Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
"Let op jouself en op die leer"

AKTUEEL:
Polemies of irenies

SKRIFOORDENKING:
Die handelende Here Jesus hou sy Hand oor sy Kerk
Hand. 12:1-24

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (3)

Totius se vereistes vir Psalmberyming

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Pous en die 1983 Vertaling

Kerke en Staatslotery

Gesprek oor GKSA se Sinode 2000

Kleredrag in Kerk geen neutrale saak nie

Nkosi sikelel'iAfrika
Kan ons dit aanvaar en saamsing?

Kontra-kultuur, kultus en volkskultuur onversoenbare ooreenkomste?

Ongeoorloofde Abeeldings van Christus

Is dit moontlik om 'n Christen en 'n Evolusionis te wees?

WOORD EN WETENSKAP:
Mount St Helens

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die Verenigde Nasies
GKSA Predikant bedank
Die nuwe Kerkliedbundel

OPVOEDING EN ONDERWYS:
VCHO - 50 jaar van Genade
"Die wêreld van eie politieke dogma's en stelsels"

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (5)

PERSRUBRIEK: 
Geloofsverklaring 2000 - 'n belydenis vir GKSA?

Toesprake van Cassie Aucamp in parlement

KOMMENTAAR: 
Menseregte: Radio Pretoria versus Prof Amie van Wyk

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die menslike lewe in die lig van God se Woord

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 3  Mei 2000

DIE POUS EN DIE 1983 VERTALING

Die gebruik van die 1983 Bybelvertaling is 'n betwisbare saak wat deur ons redaksie versigtig hanteer word. Ons verkies en hanteer die meer letterlike vertaling van die Bybel (1933/53) bo die parafraserende van 1983. Ons bied ruimte vir die motivering van die agtergrond(e) en besware teen die 1983 vertaling, sonder om noodwendig alles wat aangevoer word vir ons rekening te neem. Die artikel onder die bogenoemde opskrif is aangebied deur 'n intekenaar/leser van ons blad, ds PJ Retief van 'n Vrye Gereformeerde Gemeente te Springs. Die verantwoordelikheid vir die inhoud hiervan berus geheel en al by homself.

Die ontstaan en opkoms van die pousdom

(lees asseblief Dan 7 : 19 - 27 en Openb 13 : 1 - 10)

Die geskiedenis rondom die pousdom lees werklik soos 'n riller. Vanaf die ontwikkeling van die primaatskap van die biskop van Rome, in die eerste eeue van die Kerkgeskiedenis, is al sy teëstanders en vyande teen 538nC oorwin en verslaan. Sedertdien het die pouse net in mag en rykdom toegeneem. In so 'n mate dat hulle meer as 'n duisend jaar lank die septer oor konings, keisers en prinse gedurende die donker Middeleeue geswaai het.

Die verwonding van die pousdom

God se Woord het egter voorspel dat een van die koppe van die dier "dodelik gewond" (Openb 13 : 3) sou word. Dit het (tydelik) in vervulling gegaan met die herstel van die gesag van God se Woord tydens die Kerkreformasie van die sestiende eeu. Die verwonding van die dier het ook sigbare vergestalting gekry met die gevangeneming van die sittende pous deur die Franse generaal Berthier in 1798 in Rome, wat dan ook later in ballingskap gesterf het. Nie een van die Rooms-Katolieke heersers het 'n vinger verroer om dié pous te verdedig of tot hulp te kom nie. Daar is dan ook gevra of Pous Pius VI die laaste sou wees en dat die einde van die agttiende eeu gekenmerk sou word deur die pousdom se val.

Die kenmerkende eienskap van die sestiende eeuse Kerkhervorming is ongetwyfeld die herstel van die plek vir die Woord van God in die Kerk. Sodoende is tegelykertyd die kernwaarheid van die regverdigmaking deur die geloof her-ontdek. Bewapen met hierdie waarheid het die Reformatore die vestings van duisternis vreesloos trompop geloop. Ongelukkig sou hierdie waarheid later weer in verwaarlosing en onbruik verval - ja, selfs binne Protestantse geledere.

