Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 2 Maart 1999
WARE EN VALS SPIRITUALITEITDS BC SMIT - BRITS-WES
| 'n Hernude belangstelling in spiritualiteit word die afgelope tyd sigbaar. In dié verband kan verwys word onder andere na die artikels van prof CJH Venter (1998: In die Skriflig, Jaargang 32 (4), bl 457 - 468; van JW Oostenbrink en GW Lotter (1998: In die Skriflig, Jaargang 32 (1), bl 1 - 18; en "'n Eerste Spiritualiteitsretraite vir Teologiese Studente" waaroor reeds berig is in DIE KERKPAD van Januarie 1999, bl 11. In die lig van hierdie hernude belangstelling is dit seker nodig om vroegtydig te besin oor die verskille tussen ware en valse spiritualiteit. Die noodsaak blyk ook uit die geskiedenis omdat juis ten opsigte van die spiritualisme deur die eeue talle uitwasse voortgespruit het wat verwoesting binne die kerk gesaai het. Wat hier volg is 'n poging, om met erkenning aan dr K Schilder (1929: Tusschen "Ja" en "Neen", Kampen: JH Kok, bl 167 - 232), kortliks onder ses hoofde, die verskille tussen ware en valse spiritualiteit uit te lig. |
1. God se spreke en werk binne en buite ons
Egte spiritualiteit soek voortdurend na die band tussen die spreke en werk van God buite die gelowige en binne in hom. Die valse spititualiste bekommer hulle egter nie oor hierdie band nie en verbreek dit ook spoedig. Hulle maak van "die Lam volg waar Hy ookal heengaan" 'n blinde vertroue op allerlei tekste wat jy "kry" deurdat God dit op jou hart lê. Daarom word 'n mens volgens die valse spiritualisme gelei deur visioene of tekste wat gegryp, letterlik opgevat en uit verband geruk word. Op hierdie wyse word die band tussen die Selfopenbaring van God deur die Woord enersyds en sy innerlike werk deur die Gees in ons harte andersyds, deurgesny.
Natuurlik betref dit geen skriftuurlik genormeerde geloof nie.Trouens, dit kan selfs die duiwel wees wat tekste so by mense laat opkom en gewoonlik dan ook nog verdraaid. So word die Skrif deur hierdie mense van die innerlike lig minderwaardig geag. God lê, volgens hulle, die mens allerlei raaisels op deur drome, visioene en hulle eie belewing. En gelukkig is Hy so goed om 'n "Boek" te gee met allerlei oplossings vir dié raaisels. So kan die valse spiritualis homself dan ook troos dat die uitleg van sy hart, dit wat hom "ingegee" is, selfs Skrifsanksie besit.
2. Die verhouding van God se werk teenoor ons werk
Die regte verhouding is God se werk in ons wat eerstens tot ons kom. Daarom, daarna en daardeur kom ons werk tot stand. Die valse spiritualisme maak egter skeiding tussen God se werk en ons s'n. Sy beloftes is byvoorbeeld slegs geldig vir sover ons dit wil aanvaar. Daarby is die grootste doel van die valse spiritualis dat die christen (die kenmerke van "vroomheid") in die mens gestalte moet kry en nie meer Christus nie.
3. Moment en tyd
God se werk word deur die valse spiritualisme ook gefragmenteer. Uiteindelik gaan dit oor wat ons as mense nou beleef en ervaar en geniet. Dat God ook planmatig volgens sy raadsplan werk word misken. God is intussen nóu tog nie anders as in die tyd van Abraham, Jesaja of Paulus nie? Die geestelike belewing van die oomblik moet daarom organies een wees met sy deurlopende werk aan die individuele siel en aan die kerk.
4. Valse Spiritualisme neig telkens tot individualisme
Omdat die eie verborge siel vir die valse spiritualis die bron is van "geestelike dinge", is daar by diegene min oog vir God se werk na buite. So 'n mens staan dan ook maklik met die rug na die algemene Christelike Kerk. Daarenteen verbind die ware spiritualiteit steeds die kerk aan Christus. Nie die band tussen die Bruidegom en die individu staan voorop nie, maar wel die band tussen Hom en sy Bruid, die Kerk.
5. Verstand en gevoel
Gesonde spiritualisme wil die geopenbaarde (die kenbaar gemaakte) wil en werk van God beleef. Afwykende spiritualiteit maak aan die ander kant 'n onderskeid tussen "ken" en "beleef" en skei dikwels dié twee. Daarom is hulle ook lief om te werk met die illusie van die "verstandschristen" wat hulle stel teenoor die "gemoeds- of gevoelschristen". Hierdie valse onderskeid (as-of geloof net kennis, of net belewing kan wees) word gemaak juis omdat die verstand telkens die korrektief bring op oordrewe geestelikheid. Terwyl die predikers van die "verstandsgodsdiens" poog om te preek volgens al die hoofstukke van die dogmatiek, preek hulle gunsteling predikers gewoonlik dan ook net oor die leer van die saligheid en die innerlike sielevertroosting.
Hierdie botsing tussen gevoel en verstand mag nie gering geskat word nie. Ten diepste bring dit die geloof in die gedrang, want die geestelike mens aanvaar God met hart, siel en verstand. 'n Mens kan dit trouens selfs sterker stel en sê dat die onderskeid tussen ware en valse spiritualiteit 'n onderskeid tussen godsdiens en selfdiens, tussen diens aan die ware God wat Hom openbaar in sy Woord en (andersyds) afgodediens is.
6. Woord en Gees
Ware spiritualisme hou onvoorwaardelik vas aan die eenheid van Woord en Gees. Die lyn wat gevolg word is soos volg: Die Gees neem uit Christus; Hy dra dit oor tot ons wese en ook uiteindelik in ons wese in. As die einde van die weg nie ooreenstem met die begin daarvan nie, mag/kan die ware vrome siel dit eenvoudig nie vertrou nie.
Daarteenoor bewerk en aanvaar die valse spiritualisme onwillekeurig 'n skeiding tussen Woord en Gees. Gewoonlik is hulle so verheug dat die "Gees" iets "gesê het", dat nie meer gevra word na die band met Christus en sy geopenbaarde Woord nie. So lei dit na 'n geestelike lewe wat die band met Christus en die vastigheid van God se verbond met sy eis en beloftes loslaat, daarenteen 'n soeke na die individuele en innerlike sielservaring en belewing.
Ds Ben Smit, lid van die redaksiekommissie van ons blad, het 'n beroep na die gemeente Brits-Wes aanvaar, waar hy op Sondag, 31 Januarie 1999, bevestig is. Dit is sy derde gemeente. Hy is in 1985 vir die eerste keer bevestig in Reddersburg, daarná in 1986 in Pretoria-Eloffsdal. Mag die Here hierdie nuwe verbintenis seën tot die eer van sy Naam. |
6. Slot
Vir die ware spiritualisme is die hoofsaak nooit die sielservaring nie, maar juis om God te ken met en in en deur sy Woord en werk. Dus is die spiritualisme wat skeefgetrek is, uiteindelik godsdiens sonder God, christendom sonder Christus en geloof sonder inhoud, omdat die individuele en innerlike ervaring nagestrewe word. Dit staan nie vas in die geloof in God se openbaring en die dogmatologiese kennis van die Woord van die Here en die vaste vertroue op sy verbondsbeloftes nie. Waar klanke van spiritualisme in ons tyd, ook onder Gereformeerdes, al meer opklink, is dit noodsaaklik dat die erns van hierdie dwaling - van die valse spiritualiteit - duidelik onderken, weerstaan en bestry sal word.