daarvoor nie. Ons beperk ons om slegs na enkele voorbeelde te verwys. Die besluit in 1568 reeds by die Konvent van Wezel geneem, is 'n goeie samevatting van die belangrikste beginsels wat telkens in die Gereformeerde belydenisse, kategismusse en formuliere gegeld het.

Die Konvent van Wezel het bepaal dat niemand tot die nagmaal toegelaat mag word nie, behalwe "die tevoren belijdenis des geloofs zal gedaan hebben en zich aan de kerklike tucht onderwerpt". Oor die wyse waarop dit moet gebeur staan daar: "Het onderzoek zal voor den kerkeraad geschieden, terwyl daarna zij, die tot de openbare belijdenis zijn toegelaten, in 't openbaar vóór de gemeente zullen worden ondervraagd in de voornaamste hoofdstukken des geloofs, opdat zij daarop hunne toestemming geven, en zij zullen zich tegelijk onderwerpen aan de kerkelijke tucht ... Catechisatie, belijdenis en avondmaal waren onafscheidelijk aan elkander verbonden." Soortgelyke besluite is geneem deur verskeie ander Gereformeerde sinodes uit daardie tyd soos byvoorbeeld dié van Dordrecht 1574 (Art 70); Dor-drecht 1578 cap 4, Art 12); Middelburg 1581 (Art 43) ensovoorts.

Ons vind in hierdie besluite 'n paar beginsels wat ook die uitgangspunte van al die Gereformeerde belydenisse, kategismusse en formuliere was.

Die onlosmaaklike band tussen doop, kategese, geloofsbelydenis en nagmaal. (Kindernagmaal verbreek hierdie band)

Groot klem op die amptelike opsig en tug by die toelating tot die nagmaal. Niemand mag nagmaal gebruik wat homself nie openlik onder die kerklike opsig en tug geplaas het nie. (Kindernagmaal vind plaas sonder enige verklaring van onderwerping aan die kerklike opsig en tug).

Betrokkenheid van die hele gemeente by toelating tot die nagmaal. Toelating tot die nagmaal was nie aan die ouers oorgelaat nie. Dit was 'n saak van die gemeente. (Voorstanders van die kinderkommunie ignoreer die gemeente en beklemtoon slegs die ouers se verantwoordelikheid).

Die inhoud van die kategese wat as vereiste vir die toelating tot die nagmaal gedien het, was omvattend. (Barnard en ander maak asof die nagmaalkandidate maar bloot moes "ja" antwoord op die vraag of hulle in Jesus glo. Die klem op deeglike kennis en die openbare belydenis het volgens hulle eers later onder druk van die wederdopers en onder invloed van die rasionalisme en piëtisme gekom). Daarteenoor bewys bloot die bestaan van die baie kategismus-se uit daardie tyd, asook hulle omvattende inhoud, dat die kindernagmaal verkeerd beskou is.

Daar was nooit enige sprake daarvan dat die doop die enigste toegang tot die nagmaalstafel was nie!

Kategese en geloofsbelydenis is nie die voorwaardes vir deelname aan die nagmaal nie, maar eerder die noodsaaklike toegangsweg tot sinvolle nagmaal.

Bogenoemde beginsels wat hard en duidelik teen die kindernagmaal getuig, word telkens teruggevind in die Gereformeerde belydenisse, kategismusse en formuliere.

1. DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS

In die oorspronklike kerkorde van Paltz het die Heidelbergse Kategis-mus tussen die Doopformulier en die Nagmaalsformulier gestaan. So het die HK letterlik en figuurlik die brug tussen die doop en die nagmaal gevorm.

Die Algemene Sinode van die NG Kerk erken wel dat gedooptes eers in Jesus moet glo voordat hulle nagmaal kan gebruik, maar hulle hol die begrip "glo in Jesus" so uit dat dit radikaal verskil van die geloof in Jesus waarvan die HK praat. Die HK ken geen geloof sonder inhoud nie. Die kennis wat vir hierdie geloof nodig is, is die drie punte van sonde, verlossing en dankbaarheid. Dit is met ander woorde die hele inhoud van die kategismus - dus deeglike kategese.

Sien ook vr/antw 21 (wat is ware geloof?) en vr/antw 81 (wie moet nagmaal gebruik?). Die HK ken geen "dat" ek glo, sonder die régte "wat" ek glo nie, en geen nagmaal sonder deeglike kategese nie. Om in Jesus te glo veronderstel 'n sekere kennis van Hom. Hiervoor is die kategismus opgestel - om 'n brug te vorm vanaf die doop na die nagmaal! Die volgende vrae/antwoorde skep ook probleme vir die kindernagmaal: vr/antw 1, 2, 20, 21, 22, 61, 81, en 82.

2. DIE NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS

Volgens Art 35 van die NGB is die nagmaal slegs ingestel vir hulle wat reeds weergebore is. Sommige wil die woord "weergebore" hier verklaar asof die NGB hier na die doop verwys. Dit is egter duidelik dat die NGB hier nie van die doop praat nie, maar van die wedergeboorte self. Indien mens Art 35 tesame met die kindernagmaal aanvaar, dan eindig jy of by die Roomse sakramentisme, of by die ou dwaling van die leer van die "veronderstelde wedergeboorte". Ander artikels van die NGB wat groot probleme vir die kindernagmaal skep is: Artikels 22, 24, 27, 28, 29, 33 en 35.

3. DIE DORDTSE LEERREELS

In die Dordtse Leereëls vind ons die vernaamste uitgangspunte van die Gereformeerde verlossingsleer. Hierdie uitgangspunte word volledig bespreek by die gedeelte oor die soteriologiese perspektief waar daarop gewys word dat die Gereformeerde verlossingsleer geen ruimte laat vir die sogenaamde kindernagmaal nie.

4. THE WESTMINSTER LARGER CATECHISM

Ruimte ontbreek om dit te bespreek, maar duideliker as enige ander kategismus, word die voorbereiding vir en die deelname aan die nagmaal hier uiteengesit (vr/antw 171 - 177). Hierdie kategismus sê uitdruklik dat die nagmaal, anders as die doop, nie vir kinders ingestel is nie (vr/antw 177).

KONKLUSIE

Die Gereformeerde Belydenisskrifte, formuliere en kategismusse laat geen ruimte vir kindernagmaal nie.

Danzfuss T Kinderkommunie: Reformasie of Deformasie? UP 1998, bl 320 - 326