Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
"Let op jouself en op die leer"

AKTUEEL:
Polemies of irenies

SKRIFOORDENKING:
Die handelende Here Jesus hou sy Hand oor sy Kerk
Hand. 12:1-24

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (3)

Totius se vereistes vir Psalmberyming

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Pous en die 1983 Vertaling

Kerke en Staatslotery

Gesprek oor GKSA se Sinode 2000

Kleredrag in Kerk geen neutrale saak nie

Nkosi sikelel'iAfrika
Kan ons dit aanvaar en saamsing?

Kontra-kultuur, kultus en volkskultuur onversoenbare ooreenkomste?

Ongeoorloofde Abeeldings van Christus

Is dit moontlik om 'n Christen en 'n Evolusionis te wees?

WOORD EN WETENSKAP:
Mount St Helens

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die Verenigde Nasies
GKSA Predikant bedank
Die nuwe Kerkliedbundel

OPVOEDING EN ONDERWYS:
VCHO - 50 jaar van Genade
"Die wêreld van eie politieke dogma's en stelsels"

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (5)

PERSRUBRIEK: 
Geloofsverklaring 2000 - 'n belydenis vir GKSA?

Toesprake van Cassie Aucamp in parlement

KOMMENTAAR: 
Menseregte: Radio Pretoria versus Prof Amie van Wyk

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die menslike lewe in die lig van God se Woord

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 3  Mei 2000

TOTIUS SE VEREISTES VIR PSALMBERYMING

Ons wil in die volgende uitgawe enkele opmerkings publiseer oor die advies van die Nasionale Sinode 2000 aan die plaaslike kerke om alvorens die sitting van die volgende sinode, intussen kennis te neem van die voorgestelde "omdigting", ook bekend as die TT Cloete-beryming en tewens te kyk na die verbeterings wat prof PW Buys en gekoöpteerde medewerkers op die bestaande Totiusberyming aangebied het.  
Met die oog daarop publiseer ons vooraf, met instemming, 'n gedeelte uit prof VE d'Assonville se boek:
DIT IS TOTIUS ... (bl 162 - 164). Professor 'd Assonville skryf as volg:

Hebreeuse Psalms herdig

"Die woord psalmberyming is 'n onbevredigende misleidende woord. Dit dui as hoofsaak iets aan wat slegs bykomstig is: die rym, die musikale stylmiddel wat in die Hebreeuse poësie geen rol speel nie maar in die moderne Westerse digkuns algemeen gebruiklik is. Veral die volkspoësie bedien hom met voorliefde hiervan, en die 'berymde' psalm vir kerklik-liturgiese doeleindes is in sekere opsig volkspoësie. Dat die rym egter slegs stylmiddel is en nie tot die wese van die poësie behoort nie, blyk duidelik uit die feit dat van die beste gedigte van die grootste kunstenaars van vroeër en vandag rymloos is."

So skryf prof Gerrit Dekker, bekende letterkundige en lid van die Kommissie van Reviseurs van die eerste volledige Afrikaanse Psalmboek, wat in 1936 deur die Afrikaanse kerke goedgekeur is.

In die volksmond (uiteraard ook "kerkmond") is die naam psalmberyming so diep ingewortel dat dat daar nog nie 'n beter woord vir hierdie unieke kunsvorm in die poësie gevind is nie. As ons tog maar net sal besef dat ons hier met 'n kunssoort op sy eie te doen het - 'n kunssoort wat sy eie besondere vereistes stel. Iemand wat 'n psalmberyming aan die norme van die vrye liriek gaan toets en dit gaan beoordeel soos wat 'n mens met 'n gedig van NP van Wyk Louw of Dirk Opperman doen, "sondig teen die eerste beginsels van die letterkundige kritiek".

Dit is wat helaas, so maklik, met die psalms wat Totius "berym" het, kan gebeur. Die mede-Bybelvertaler, dr JD Kestell, wat so nou en intiem met hom saamgewerk het (vergelyk die lywige korrespondensie tussen die twee) weet van beter: "Psalmberymer! Treurige benaming van 'n digter! Dit laat ons dink aan rymelaar. Die Skotte was gelukkiger in hul woordkeuse toe hulle hul 'beryming' genoem het: 'The Psalms of David in metre'. Sal ons liewer nie sê dat Totius die psalms in digmaat oorgebring het nie?"

