Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: 'N "STERWENDE KERK" ?  Prof Bennie van der Walt se "'Requiem' op 'n sterwende kerk"

AKTUEEL: Christene se  deelname aan verkiesings

SKRIFOORDENKING: "Om te wag op die belofte van die Vader" (Hand 1 : 4 en 5)

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (2)

WARE EN VALSE SPIRITUALITEIT

SKRIFKRITIEK: Teologiese fondament vir die Nuwe Suid-Afrika

BOEKBESPREKING:  WA de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (2)

KERKLIKE JOERNAAL:  Independentistiese vernuwing:   " 'n Gemeente wat in selgroepe funksioneer ..."
Dr PW Bingle se Evolusionisme

OPVOEDING EN ONDERWYS: Die Akademie vir Christelik-volkseie Onderwys (ACVHO)

DIE ONBYBELSE MULTI-RELIGIEUSE BENADERING IN DIE HUIDIGE ONDERWYSBEDELING

DIE EVOLUSIELEER VERSUS DIE BYBELSE SKEPPINGSOPENBARING

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (4)

PERSRUBRIEK:  Lewens- en Wêreldbeskouing
Nog NG predikante uit NG Kerk uit?
Wil volk skuld hê?

KOMMENTAAR:  Korrespondensie met die Kuratorium TSP

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (5)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Die drome aangaande die moderne medisyne

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 2  Maart  1999

AKTUEEL

CHRISTENE SE DEELNAME AAN VERKIESINGS

'n Prinsipiële Besinning
MARIUS COERTZE  -  PRETORIA

Eersdaags staan ons weer voor parlementêre en Provinsiale Raadsverkiesings. Waar staan 'n Christen-gelowige in hierdie saak en wat behoort ons benadering te wees? Besinning is noodsaaklik, maar dan besinning vanuit geloofsperspektief. 'n Skriftuurlike en prinsipiële benadering van die kwessie van deelname het tot voordeel dat elkeen die saak vir homself kan uitmaak, sonder om voorskriftelik te wees. Sodoende word die slaggate van persoonlike en politieke voorkeur vermy.

As vertrekpunt moet die fundamentele aard en karakter van ons staatkundige bestel beoordeel word. Groen van Prinsterer (1801 - 1876) stel dit treffend soos volg, waar hy dit het oor die oppergesag van die staat: "Is die soewereiniteit uit die mense of is dit uit God?" (vergelyk die betreffende artikel in hierdie uitgawe)

Duisende Christene het in April 1994 aan die verkiesing deelgeneem en daarmee hulle instemming met die huidige grondwetlike bestel betuig. Die Grondwet van Suid-Afrika is die hoogste wet in die land en vorm die hartklop van die huidige grondwetlike bestel. Dit is die normatiewe meetsnoer waaraan alle wetgewing en selfs ook menslike gedrag moet voldoen (art 2 daarvan). Die Grondwet is, volgens artikel 1(c), die verklaarde "oppergesag" op elke lewensterrein in ons land. In die aanhef van die Grondwet word ten doelwit duidelik gestel om 'n "nuwe gemeenskap" (dws: Nuwe Suid-Afrika) te skep op die grondslag van sogenaamde "menseregte" en 'n regering gebaseer op "die wil van die mense".

Die basiese waardes en beginsels van die Grondwet vind hul oorsprong in die filosofieë van die liberalisme en humanisme. Die Grondwet is in wese en herkoms 'n liberale en humanistiese stuk wetgewing. Die beginsels van die liberale humanisme waarop dit gebaseer is, is totaal in stryd met die Christelike geloofsbelydenisse en in die besonder met die gereformeerde geloof. Die vestiging van 'n humanistiese bestel wat as "nuwe gemeenskap" deur die Grondwet ten doel gestel word, is 'n Godsvyandige én Godsonterende bestel. Dit staan as mensgerigte bestel in wese direk teenoor die Christendom. Deelname aan die strukture en aktiwiteite (lees: verkiesings) van so 'n humanistiese bestel behels uiteraard ook instemming (uitdruklik of stilswyend) tot die basiese norme (grondreëls) waarvolgens die bestel funksioneer. Dit maak dus geen verskil vir watter politieke party gestem word nie, want die wesenskenmerke van die staatkundige bestel is reeds bepaal.

