Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
IS DIT MOONTLIK OM N CHRISTEN EN N EVOLUSIONIS TE WEES?Hierdie artikel is ontleen aan Creation Ex Nihilo,
Sept-Nov 1989, gepubliseer in
Die Boodskapper (APK) Maart 2000, bl 17
Die skrywer, Dr Duane T Gish, het sy doktorsgraad in biochemie behaal aan die Universiteit van Kalifornië, Berkely. Hy het senior posisies beklee aan Berkeley, Cornell Universiteit en die Upjohn Maatskappy waar hy met verskeie Nobelpryswenners saamgewerk het. Hy het hom later by die Instituut For Creation Research aangesluit waar hy Visepresident was sedert 1972. In 1988 het hy ASJAS in die RSA toegepreek. Hy beplan om DV weer vanjaar 'n besoek aan ons land te bring.
Nee, geloof aan die historisiteit van Genesis is nie noodsaaklik vir ons verlossing nie. Ons moet egter dadelik byvoeg dat die bybelse weergawe en leer aangaande oorspronge 'n lewensbelangrike vraag is. In Genesis 1: 1 lees ons dat God "in die begin die hemel en die aarde geskape het". God het hierdie groot waarheid in die eerste vers van die Bybel laat neerskryf. Hy wou hê dat ons reg van vers een af moet weet dat Hy ons geskep het. Die Bybel verklaar dat God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees elkeen persoonlik by die skepping betrokke was.
Dit is verder duidelik dat die weergawe van die skepping wat in die Bybel aangetref word nie met die evolusieteorie versoen kan word nie. Byvoorbeeld, die Bybel beskryf in eenvoudig verstaanbare taal hoe God die vrou geskep het deur 'n ribbebeen van Adam in Eva te omskep (Genesis 2: 21, 22). Dié weergawe van die skepping van die vrou word ten volle in die Nuwe Testament bevestig: "Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man" (1 Kor 11: 8). Natuurlik glo geen evolusionis dit, of hy nou 'n teïstiese of 'n ateïstiese evolusionis is, nie. Alle evolusioniste glo dat mense uit aapagtige diere ontwikkel het, wat op hulle beurt uit 'laer vorms' evolueer het.
Baie ander teenstrydighede tussen die evolusieteorie en die bybelse weergawe van die skepping kan aangehaal word. Genesis sê dat alle lewende spesies gemaak is om volgens hulle soorte voort te plant. Dit sluit die transformasies wat deur evolusie benodig word, uit. Genesis 1: 27 beklemtoon by herhaling dat die mens na die beeld van God geskep is. Dit sluit tog evolusie vanuit 'n primaat uit? Miskien die betekenisvolste vir ons huidige bespreking: evolusie van die mens vanuit 'n primaat sluit nie 'n sondeval van 'n aanvanklike perfekte mens in nie. As daar geen val was nie, was daar geen nodigheid vir 'n Verlosser uit sonde nie.
Christus het Genesis letterlik vertolk. Sekere verse aan die einde van Johannes 5 is ter sake vir die Christen wat nie Genesis letterlik opneem nie. Die Here Jesus sê hier: "Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?" (Joh 5: 46,47).
Toe die Fariseërs Jesus oor egskeiding gevra het, het Hy geantwoord: "maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak" (Mark 10: 16).
Maar - volgens die evolusieteorie - het God baie biljoene jare ná die begin van die skepping primate in mense begin verander. Daarna het Hy Genesis 2: 24 vir hulle aangehaal. In Lukas 11: 50, 51 praat Jesus van "... die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af, van die bloed van Abel
af ..." Abel was die seun van Adam en Eva by die grondlegging van die wêreld! Aangesien die Here Jesus Christus die eerste hoofstukke van Genesis letterlik vertolk het, bevind die Christen wat 'n evolusionis is hom in stryd met sy Skepper/Verlosser. Is die dienskneg wyser as sy Heer?
Verder is die evolusieteorie teenstrydig met die eienskappe van God. Die evolusionis Loren Elsley het verklaar: "Die mens is 'n lang ketting van DNA ongelukke wat oor biljoene jare plaasvind." Carl Sagan word deur Time Magazine aangehaal: "Net deur die dood van 'n ontsaglike aantal effens wanaangepaste organismes is ons, brein en al, vandag hier." Hierdie twee uitsprake bevat die twee hoofeienskappe van die Darwin-meganisme vir evolusie: genetiese foute en dood. Mutasies, wat inderdaad toevallige genetiese ongelukke is, gevolg deur die uitsterwing van die minder goed aangepaste wesens, het glo die eerste mikroskopiese lewensvorm omskep in alle ander lewensvorme, fossiele en lewend, insluitende die mens. Die beste beskikbare getuienis dui daarop dat alle mutasies beserings is wat tot op 'n sekere mate die lewensvatbaarheid en/of vrugbaarheid van die gemuteerde organismes aantas.
Alle evolusioniste erken dat omtrent alle mutasies skadelik is. Etlike duisende genetiese siektes in die mens, toe te skryf aan mutasies, is nou bekend. Evolusie sou dus die verkwistenste, ondoeltreffendste, wreedste metode wees waaraan gedink kon word om die mens te skep. Sou 'n alomteenwoordige, alwetende, liefdevolle God so 'n proses gebruik om die mens in drie biljoen jaar te skep, as Hy hom oombliklik kon skep soos Hy wel gedoen het?
Toevallige genetiese foute en dood is die gevolge van die mens se sonde en opstand teen God (Rom 5: 12), nie die middels wat God vir skepping gebruik het nie! Die teïstiese evolusionis smaad onwetend God se karakter en kleineer sy heerlikheid.
Inderdaad, Romeine 5: 12 sê dat die dood die wêreld ingekom het as gevolg van Adam se sonde. Vir 'n Christen wat die Bybel glo, sluit hierdie een vers teïstiese of enige ander evolusie of gapingteorie uit.
Baie jongmense word deur evolusie oortuig dat hulle skaars meer is as 'n meganisiese produk van 'n verstandelose heelal, dat daar niemand is teenoor wie hulle, behalwe hulleself verantwoordelik is nie, Die veranderings ten kwade wat ons die afgelope vyftig jaar in die samelewing sien, is die voorspelbare gevolge van indoktrinasie deur evolusionêre filosofieë.
Ja, 'n mens kan 'n Christen en 'n evolusionis wees, maar so 'n standpunt is wetenskaplik en bybels onhoudbaar. Die Here Jesus Christus het Genesis letterlik opgeneem. Die evolusieteorie onteer God as Skepper en lei tot 'n rampspoedige sekularisering van die samelewing.