Protestante wat eers teen die heidense dwalinge van Rome

"geprotesteer" het, hang vandag self Roomse en heidense afwykinge aan - soos gedeeltelik ook blyk uit die "Geloofsverklaring 2000" wat laasjaar Desember in Die (NG) Kerkbode gepubliseer is. In werklikheid is dit alles behalwe 'n geloofsverklaring, eerder 'n kompromie met die Skrifkritiek en 'n betwyfeling van die Christelike geloof soos dit in die gereformeerde belydenisskrifte uiteengesit is. Opnuut word Christus as die énigste Middelaar ontken en geloën.

Die genesing van die pousdom se wond

Volgens Openbaring 13 : 3 sou die "dodelike wond" egter weer genees. Mussolini het op 11 Februarie 1929 die verlore mag en prestige van die pousdom herstel. Belangstellendes kan na die straat by die Vatikaanstad in Rome gaan kyk wat hierdie gebeurtenis in herinnering bring. Dit is 'n breë straat wat na die hart van die Vatikaanstad tot binne-in die St Petrus-katedraal lei en bekendstaan as Rekonsiliasiestraat.

Sedert 1929 het die pousdom weer met rasse skrede vooruitgegaan. Sodoende is die groot "Sinode" van die Roomse Kerk, bekend as Vaticanum II, op 11 Oktober 1962 deur pous Johannes XXIII belê. Dit was dan ook die begin van dramatiese

verwikkelinge onder die volkere van die wêreld. Die sogenaamde Ekumeniese Beweging (ook die groot terugkeer na Rome genoem) het geweldig daarby gebaat en die mensdom kon met 'n sug van verligting na wêreldvrede begin vooruitsien.

Vaticanum II het dan ook tot die latere "Pacim in Terris" (vrede op aarde) -beraadslaginge in Genève - let wel, die stad van Calvyn! - in die tyd van pous Paulus VI, in 1969, gelei.

Hoe dit ook al sy, pous Johannes XXIII het 2 500 afgevaardigdes uit 134 lande vir die Vaticanum II na Rome genooi. Daar is op die naam "Johannes" vir hom besluit omdat hy van toe-af as die "apostel van liefde" sou poog om die Protestante (wat hy "afgeskeie broeders" genoem het) weer in die boesem van die Roomse Kerk terug te kry. Hy sou 'n "hervorming" binne sy kerk ontketen om dit te "suiwer" sodat die "afvalliges" geredeliker en sonder besware na die "moederkerk" sou kon terugkeer.

Vaticanum II was slegs die tweede "Algemene Sinode" van die Roomse Kerk wat ná die Protestantse Hervorming byeengeroep is. Ook het pous Johannes XXIII in sy paar jaar 32 staatshoofde in die Vatikaanstad te woord gestaan. Verder het hy met die eerste Shinto-priester samesprekings gehou om nouer samewerking tussen die godsdienste van die Ooste en die Rooms Katolieke Kerk te bewerkstellig - 'n doel waarin daar ten slotte uitmuntend geslaag is.

Hierdie selfde pous het ook die eerste hoofleier van die Episkopaalse kerk gespreek, die eerste moderator van Skotland, die eerste aartsbiskop van Canterbury in byna 500 jaar en die eerste Grieks-Ortodokse patriarg vanaf die vyftiende eeu. As in berekening gebring word dat tweederdes van alle Christene wêreldwyd Rooms-Katolieke is en van die eenderde wat oorbly sewe tiende Grieks-Ortodoks is en slegs die oorblywende drie tiendes as Protestante gereken kan word, kan ons begin ver-staan met watter oorweldigende aanslag ons teen die suiwer bybelse leer vandag te kampe het.

Die eeue oue en dodelike gevaar vir die suiwer Evangelie en die vyand van die Woord en gesag van die Skrif, was in die besonder die pouslike stoel te Rome. Die internasionale Kommunisme is daarom ook 'n rookskerm waaragter Rooms- Katolisisme sy wortels dieper in die lotgevalle van die mensdom inslaan sodat alle waarheid en godsvrug vernietig kan word.

Ons reken soms ver te maklik dat Kommunisme die mag van die antichris is. Dit is egter nie korrek nie, want waar sit Kommunisme in die tempel van God en gee voor dat hy God is? Hy glo dan nie eers in die bestaan van God nie! Nee, die bybelse term "antichris" beteken eintlik "in die PLEK van Christus" en beteken nie "téén Christus" nie. Hierin skuil die eintlike gevaar, omdat dit Christus se heerskappy en sy Middelaarskap ontneem en 'n mens (die pous) in sy plek gestel word.
(Vervolg in volgende uitgawe)