Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 2 Maart 1999
DIE ONBYBELSE MULTI-RELIGIEUSE BENADERING IN DIE HUIDIGE ONDERWYSBEDELINGOpenbare Onderwys toenemend onaanvaarbaar vir Verbondskinders
Daar is twee jaar gelede 'n vyfmanskommissie onder voorsitterskap van mnr Paul Faller, verbonde aan 'n Katolieke Onderwysinstituut, aangestel om ondersoek in te stel na die ongelukkigheid en ontevredenheid omtrent die godsdiensonderrig in die nuwe leerplanne van Kurrikulum 2005. Die adjunk Minister van Onderwys, vader Smangaliso, het vroeër die week 'n mediaverklaring oor die verslag van die godsdienskommissie uitgereik. In dié verklaring meld vader Mkhatswa dat die konsepverslag op 27 Januarie 1999 vir kommentaar deur die publiek en onderwysgemeenskap beskikbaar gestel gaan word. Die Staatskoerant van 27 Januarie moet dus vir die doel dopgehou - verkry en krities gelees - word.
In die verslag getitel: "Religion in Curriculum 2005", wat 65 bladsye beslaan, word daar onder andere vier keuses of opsies aan leerlinge gelaat om van te kies wat godsdiensonderwys in die openbare skole betref. Hierdie opsies kom op die volgende neer:
Die bedoeling is dat dié nuwe godsdiensbeleid stelselmatig saam met Kurrikulum 2005 ingefaseer sal word. Vrae wat elke regskape opvoeder en onderwyser in hierdie verband wil, en behoort te vra, is onder andere die volgende: Wat word bedoel met die veelbesproke uitkomsgebasseerde transformasie van godsdiensonderwys? Waarom moet die kind wat nog beïnvloedbaar, vormbaar en ontvanklik vir indrukke is met alle godsdienste, alle gelowe, alle kulture, en alle vorme van moraliteit in dieselfde skaal en in dieselfde klaskamer gebreinspoel word? As na die voorgeskrewe lys van godsdiensmodelle gekyk word, sal verstaan word wat met bogenoemde vrae bedoel word.
Die leerlinge moet naamlik in die eerste band (vanaf graad 1 tot 9) kennis maak met die volgende godsdiensmodelle:
Dwarsdeur die voorstelledokument word by herhaling gesê dat alle leerders, ongeag geloof, geakkomodeer moet word. Ons het dus onteenseglik hier te make met 'n multi-godsdiens onderwysbenadering. Wat meer is: daar word onomwonde verklaar dat Afrika Christelikheid (African Christianity) die hele idee van 'n Eurosentriese godsdiensbenadering wat tot onlangs gegeld het, moet verplaas en vervang. Die Bybel moet voortaan sogenaamd in die Afrikakonteks gelees en verstaan word. Die antwoord op bogenoemde vrae is enkelvoudig ongeag die misleidende inligting wat deur die voorstanders van die multi-godsdiensbenadering verstrek mag word.
Die doel met die nuwe vier godsdiensmodelle is om die Christenkind voor te berei vir die sogenaamde reënboognasie en die reënboogkonglomeraat. Dit is egter net die begin, want die jaar tweeduisend is geoormerk as die oorwinningsjaar van die eenwêreldgodsdiens (sinkretisme) oor die Christendom. In die VSA word openlik verklaar dat die openbare skole gebruik moet word om die Christendom sy finale nekslag toe te dien. In die jaar 2000 moet die Nuwe Wêreldorde, waarvan daar so baie gepraat word, tot vergestalting kom. Die "New Age Kids", soos die nuwe geslag kinders genoem word, sal dan ten volle ryp en vatbaar wees om die godsdiens-geïntegreerde wêreld sonder meer te aanvaar.
Ons mag nie nalaat om op die noodlottige gevolge van die godsdiensintegrasie-proses by leerlinge te wys nie. Hierdie noodlottige resultate behoort elke opvoeder en elke ouer wat sy of haar sent werd is tot nugterheid te skok. In die eerste plek moet hulle daarop let dat verskillende godsdiensmodelle uit-eenlopende en teenstrydige opvattings huldig oor wie God is en wat die doel, die sin en die betekenis van die wêreld is. Hierdie teenstrydige en onversoenbare godsdiensbeskouings wat nou op gelyke vlak aan die kind opgedis word, werk nie net verwarrend en verduisterend op die kindergemoed in nie, maar leer die kind ook om onverskillig en relatief teenoor die grondvrae en die belangrikste lewensvrae te staan. Sulke kinders vind gewoonlik geen sin in die lewe nie, word maklik depressief en pleeg sonder rede selfmoord.
In die tweede plek word deur hierdie godsdiensbenadering 'n absoluut siek en patetiese verdraagsaamheid aan kinders geleer. Respek vir ander se godsdiens- en kultuurbeskouings is een ding, maar 'n sieklike, humanistiese en pap verdraagsaamheid beroof die kind van 'n gesonde oordeelsvermoë. Dit is presies wat hierdie aanhangers van die Nuwe Wêreldorde wil bewerkstellig, want dan aanvaar die kind dit sonder meer: hierdie Nuwe Wêreldorde wat 'n antichristelike eenheids-wêreld is. Ouers moenie vergeet nie dat hierdie gevaarlike vorm van verdraagsaamheid die kind se vermoë om tussen goed en kwaad, waarheid en leuen, reg en verkeerd te onderskei, laat verval. Juis met die oog daarop waarsku die Here in sy Woord: "Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis ... (Jes 5:20).
Sonder gevaar van teenspraak kan beweer word dat hierdie godsdiensmodelle ons op baie gevaarlike terrein laat beweeg. As dit hier verkeerd loop kan dit noodlottig wees vir die kind, vir sy of haar ouers, asook vir die kerk en vir die volk in die algemeen.
| RADIO PRETORIA SE NUUSKOMMENTAAR, VRYDAG 22 JANUARIE 1999 |