Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
AKTUEEL POLEMIES OF IRENIES Kommentaar op polemiek oor die tendense en motiverings vir verandering van die tradisionele denke en handelinge binne die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en ook ten opsigte van die kerklike lewe daarbuite, is nie onverwags nie.Dr Wim Vergeer, van die Gereformeerde Kerk, Potchefstroom-Oos, kritiseer dit tydens 'n oordenking by die Teologiese Skool op 31 Augustus 1999.
Daardie oordenking is nou gepubliseer in 'n uitgawe van DIE KERKBLAD 9 Februarie 2000 ( bl 6, 7 en 10).
Ons verwys na enkele gestelde argumente en reageer daarop as volg:
"Hierdie bydrae het betrekking op: Die betekenis van my vrede met God as ek van medegelowiges verskil", aldus dr Vergeer.
"Dit lyk of lidmate van Gereformeerde Kerke dit soms moeilik vind om meningsverskille op 'n Bybelse manier te hanteer. Veral sedert die 1997-Sinode is toenemend van polemiek gebruik gemaak om verskille te hanteer. Hierdie tendens kon bespeur word in die trant van verskeie vergaderings, nuusbriewe, pamflette, sommige briewe in Die Kerkblad en selfs in bydraes in die openbare pers soos Beeld. Sommige tydskrifte soos Die Kerkpad en Waarheid en Dwaling, omhels openlik polemiek as metode om meningsverskille tussen gelowiges te hanteer. ...
"Dit is vreemd dat daar in al die vlymskerp debatte, briefwisselinge en redeneringe destyds nooit gevra is of die polemiek dan wel 'n Bybelse metode is vir die hantering van onderlinge geskille nie. Verskeie faktore doen aan die hand dat die polemiese metode 'n nie-Bybelse hantering van verskille meebring. In stryd met Bybelse beginsels (onder andere Matteus 18) vermy die polemiek meesal persoonlike gesprek. Dit gebruik eerder die pers om openlik of deur middel van suggestie persone of standpunte waarvan verskil word, aan te val. Die styl is vyandig, argumentatief en verdelend. Dit is nie moeilik om te sien waarom die woord polemiek sy oorsprong in die Griekse woord vir gewapende konflik het nie. "In die Nuwe-Testamentiese leefwêreld word die Griekse woord vir polemiek byna altyd in die konteks van militêre aktiwiteit gebruik. Nêrens in die Bybel dui polemiek op iets opbouends nie. In Openbaring is polemiek 'n strategie van Satan. Hy voer oorlog (polemiseer) teen die twee getuies (Openb 11: 7), die nakomelinge van die vrou (kerk - Openb 12: 7) en die gelowiges (Openb 20: 8, 9). In reaksie polemiseer Migael, sy engele en Jesus teen Satan. ..."
Die teksverwysing in die laaste aangehaalde paragraaf is nie oortuigend nie. Dit verwys nie na argumentering en oorreding nie, maar na daadwerklike oorlog, boikot en fisiese geweld wat uitgeoefen word. Dit is 'n stryd wat die Satan voer om die "vrouesaad", die kinders van die Here, te verlei om afvallig te word. Daarop volg die reaksie van Migael, sy engele en Jesus teenoor Satan. Dit is nie 'n goeie voorbeeld van polemiek nie, wat in die gereformeerde dogmatiek onderskei word van ireniek, wat afgelei is van die woord irene, wat vrede beteken. Polemiek staan vir die antitetiese, 'n teenstellende benadering van sake, teenoor die ireniese metodiek wat deur dr Vergeer in sy artikel voorgestaan en beskryf word. Daarin stel hy polemiek teenoor sy opvatting van "genade en vrede", soos dit in die opskrif bokant sy artikel staan.
