Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: 'N "STERWENDE KERK" ?  Prof Bennie van der Walt se "'Requiem' op 'n sterwende kerk"

AKTUEEL: Christene se  deelname aan verkiesings

SKRIFOORDENKING: "Om te wag op die belofte van die Vader" (Hand 1 : 4 en 5)

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (2)

WARE EN VALSE SPIRITUALITEIT

SKRIFKRITIEK: Teologiese fondament vir die Nuwe Suid-Afrika

BOEKBESPREKING:  WA de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (2)

KERKLIKE JOERNAAL:  Independentistiese vernuwing:   " 'n Gemeente wat in selgroepe funksioneer ..."
Dr PW Bingle se Evolusionisme

OPVOEDING EN ONDERWYS: Die Akademie vir Christelik-volkseie Onderwys (ACVHO)

DIE ONBYBELSE MULTI-RELIGIEUSE BENADERING IN DIE HUIDIGE ONDERWYSBEDELING

DIE EVOLUSIELEER VERSUS DIE BYBELSE SKEPPINGSOPENBARING

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (4)

PERSRUBRIEK:  Lewens- en Wêreldbeskouing
Nog NG predikante uit NG Kerk uit?
Wil volk skuld hê?

KOMMENTAAR:  Korrespondensie met die Kuratorium TSP

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (5)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Die drome aangaande die moderne medisyne

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 2  Maart  1999

SKRIFOORDENKING

"OM TE WAG OP DIE BELOFTE VAN DIE VADER"

DS  JH NEL  -  WARMBAD

"En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank na hierdie dae nie." (Hand 1:4 en 5)

In Handelinge 1 : 4,5 is Christus wat gekruisig is en ook opgestaan het, aan die woord. Die beloftes van sy kruisiging en opstanding het Hy reeds ge-stand gedoen. Die vernedering wat Hy moes ondergaan, het Hy in ons plek verduur. Met sy opstanding het Hy reeds die staat van sy verhoging betree. Die volgende stap in sy verhoging sou die hemelvaart wees. Net daarvoor het Hy nog 'n belofte aan sy dissipels gegee, die belofte van die doop met, oftewel die uitstorting van die Heilige Gees. Pas na hierdie laaste belofte is Hy "opgeneem terwyl hulle dit sien" (Hand 1 : 9).

'n Bevel het aan dié belofte vooraf gegaan. Die dissipels moes wag op die belofte om vervul te word. God is die handelende Persoon. Hy neem die inisiatief. Die dissipels moes op Hom wag. Hulle moes wag op die volgende ingrype van God, die uitstorting van die Heilige Gees.

Naas die bevel het hulle ook die versekering ontvang dat die belofte "nie lank na hierdie dae nie", met ander woorde, góu vervul sou word. So het dit ook gebeur. Op Pinkster, die Fees van die Weke" (Eks 34 :22; Lev 23 : 15, 16; Deut 16 : 10) is die Heilige Gees uitgestort. Die fees van die weke was die geleentheid waartydens Israel die voltooiing van die oes herdenk het. Die koms van die Heilige Gees op Pinkster dui daarop dat Christus se verlossingswerk op aarde voltooi is. Die bedeling van die Heilige Gees het aangebreek.

Wat Christus begin het, die Heilige Gees het daarmee voortgegaan. Die Heilige Gees het gekom om in die kerk van Christus die Here te kom woon en hom toe te rus asook in die waarheid te lei tot by Christus se wederkoms.

Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster was 'n eenmalige unieke en onherhaalbare gebeurtenis. Die gebeure in Samaria (Hand 8), met die huis van Cornelius (Hand 10 : 44 - 46) en in Efese (Hand 19) was nie nuwe uitstortings van die Heilige Gees nie, maar verdere uit-breiding van wat op Pinkster plaasgevind het. Die eenmalige uitstorting van die Heilige Gees was volkome genoegsame vervulling van die belofte van die Hoof, Christus, aan sy kerk. In die eenma-lige uitstorting van die Heilige Gees het die kerk van Christus heeltemal genoeg ontvang om as sy kerk hier op aarde, tot die dag van sy wederkoms te kan voort-bestaan. Ons het niks méér nodig nie!

