Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: 'N "STERWENDE KERK" ?  Prof Bennie van der Walt se "'Requiem' op 'n sterwende kerk"

AKTUEEL: Christene se  deelname aan verkiesings

SKRIFOORDENKING: "Om te wag op die belofte van die Vader" (Hand 1 : 4 en 5)

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (2)

WARE EN VALSE SPIRITUALITEIT

SKRIFKRITIEK: Teologiese fondament vir die Nuwe Suid-Afrika

BOEKBESPREKING:  WA de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (2)

KERKLIKE JOERNAAL:  Independentistiese vernuwing:   " 'n Gemeente wat in selgroepe funksioneer ..."
Dr PW Bingle se Evolusionisme

OPVOEDING EN ONDERWYS: Die Akademie vir Christelik-volkseie Onderwys (ACVHO)

DIE ONBYBELSE MULTI-RELIGIEUSE BENADERING IN DIE HUIDIGE ONDERWYSBEDELING

DIE EVOLUSIELEER VERSUS DIE BYBELSE SKEPPINGSOPENBARING

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (4)

PERSRUBRIEK:  Lewens- en Wêreldbeskouing
Nog NG predikante uit NG Kerk uit?
Wil volk skuld hê?

KOMMENTAAR:  Korrespondensie met die Kuratorium TSP

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (5)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Die drome aangaande die moderne medisyne

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 2  Maart  1999

MEDIESE ETIEK

DIE DROME AANGAANDE
DIE MODERNE MEDISYNE

DR  MC DURAND

Die doel van die geneeskunde is om die pyn en die lyding van die mens te verlig. Ten spyte van die vordering wat die geneeskunde sedert die vorige eeu gemaak het, is dit steeds onduidelik of dit in dië opsig geslaag het. Dit wil eerder voorkom of die teendeel waar is. Die gedagte aan lyding vervul meeste mense uiteraard met smart, maar die gedagte dat jy as gevolg daarvan mediese behandeling moet ondergaan, gaan gepaard met 'n gevoel van angs. Deel van die angs sien ons in die asemrowende ywer wat mense (dikwels gesond) by mediese fondse aansluit en daarvoor betaal. Die wanhoop waarmee lyding bejeën word, sien ons onder andere in die wettiging van eutanasie, die deur 'n dokter geassisteerde selfmoord. Dikwels word die geneeskunde vandag in plaas van 'n barmhartige helper as 'n geweldenaar gesien; in plaas van 'n helende hand as 'n ingrypende. Die oorsaak van hierdie wanhoop is die krisis wat in die moderne geneeskunde ontstaan het.

In die modernisme vind ons twee groot drome, waarvan die eerste die vertroue op die wetenskap en tegnologie behels. Die moderne wêreld word geken aan sy tegnologie, industrie, massaprodukise, kompetisie en prestasie. Die simbool van die moderne wêreld het die fabriek en winsbejag geword. Die geneeskunde het daar nie by agter gestaan nie. Die geneesheer se entoesiasme en energie word al hoe meer in beslag geneem deur die tegniese uitdaging, vindingrykheid en vernuf van sy professie. 'n Groot deel van die kontaktyd wat die pasient met die gesondheidsorg het, word gespandeer aan die tegniese ingrepe wat die moderne medikasie en medisyne hom kan bied. Die geneeskunde se selfbeeld en gesig na buite vertoon al hoe meer die beeld van 'n alvermoënde tegniese reus.

Die aansien van die geneesheer word veelal bepaal deur sy behendigheid met die tegnologie. Die front wat hy aandurf is nie meer die siekte van die mensdom nie, maar die uiterstes waarheen sy tegnologie hom kan neem. Die dokter is nie maar 'n kunstenaar mét sy instrumente nie, maar eerder 'n kunstenaar daarván. Die tegnologiese uitnemendheid van die medikus bring eerder 'n skans tussen hom en sy pasient wat duur is en sy eie lyding meebring.

Nie net die beeld van die (moderne) geneeskunde het verander nie, maar die beskouing van die pasient het ook verander as gevolg daarvan. In die toepassing van die moderne genees-kunde word die mens nie meer beskou as bestaande uit 'n liggaam en 'n gees nie maar slegs as 'n liggaam met 'n fisiologie. Selfs die sielkunde en die psigiatrie van die mens word as produkte van die neurofisiologie beskou. Soos die afskeiding van die niere urine is, so is die produk van die brein gedagtes. Dit strek sover dat in die gebruik van die moderne medisyne daar nouliks plek vir die mens soos God hom geskape het, is nie. Die mens word gesien as 'n masjien wat goed of sleg funksioneer. En, soos met enige ander masjien, word die menslike een ook onderverdeel in "ingenieursonderdele". Elke onderdeel het dan sy spesialis wat opgelei is om dit te hanteer. Die spesialis abstraheer die siektegeval, doen sy ondersoeke en hanteer die behandeling. Maar dit ontneem die pasient van sy mensheid. Dít verdwyn op die agtergrond terwyl sy siekte, die spesialis en die mediese vernuf die sentrum van die belangstelling word. Die gevolg hiervan is dat slegs aan die onderdeel van die siekte aandag verleen word terwyl die pasient self, vir die res, geen troos of bystand by die geneesheer vind nie. Die moderne medikasie bied sodoende 'n onvoldoende troos aan die pasient.

Die pasient het die bystand van die dokter gesoek vanweë sy lyding. Lyding beteken egter baie meer as maar net 'n wanfunksie van 'n onderdeel. Lyding is 'n toestand van pyn van die hele mens, liggaamlik en geestelik. Indien die geneeskunde die lyding van die pasient na behore wil behandel, sal nie net na die onderdeel se funksie, in abstraksie van die pasient, gekyk moet word om dit te genees nie, maar sal die totale omvang van dié lyding in ag geneem moet word. Dit is iets wat die moderne geneeskunde nie in staat is om te doen nie.

Die tweede groot droom is dié van vooruitgang. Die moderne wêreld word geken aan sy optimisme oor die toekoms. Die moderne mediese wetenskap kyk met trots na die verlede en spog met sy oorwinnings oor siektes soos die pokke, polio, geelkoors, pes, longontsteking, ensovoorts. Die moderne geneeskunde verwys ook graag na die vordering wat gemaak is met die behandeling van kanker, hartsiektes en orgaanoorplantings. Veral insake die huidige toepassing van oorplantings en genetiese manipulasies skep dié aanpak die indruk dat dit 'n plek in die beheerkamer van die lewe gekry het. Die trots op die prestasies van die verlede het die onheilspellende ambisie vir die beoefening van die mediese wetenskap laat ontstaan om die toekoms van die mens te kan beheer.

Die oortreffende vlak van die mediese entoesiasme oor die toekoms word onder andere gesien in die definisie wat die Wêreld Gesondheids Organisasie (WGO) aan gesondheid verleen. Sy definisie betref 'n toestand van volkome liggaamlike, geestelike en maatskaplike welsyn en nie maar slegs die afwesigheid van siekte of gebrek nie. Sodanig is die selfversekerdheid van die mediese wetenskap die waagstuk om hierdie droom van vooruitgang tot doel te verhef. As gelowiges weet ons dat so 'n toestand (droom) van volkomenheid nie deur ons tegnologie sal bereik word nie. Dit is 'n gawe van God aan sy kinders wat bewaarheid sal word met die wederkoms van ons Here Jesus Christus. Watter wrede ontnugtering wag daar nie vanweë die vertroue op die moderne mediese vermoë nie?!