Dr Vergeer beweer dat Jesus "nooit gedurende sy lewe op aarde polemiseer nie" en dat Hy "ook nie sy volgelinge beveel om te polemiseer nie", verder ook dat "die apostels nie polemiseer nie." As polemiek egter meer in die sin van teenstellende beredenering beskou word, dan is hierdie argument nie geldig nie. Daar is oorvloedige bewys dat die profete in die Ou Testament en die - deur die Heilige Gees aangedrewe - evangeliste en apostels in die Nuwe Testament naas die vrede wat nagestrewe is, ook die teenoormekaarstelling, die metode van weerlegging, polemiek, gebruik het in die teboekstelling van die Heilige Skrif. Vergelyk onder andere in die boek Matteus die volgende Skrifgedeeltes: Matt 4: 1 - 10; 11: 20 - 24; 12: 22 - 32; 12: 38 - 45; 15: 1 - 20; 23: 1 - 39. Ook die algemene sendbrief van Judas, en in die Openbaring van Johannes, die briewe aan die sewe gemeentes in hoofstuk 2: 1 - 3: 22, is teenstellend, polemies, van aard.
Polemiek is bedoel om reformerend te wees. Om te waarsku en terug te roep van 'n verkeerde pad of rigting. Dit betref dus voldonge openbare handelinge of gepubliseerde standpunte, menings en leerstellings ten opsigte waarvan beginselmatig verskil word. Dit handel oor sake wat op 'n bepaalde wyse 'n bedreiging vorm vir die waaragtige eenheid van die geloof en die Skrifgetroue gehoorsaamheid aan God en sy Woord. Polemiek dien om in die openbaar, volgens die norme en goeie tradisie van die kerk: volgens die maatstawwe van die Skrif en belydenisskrifte, daarop te antwoord en die betrokke persone terug te roep van die pad wat as verkeerd en heilloos gekritiseer word. Dit raak die hart van die kerk en sy lidmate, wat tegelykertyd gewaarsku word om nie dié afwykende handelinge, standpunte en lerings na te volg nie. Daarmee staan dit teenoor die ireniese benadering wat leer- en regeerverskille van die kerk nie in die publieke diskussie wil betrek nie.
Dr Vergeer verwys in sy artikel na die Nederlandse kerkgeskiedenis ná 1940, as gevolg waarvan "polemiek toenemend 'n rol gespeel (het) in die versplintering van die gereformeerde kerke." Deurgaans word prof Klaas Schilder as die skuldige beskou. Hy staan mos bekend as polemist by uitnemendheid. Sy polemieke dateer reeds vroeër as die veertiger jare. Na sy stellige mening is, "wie niet polemiseert, niet bekeerd" (1936). Polemiek word, of mens daarvan hou of nie, teenwoordig deur byna almal wat wil saampraat, beoefen, aldus Schilder: "Er wordt gepolemiseerd in de pers. Er wordt ook hevig gepo-lemiseerd ... in onderscheidene lokaliteiten, die de naam "Irene" voeren. ... Er wordt gepolemiseerd mét en zónder argumenten. Er wordt gepolemiseerd hardop en zachtkens. En - de één wil het weten, de ander niet." Tog het Schilder bekend gestaan vir sy vriendelikheid, eenvoud en behulpzaamheid. Dan is hy 'n lam. Nouliks klim hy in die pen, of hy word 'n leeu. Daarin lyk hy op wyle Ds JC Sikkel, wat in die omgang die beminlikheid self was, maar deur sy polemiek die naam van "scherpe sikkel" verwerf het, aldus ds WG de Vries (1974).
Dr Vergeer se artikel staan, al dan nie so bedoel nie, bestrydend, sê maar irenies polemies teenoor die antitetiese polemiese karakter van ons redaksie. Van ons kant stel ons as slotsom en verweer om na mekaar te luister aangaande die opregte en suiwere kritisering en weerlegging van mekaar. Daarin beaam ons die vier skriftuurlike opdragte (Rom 14: 1 - 15 - 15: 13), waarna dr Vergeer in sy artikel verwys.®