Die uitstorting van die Heilige Gees was 'n eenmalige gebeurtenis in die Openbaringsgeskiedenis. Die opdrag om op die uitstorting van die Gees te wag was dus uit die aaard van die saak ook eenmalig en is met Pinkster afgehandel. Daarná het die kerk 'n ander, 'n verdere opdrag ontvang ... nie om altyd deur op 'n verdere uitstorting van die Heilige Gees, 'n herhaling van die Pinkstergebeure, te wag, of om steeds daarvoor te bid nie - soos destyds gedurende die "herlewing" van 1861 en die jare daarna wel tydens die Pinksterbidure gedoen is, 'n tradisie wat tot vandag in sekere kerke, by name die sogenaamde Pinksterkerke, nog steeds onderhou word. Nee, die Kerk se opdrag is om met die Gees vervul te word (Ef 5 : 18).

Die Pinksterbidure het sy ontstaan in ongeveer 1860/61. Na aanleiding van herlewing in die buiteland het daar ook in Suid-Afrika 'n behoefte vir godsdienstige herlewing ontstaan. Gebedsamekomste is gehou, waartydens om die uitstorting van die Heilige Gees gebid is. Hierdie gebedsdienste het 'n vaste instelling geword tot vandag. Hierdie mistasting word represtinasie genoem. - Die kerk verplaas homself as 't ware na die omstandighede van die eerste gemeente terug en pas dié gebruike van destyds biblisisties, dit is sonder in ag neming van die openbaringshistoriese konteks, net so op vandag toe. Dit kan nie. - Die oorsprong en onderhouding van dié bid-ure sal daarom baie moeilik vanuit die Woord begrond kan word.

Die nuwe opdrag aan die kerk, wat wel in die Woord gevind word, hou verband met die wederkoms van die verhoogde Christus in heerlikheid. Dié wederkoms betref die laaste groot ingrype van God in die Openbaringsgeskiedenis.

Die kerk het weer 'n opdrag om te wag op die vervulling van 'n belofte, die belofte van Christus se wederkoms. Hoe moet die kerk die wederkoms van sy Hoof inwag?

Die opdrag aan die kerk is om met die Gees vervul te word (Ef 5 : 18) . 'n Baie belangrike aspek van vervulling deur die Heilige Gees is om teen jou eie gevoelens en wil in, nie deur menslike faktore en invloede nie, maar deur die Heilige Gees beheers te word en die Woord van God te gehoorsaam. Wat nodig is, is dat die kerk van Christus weer kinderlik gelowig alleen maar sal vra: Wat sê die Here in sy Woord?

Die kerk sal hand in eie boesem moet steek en homself ook moet verantwoord oor 'n saak soos die sogenaamde kerklike jaar. Kan die kerk eerlik sê dat die Woord alleen gehoorsaam word, indien daar aan die kerklike feesdae, waaroor geen opdrag in die Woord van God gevind word nie, veel meer aansien - dit kan nie ontken word nie - verleen word as aan die onderhouding van die rusdag waaroor in geen onduidelike taal by herhaling wel opdrag gegee is nie? Het wêreldgelykvormigheid nie met Paasfees en buitensporige kersvierings ook reeds in die kerk beslag gekry nie? Weerklink die getuienis van die kerk van Christus nog helder en met oortuiging in die wêreld, of het die kerk se stem stil geword, omdat lustig meegedoen word met die wêreld in die vieringe van die kerklike feesdae, met die gepaardgaande geskenke en winskopies wat die handelaars bied? Hou gerus maar die advertensies dop, gedurende die begin van April!

So maklik beland die kerk op 'n dwaalspoor. In die kerklike jaar word in die prediking byvoorbeeld vir die sogenaamde lydensweke voorsiening gemaak. Die Gereformeerde belydenis, wat op die Woord gegrond is, leer egter dat Christus se ganse lewe op aarde een groot lyding was (Sondag 15). Op watter Skrifgrond word 'n enkele tydperk afgesonder as sou dit die lydingstydperk van Christus wees?

Die tyd waarin ons ons bevind, met humanisme, wat die mens met sy gevoelens en vermeende regte in die sentrum plaas, maak dit gebiedend noodsaaklik dat die kerk van Christus, dit wil sê: ons, die gelowiges, ons in die Woord van God sal verdiep, sodat ons nie op allerhande dwaalspore beland nie. Die Heilige Gees werk deur die Woord en nie deur die gevoelens van mense nie. Hy lei ons deur die Woord en nie deur een of ander geestelike behoefte van die mens wat om vervulling roep nie.

Alleen onder die leiding van die Heilige Gees, in gehoorsaamheid aan die Woord van God, sal die kerk as ware kerk van Christus staande kan bly totdat Hy weerkom. Vra daarom na die Woord van God alleen en leef dan waarlik Geesvervuld!