Verstommende vereistes

Die vereistes vir die man wat psalms wil "berym" is met een woord verstommend. 'n Kort samevatting van hierdie vereistes uit die literatuur hieroor in die kerkgeskiedenis (dink byvoorbeeld aan Hasper se twee reuse dele van digby 'n tweeduisend bladsye) is die volgende:

Calvyn die pionier

As die digter Totius hierdie vereistes probeer nastreef het, waar het hy dit gekry en wie het dit aan hom vertel? Die antwoord is kort en direk: by Calvyn!

Dit neem ons terug na die jaar 1539. Die plek is Straatsburg in Frankryk - naby die Duitse grens. Nadat Johannes Calvyn op 23 April 1538 uit die stad Genève verban is, word hy predikant van die klein Franse vlugtelinggemeente in Straatsburg. Dáár het hy die heel eerste Psalmboek vir die Gereformeerde kerke in 1539 uitgegee, die belangrike "Aulcuns Pseaulmes et Cantiques Mys en Chant". Hier het ons nou die moederbundel van alle ander Psalmbundels wat in die Gereformeerde kerke in die wêreld gepubliseer is; ook van die Afrikaanse Psalmboek. Daardie eerste beginsels, wat die vereistes vir 'n suiwer psalmberyming neerlê, word alreeds in 1539 deur Calvyn met die grootste nougesetheid neergelê:

Ten eerste is sy uitgangspunt die konsekwente handhawing van die gesag van God se Woord in die erediens van die kerk. In God se kerk: God se Woord - ook in die sang. Daaraan moet die vertolking, die beryming getoets word.

Ten tweede stel Calvyn die eis dat die berymings uit die grondteks, naamlik Hebreeus moet wees. Die berymings van die digter Marot was ook vanuit die grondteks. Dit kon gebeur deur die hulp van Francois Vatable, die Franse geleerde en die man van wie Calvyn sy Hebreeus geleer het. Letterlik woord vir woord, het Vatable aan Marot die psalms uit die grondteks in Frans deurgegee. Marot wat sy berymde psalms aan koning Frans I van Frankryk opgedra het, dig op 'n verbluffende handige manier 'n lang vers as inleiding. Hy sê onder andere aan die koning (vry vertaal) dat "die goddelike geeste wat onder u die Hebreeuse taal geleer het, die psalms duidelik aan die lig bring in ooreenstemming met die oorspronklike vorm." Meteens kan ons begryp waarom Marot se psalms alreeds in die Straatsburgbundel vir Calvyn aanvaarbaar was: dit was 'n beryming vanuit die oorspronklike Hebreeus. Selfs in elke teken, jota of tittel, bo of onder die Hebreeuse letters, het Marot die Hebraïkus Vatable gevolg.

Ten derde wou Calvyn nie 'n bloemlesing van willekeurige, verskillende style in sy Psalmbundel opneem nie. Daar mag nie 'n vermenging van verskillende soorte psalmbewerkings in die een bundel wees nie. Dit gaan ook nie om die digter se smaak of sy digkuns met menslike versierings nie, maar om die Woord. Calvyn vereis 'n Psalmbundel in een styl. Hierdie beginsel is konsekwent in die meeste Psalmbundels ná die Straatsburgse moederbundel deur Calvyn gehandhaaf. Volgens sy uitspraak voor die Raad van Genève op 10 September 1554, verwerp hy vermenging van soorte psalmbewerkings ten behoewe van digters, "wat vir hulle die lourierkrans wil omhang", nog vóórdat dit geblyk het dat hulle die kuns van "beryming" verstaan. Calvyn verwys hier na die digter Guéroult wat 'n psalmberyming uit Latyn vir die erediens teenoor dié van Besa voorgelê het. Hasper wys daarop dat daar ook in Calvyn se tyd 'n menigte digters was, "die meenden alles beter te kunnen". Die enkele "begenadigden" om Psalms te kon vertolk was altyd meer beskeie gewees.