Die grondslag van die huidige staatkundige bedeling is dat dit geen volksverteenwoordiging daarstel nie, maar 'n demokratiese eenheidstaat deur middel waarvan die volk homself regeer en sy eie wette formuleer. Daarby dien die prinsipiële grondslag van "menseregte" en die multi-religieuse godsdienstige gelykstelling, asook godsdiensvermenging (sinkretisme), by uitstek as kenmerke wat vir opregte Christen-gelowiges 'n struikelblok vir deelname aan dié proses is. So byvoorbeeld is die Nuwe Suid-Afrika reeds voorafgegaan deur die multi-religieuse aanbiddings by die sittings van die destydse Kodesa 1 en Kodesa 2. Ook die opening van die Parlement en die inhuldigings-seremonie van die Staatspresident en sy adjunkte in Mei 1994 het gepaard gegaan met 'n gesamentlike aanbidding van Allah en die afgode van die Hindoes en Afrika-voorouerverering. Tans is die kwessie van godsdiensonderrig by die openbare skole in die brandpunt, waar dieselfde beginsels van godsdiensgelykheid en godsdiensvermenging as beleid vereis word.

Die vraag kan gestel word of Christen-gelowiges aan 'n staatkundige bestel se verkiesings behoort deel te neem en daaraan mee te doen, terwyl daardie bestel se waardes en norme direk indruis teen die Christelike norme en belydenis. Wat se eer is daar vir God deur Christene se deelname aan of instemming met 'n humanistiese (mensgerige) bestel? Oorwegings van bloot sekulêre en politieke aard geniet blykbaar voorkeur. 'n Pragmatiese benadering vir die bevordering van belange word nagestreef deur deelname aan die verkiesing. Dit hoort egter nie so nie. Jesaja 65 : 12 sê iets van so 'n situasie: "Julle het gedoen wat verkeerd is in my oë, julle het gekies vir wat My nie aanstaan nie." Mens kan tereg ook die vrae soos in 2 Kor 6 : 14 - 16 aan die orde stel.

Die Woord van God is baie duidelik omtrent die beginsels wat vir ons daaglikse lewe en ons menslike aktiwiteite behoort te geld. "Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God" (1 Kor 10 : 31). As dit dan in die gewone dinge so belangrik is, hoeveel te meer in belangriker sake, soos byvoorbeeld verkiesings? Dit is die vraag wat elke opregte Christen-gelowige ten opsigte hiervan moet beantwoord.

Natuurlik kan ons leef en werk in enige vorm van staatkundige bestel, ook in die huidige. Maar kan ons as Christene 'n humanistiese bestel ondersteun, propageer, bevorder en daarin opgaan? Nee, dit mag nie! Dit is in sekere sin vyandskap teen God en sy koninkryk, al is dit op 'n indirekte wyse. Dan moet ons maar liewers die gevolge dra, soos wat dit tans op elke lewensterrein sigbaar is en daagliks aan die lyf gevoel of ervaar word. So verklaar Hosea 5 : 11 dan ook: "Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel" (Sien ook: Ps 146 : 3; Jer 17 : 5; Jes 2 : 22).

Die euwels (vergelyk byvoorbeeld aborsie en dies meer) van die huidige bestel word egter gewettig en as goed en reg verklaar op grond van daardie einste Grondwet waarvoor talle Christen-gelowiges in April 1994 gestem het. Toe was daar geen beswaar of teenkanting vanuit die kerklike gemeenskap of van die geestelike leiers (lees: predikante) teen die liberaal-humanistiese waardestelsel wat deur middel van die nuwe Grondwet gevestig sou word nie - inteendeel!

Nou is die tyd ryp vir deeglike besinning. Duidelike en sterk standpuntstelling is dringend noodsaaklik vir elke Christen-gelowige in ons land. Dan kan daar begin word om die sogenaamde "morele krisis" aan te spreek. 'n Verknogtheid aan 'n politieke party en sy beleid is hier onvanpas want dit belemmer 'n onbevange besinning en verhinder 'n suiwere beginselstandpunt en -formulering.

Kom, laat ons dan in die geloof en getrou aan Gods Woord, vreesloos die regte pad loop. Die tyd is min, die verantwoordelikheid is groot en die gevolge is ernstig.