Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 2 Maart 1999
KOMMENTAARKORRESPONDENSIE MET DIE KURATORIUM TSP
In die vorige uitgawe van ons blad is in "Gesprek met die Lesers" (bl 19) terloops vermeld om kortliks die korrespondensie met die Kuratorium TSP te bespreek. Dit is gedoen na aanleiding van 'n artikel in DIE KERKBLAD waarin van die Kuratore se kant geskryf is dat dit hulle behoefte is om met die redaksie van ons blad in gesprek te tree, "al word versoeke in dié verband telkens van die hand gewys". Sodoende is verwys na korrespondensie wat oor die saak gevoer is. Ondertussen is 'n uitnodiging deur ons redaksiekommissie aan die Kuratorium gerig om onder leiding van 'n onafhanklike voorsitter, waaroor gesamentlik besluit kan word, 'n gesprek te kom voer tydens 'n vergadering wat deur die redakteur van ons blad te Pretoria belê sal word. Tydens die skryf van hierdie kopie is verneem dat dié uitnodiging aanvaar is en dat oor die finalisering daarvan binnekort met ons oorleg gepleeg sal word.
Enkele sake kan uitgelig word vir publikasie na aanleiding van die gevoerde korrespondensie, naamlik (1) versus die Kuratorium; (2) versus prof JH van Wyk: en (3) versus prof JM Vorster.
(1) Die Breë Dagbestuur van die Kuratore TSP (BDB) het geen "kerkregeringstaak" in die sin van kerkrade en (afgeleide gesag) meerdere vergaderings van die kerke nie. Hulle bevoegdhede is beperk tot die sorg en toesig oor die diens van die predikantsopleiding. Derhalwe het die BDB geen gesag oor aksies van kerklidmate, soos die deelname aan maatskaplike organisasies en die bedryf van 'n kerklike tydskrif nie. Vir skriftuurlik- kerkordelike besware geld die kerklike weg van vermaan en hantering deur bevoegde kerklike vergaderings. ... Dit is 'n ope vraag of die polemiese aksie van ons blad "die huidige stand van sake die Skool (TSP), die Gereformeerde Kerke en die saak van Christus groot skade berokken". Is die BDB ten opsigte van hierdie vraagstuk, terwyl hyself 'n betrokkene is, die regte instansie om daaroor te oordeel? Wat is die kriteria vir die werklike skade van die Skool, die Gereformeerde Kerke en die saak van Christus? Is dit nie die trou aan die waarheid van God se Woord en die handhawing van die Gereformeerde belydenisskrifte en die kerkorde nie?
(2) Vrae rondom die skuldbelydenis waarby prof JH van Wyk betrokke was: ... Die saak van Van Wyk se ooreenstemming met en ondersteuning van die WVK word deur die redaksie van ons blad prinsipieel betwis omdat dit berus op 'n ongereformeerde Skrifbeskouing ("bevrydingsteologie") en deel is van die volksvyandige terroristiese en ideologiese aanslag teen die voormalige staat en bewind van die RSA. Die WVK geld as die uiterste konsekwensie van die vernietiging van ons voormalige staatsbestel en die Skrifgefundeerde (LW nie ideologie nie!) beleid van afsonderlike ontwikkeling. Vergelyk ook die (betwiste) beroep van prof GJC Jordaan op die Skrifeksegese van onder andere prof Greijdanus in DIE ALGEMENE KERKBODE van 12/13 Junie 1998.
Die klag van prof van Wyk (VW) oor die sorgvuldige weglating van "al die Skrifgegewens wat VW ... ter sprake gebring het" ... Dit is doelbewus gedoen, want (1) dié motivering is in ander blaaie, tot VW se beskikking reeds gestel, en (2) omdat volgens ons redaksie in hierdie geval die Skrifgegewens gebruik word om 'n onregverdige (revolusionêre) saak te regverdig en die beleid van afsonderlike ontwikkeling te diskrediteer en vir eens en vir altyd te verwerp. (LW Dit gaan nie oor 'n skriftuurlike skuldbelydenis aan God en betrokke persone nie maar om 'n belydenis van skuld oor wat deur die ateïstiese en revolusionêre ANC as 'n "onregverdige politieke stelsel van die verlede" beskou word en sekere optrede van die voormalige regering om ons land teen die terroristiese stryd van die ANC te verdedig.) Lees die argumentasie hieroor in ons blad, Januarie 1998, bl 1 en 2. ... Ons het doelbewus geweier om deur middel van ons blad aan prof van Wyk 'n bykomende geleentheid om sy (skriftuurlike) motivering van hierdie saak te verskaf, oor dit wat ons in die sterkste moontlike (Skrifgefundeerde) terme verwerp en teenstaan.
