Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
ONGEOORLOOFDE AFBEELDINGS,Nadat tydens die Reformasie van die sestiende eeu skoonskip gemaak is met die beelde en afgodiese relekwieë in die meeste kerkgeboue van die Rooms Katolieke Kerk, word dit tans heringevoer op 'n ander wyse, naamlik om dit aan te bied deur middel van filmvertonings wat nou ook deur die middel van televisie in die huiskamers gesien kan word en andersins deur lewendige aanbiedings van passiespele. Laasgenoemde het 'n bekende hoogtepunt, eenmaal in tien jare in Oberammergau geword. Tans vind dit navolging in verskeie plekke in ons land. In Pretoria is dit nou langs die strate wyd geadverteer om belangstelling daarvoor te wek.
Oberammergau s'n is 'n aantreklikheid wat deur reisagentskappe en geselskappe ver vóór die Paastyd geadverteer word, veral in kerklike tydskrifte. Dit het verskyn onder andere in Die Kerkbode (NGK), Die Hervormer (NHK) en Die Kerkblad (GKSA). Tog is dit in skriftuurlike opsig 'n verwerplike saak. Die argument word genoem dat dit mense versterk in hul geloof aan die verskriklike lyding wat Christus deurgemaak het ter wille van sy missie om ons te verlos van ons sondes. Die geloof kan in werklikheid nie versterk word deur die sensasie van die lydingspel nie. Ds CL van den Berg, voorsitter van die direksie van Radio Pretoria, het op Goeie Vrydag, 21 April 2000, in sy weeklikse praatjie daarna verwys en die opvoering en bywoning van passiespele skerp gekritiseer en onder andere gesê dat dit in stryd met die tweede gebod is. Die redaksie van Die Kerkpad staan ook skerp afwysend teenoor enige afbeelding, film- en passiespelopvoering, asook die advertering daarvan in die genoemde kerklike tydskrifte.