Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 2 Maart 1999
PERSRUBRIEKLEWENS- EN WęRELDBESKOUING
| "Alle menslike handelinge, ook vorming en beoefening van wetenskap, word deur norme bepaal: Norme bepaal pligte, dit wat behoort gedoen te word en wat nie behoort gedoen te word nie. Norme volg uit die mens se lewens- en węreldbeskouing, sy basiese oortuigings omtrent die eintlike en diepste betekenis van die werklikheid in sy lewe en bestaan, en van die węreld soos hy dit ervaar", skryf prof PH Stoker in 'n artikel "Wetenskapsbeoefening tot eer van God" in DIE KERKBLAD van 27 Januarie 1999, bl 24. |
Prof Stoker skryf verder:
Oor al die milenniums heen probeer die mens om uit sy ervaring en kennis self 'n lewens- en węreldbeskouing met sy verstand te bedink, 'n lewens- en węreldbeskouing wat dan universeel en altyd geldig sou wees. Die wetenskaplike metode word hiervoor gebruik. So word lewe volgens die "neutrale" wetenskaplike metode geheel en al beskou as 'n natuurproses. Die evolusieleer is hiervan 'n voorbeeld.
Wetenskaplike teorieë berus altyd op veronderstellings, op aannames. Dit bepaal ook die verstaan en interpretasie van dit wat waargeneem word. Christelike wetenskap gaan uit van die Bybelse lewens- en węreldbeskouing. Daarvolgens is die mens na die beeld van God geskape, het in sonde verval en word in Christus verlos.
Ons belydenisskrifte (die drie Formuliere van Eenheid) gee in die lig van die Woord van God die geloofsraamwerk, die grondmotief, die religieuse beginsel waardeur wetenskap, kennis en ervaring met geloof geďntegreer kan word en waaruit beginsels en norme vir die aanwending van kennis afgelei kan word. Daarom: "In U lig sien ons die lig" (Psalm 36 : 10b - 1953-vertaling).
Prof Stoker skryf aansluitend oor die "Christelike wetenskapsbeoefening" as volg:
Net soos ons daaglikse lewe 'n verbondenheid met God Drie-enig moet hę, moet ook wetenskap en ons beoefening daarvan aan God verbonde wees. Hierdie verbondenheid vereis 'n ingesteldheid of houding (gesindheid) tot diensbaarheid, opregtheid, sorgsaamheid en werksaamheid. Hierin bly die verhouding tussen God en mens primęr. Lewenstake (of roeping) voer die mens uit in bepaalde samelewingsverbande, tot diens aan God en sy naaste.
Die mens moet dan ook 'n werkhouding aanleer om deur inspanning dit wat sy hand vind om te doen, met alle mag tot eer en verheerliking van God te doen. As gevolg van so 'n werkhouding, wat kinders meestal tuis aanleer, was ons ervaring dat ons studente in aanvraag by werkgewers is.
Ons aanskouing van die węreld, ons ervaring, ons gevoelens, ons redenasies, ons insig en vermoëns, ons beoefening en uitbou van die wetenskap word deur sonde benewel. Slegs deur die bril van die Heilige Skrif, die instrument van God se Gees waardeur Hy persoonlik met ons spreek, kan ons die dinge in hulle werklike verbande en in hulle begrensings sien. Ons moet daarom die Bybel se openbaring in sy geheel en in al sy dele aanvaar.
Die kerk gee deur sy belydenisskrifte rekenskap van ons geloof in die leringe van die Bybel. Die kerklike aanvaarding van geloofsbelydenisse, in die besonder die drie Formuliere van Eenheid, is rigtinggewend vir die norme van die lewe van sy lidmate, solank dié belydenisskrifte in ooreenstemming met die Woord van God is. Dit is ook rigtinggewend vir die norme in die beoefening en uitbou van die natuurwetenskappe deur sy lidmate, en in die toerusting van studente vir hulle lewenstake.