(3) Vrae rondom standpunte van prof JM Vorster: Die BDB vra hoe die redakteur van ons blad oordeel "oor die Sinodebesluit van 1985, art 651, wat die besluite van die GES 1984 oor menseregte bestempel as 'n 'unieke en waardevolle bydrae vanuit suiwer Gereformeerde gesigspunt'?" - Ons antwoord daarop met te verwys na beswaar van die gemeente Pretoria/Die Kandelaar, wat tot tweemaal toe by die Nasionale Sinodes 1988 en 1991, gedien het. Die tweede gravamen is ingedien by die Sinode van 1991 (Agenda bl 337 - 353). - Ons skryf toe met daarna te verwys: Daardie gravamen is deur die regskommissie oorweeg en aanbeveel vir behandeling. Prof Vorster het dié advies uit die banke van die sinodesaal teengestaan en daarop aangedring dat dit nie behandel word nie. Sonder dat die advies van die regskommissie verder bespreek is en repliek op prof Vorster se voorstel nie gevra is of gelewer kon word nie, is oor dié saak gestem en behandeling afgewys. Sodoende het dit nie gedien nie en is dus nie weerspreek nie. Die redaksie van ons blad staan by 4.4.1 op bl 351 van hierdie voorgestelde gravamen, waar die kerkraad van Pretoria/Die Kandelaar as volg konkludeer:
"Volgens die kerkordelike, metodiese en prinsipiële besware het die kerkraad ... geoordeel om die besluite van die Nasionale Sinode 1988 nie as vas en bindend te beskou nie. Dus is die Klassis Pretoria-Sentraal versoek om die redelikheid, die "gewigtige redes" as grond vir hierdie Beswaarskrif, te oorweeg. Die Klassis se advies stem ooreen met die oortuiging van die kerkraad dat daar genoegsame en gewigtige redes is om opnuut oor die saak van die GES-Verklaring oor Menseregte te besin ... . Daarom word die Nasionale Sinode van 1991 hiermee versoek om hierdie Beswaarskrif te behandel, en te herbesin oor die besluit van die Sinode van 1985, oor sy standpunt oor die GES-Verklaring, dat dit " 'n unieke en waardevolle bydrae vanuit 'n suiwer Gereformeerde gesigspunt oor die veelbesproke tema van mense-regte bevat". Die kerkraad staan vas by sy oortuiging dat daardie uitspraak in stryd met die aanvaarde norme en kerkorde van die Gereformeerde Kerke is, dat die betwiste uitspraak verkeerd was en derhalwe ongeldig verklaar moet word."
Ons redaksie beskou hierdie uitspraak oor die GES-Verklaring oor Menseregte - volgens die reël van die KO, art 31 - dus nie as vas en bindend nie, omdat dié gravamen genoegsaam bewys lewer dat dit in stryd met Gods Woord of die artikels van die kerkorde is.
Betreffende prof Vorster se artikel oor "Rassisme en Versoening" is beredeneer dat in dié spesifieke opsig wat ter sprake was, sy benadering "meer ideologies as suiwer skriftuurlik gemotiveer is". Dit is gestel in 'n spesifieke konteks en beteken nie noodwendig 'n veralgemening nie. Maar oor prof Vorster se optrede tydens die veelvormige multi-religieuse gebedsdiens van KODESA II ..., sal ons nie swyg totdat hy homself openlik daarvan gedistansieer en skuldbelydenis daaroor gedoen het nie. Die redakteur (P van der Kooi) het in persoonlike hoedanigheid sterk gemotiveerde besware laat dien in die kerkverband (Kerkraad, Klassis en Part Sinode) asook by die destydse Kuratorium van die Teologiese Skool Hammanskraal. Sonder dat aan die wesenlike van dié beswaar, naamlik die vraag of dit volgens die leer van die kerk soos vervat in die Skrif, Belydenisskrifte en die kerkorde ooreenstem om deel te neem aan dié demonstratiewe multi-religieuse gebedsdienste beantwoord is, is dié besware sonder oortuigende argumentasie verwerp. Met die oog daarop kan genoem word dat die Partikuliere Sinode Noord-Transvaal van 23/24 November 1993 oor die uitspraak verdeeld was en dat ongeveer eenderde van die aanwesige afgevaardigdes daarteen gestem het. Die redaksie beskou die uitspraak van die Part Sinode asook dié van die Kuratorium nie as vas en bindend nie, omdat met sterk argumente aangevoer en bewys gelewer is - KO, art 31 - dat daardie optrede van JMV nie ooreenstem met die skriftuurlike eis om geen ander gode voor God se aangesig te hê nie (Eks 20 : 3) in die omstandigheid van die multi-religieuse geselskap van KODESA II.
Daar is talle ander sake wat in die korrespondensie met die Kuratorium ter sprake was, maar dit strek te ver om dit alles te vermeld. Dit is essensiële sake waaroor verskil word! ®