Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 2 Maart 1999
SKRIFKRITIEK:
TEOLOGIESE FONDAMENT VIR DIE NUWE SUID-AFRIKA
| "Deist was seker saam met Johan Heyns, die twee teoloë wat die grootste invloed uitgeoefen het op die kerke van Suid-Afrika in die twintigste eeu ...", aldus Slabbert Le Cornu, in DIE ESRA VERSLAG van Januarie 1999, bl 10. In 'n insiggewende artikel skryf hy oor Skrifkritiek onder andere as volg: |
Soos in die dae van Jesus Christus, is daar vandag ook nog baie geleerdes in teologiese skole wat nie God se Woord waarlik ernstig wil glo nie. ... Die verskynsel van Skrifkritiek het sy historiese verloop begin neem met Satan wat God se Woord betwyfel het, en die mens wat sy rede as toetssteen daarna gebruik het om God se Woord te "toets" of dit waar is of nie. Die norm vir alle waarheid is verskuif van God se Woord na die mens se rede of verstand. Daar het die stryd begin waarin die mens, in plaas van sy verstand te gebruik "om God se gedagtes agter Hom aan te dink", verander na die mens wat sy rede verhef om God en sy Woord aan die mens se standaarde te toets. ...
Die kritiese aanval word veral gerig op die volgende:
Hierby kan ook gevoeg word die volgende sake: die sogenaamde weerspreking van Genesis 1 en 2, die Sinoptiese probleeem, ontkenning van wonderwerke, ensovoorts.
Skrifkritiek ... is daarom enige Skrifbeskouing wat die volkomenheid, onfeilbaarheid, foutloosheid en betroubaarheid van die Skrif betwyfel, en dus enige van die Bybel se uitsprake betreffende die geloof, geskiedenis of wetenskap, eers wil toets aan die mens se rasionalisme voordat dit as waar aanvaar kan word. Ten einde kritiseer óns die Bybel en nie die Bybel vir ons nie; en moet die Bybel by ons omstandighede aangepas word in plaas van dat ons volgens die Bybel reformeer en lewe. Skrifkritiek setel dan ook die "moeilikhede, teenstrydighede en probleme" in die sogenaamde hermeneutiese probleem en nie in - soos die Bybel ons leer - in die sondigheid en opstandigheid van die gevalle mens nie. Die gevolg is dat die moderne mens met sy ongelowige wetenskap en tegnologie nou op al die antwoorde sal afkom; terwyl die Bybel "onverstaanbaar, onduidelik en vreemd" geword het. Wat 'n grap? Die sondige mens kan ons duidelik verstaan, maar die heilige God se stem word stilgemaak!
Die praktyk van Skrifkritici kom dan ook daarop neer dat die Bybel gesien word as 'n godsdienstige boek vol foute met mites en verhale om mense religieus te inspireer. Die Bybel is nie meer die finale en hoogste openbaringsboek en gesagsboek vir die mens nie. ... Die uiteinde van Skrifkritiek is dat die mens op aarde nie meer die Bybel as hoogste en finale gesag het nie (behalwe net vir sy persoonlike binnekamergods-'diens'). Die gelowige het nie meer 'n finale toetssteen waaraan hy sy lewe oor die algemeen kan meet nie. Dit beteken veral dat die Bybel ook nie iets te sê het vir die samelewing, soos byvoorbeeld opvoeding, politiek, ekonomie, regte, ensovoorts nie.
Die Evangelie van Jesus Christus word ten laaste betwyfel, alhoewel dit met die eerste betwyfeling reeds in die slag gebly het. ... Die mens is dus oorgelaat aan homself om uit die natuur en vele godsdienste, die doel, betekenis en rigting in die lewe te vind (Rom 1:18-32). Die gevolge is godsdienstige, intellektuele, ekonomiese en morele verval van die hedendaagse samelewing waarin ons ons bevind, en waarop die kerke geen antwoorde het nie, want tereg soos die Skrif leer: "As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?" (Ps 11:3).
In Suid-Afrika het die Skrifkritiek ook sy verwoestingspad geloop, veral deur 'teoloë' soos Loader, Deist en hul volgelinge. Tot en met die sewentiger jare is dit 'redelik' suksesvol bekamp, maar dit het geleidelik onder "Barthiaanse" verdraagsaamheid sy weg gevind in Suid-Afrikaanse teologiese skole. Die meeste teoloë sal ruiterlik ontken dat hulle "Skrifkrities" is, maar in die praktyk het dit sy vashouplek gekry. Jurie Le Roux skryf dat sedert die sewentigs die hoër kritiese benadering sy 'rightful place' in die Ou Testamentiese studies in Suid-Afrika gegun is, toe die Unisa teologiese fakulteit die voortou begin neem het met die verspreiding van die Skrifkritiek in Suid-Afrika. ... Ferdinant Deist was die man om hierdie nuwe geloof en Skrifbeskouing in Suid-Afrika te populariseer, soos Le Roux met 'n groot gejuig, in die volgende baie betekenisvolle woorde opmerk:
"It was a fine day for Old Testament scholars at Unisa and Pretoria when Deist joined their ranks in January 1977. Like Caleb, he had a different spirit (Nm 14:24). He was to mould the thoughts of many and to become a major intellectual force exerting a far-reaching influence on students as well as colleagues. By means of his many books, articles and study guides he shaped the minds of his students and equipped them theologically for a new society."
Deist was seker saam met Johan Heyns, die twee teoloë wat die grootste invloed uitgeoefen het op die kerke van Suid-Afrika in die twintigste eeu, en so kan die laaste woorde van Le Roux tereg aanvaar word, naamlik dat Deist, direk en indirek, deur sy invloed, die teologiese fondamente vir die Nuwe Suid-Afrika gelê het. ...
Die kritiese teologie - in sy verskeie vorme wat Unisa en ander instansies Suid-Afrika ingestuur het, het geleidelik daartoe gelei dat al hoe meer mense die Skrif se finale gesag oor leer en lewe begin bevraagteken het. Myns insiens, het die kritiese teologie (saam met die Barthianisme), direk of indirek die weg voorberei vir die nuutste "isme", naamlik die postmodernisme wat nou soos 'n golf oor Suid-Afrika spoel. Die nuutste dogma is dat "daar nie 'n absolute reg en verkeerd is nie". Die gevolge is wat ons vandag sien: die totale verval in die gesins-, kerklike en sosiale lewe in Suid-Afrika, sodat die volgende Skrifgedeelte ook vir óns waar word: "In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë".