Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
GOD SE PLEK VIR DIE VROU IN DIE GEMEENTEDS BC SMIT - BRITS-WES
SLOT AFLEWERING
(Vorige Aflewering)
1. Die voorkoms van vroue (vers 9a en c)
2. Die gesindheid van vroue (vers 9b)
3. Die getuienis van vroue (vers 10)
4. Die rol van vroue (vers 11 en 12).
.Wat dus nog onder bespreking moet kom is die bestemming van die vrou (vers 14) en haar bydrae (vers 15).
5. DIE BESTEMMING VAN DIE VROU.
A. Vasgestel met die skepping: "Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva" (1 Tim 2: 14)..
Die ondergeskikte rol van die vrou is in die skeppingsordening al vasgestel. Daarom wys die apostel daarop dat Adam eerste gemaak is en Eva daarna. Hierdie selfde argument kom voor in 1 Kor 11: 8 en 9 waar Paulus skryf: "Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man." Sy word deur God gekape as die hulp van die man (Gen 2:18).
Sy is daarom deur God bestem om die man se leiding te volg, om te lewe uit sy voorsiening en om veiligheid en beskerming te vind in sy krag en moed. Die vrou is geskape om te volg. Maar met die sondeval, toe sy self die leiding geneem en onafhanklik van die leiding wat God aan haar voorsien het, met die slang in gesprek getree het, kom die val. Daarna sou die gewilligheid om te volg ook voortdurend betwis word deur die vrou. Die ondergeskikte rol van die vrou is daarom nie n kultuurverskynsel soos vandag so dikwels verkondig word nie (vergelyk byvoorbeeld die verklaring van Die Bybellennium oor dié verse).
Dit is ook nie die gevolg van Paulus se siening van die vrou nie. Die rangorde is met die skeppingsordening so bepaal. Adam is eerste geskape en daarna Eva.
B. Bevestig met die sondeval: "En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom" (1 Tim 2: 14).
Wanneer oor die sondeval gepraat of gedink word, word dit gewoonlik gekoppel aan Adam wat in sonde geval het. So ook in Rom 5: 12 - 21. Adam dra inderdaad die verantwoordelikheid omdat hy die hoof is van die menslike geslag. Maar dit moet tog ook steeds in gedagte gehou word dat hy nie eerste in sonde geval het nie, maar wel Eva. Toe sy haarself onder die beskermende leiding van Adam uit begewe en onafhanklik met die slang in gesprek getree het, is sy verlei.
Die gebeure met die sondeval onderstreep daarom die Bybelse waarheid dat die vrou bestem is om onder die man se leiding te leef. Met haar val toon Eva immers dat sy onbekwaam is om leiding te neem. Die woord wat in vers 14 gebruik word vir die vrou se misleiding (exapataö) is ook n sterker woord as die gewone vir misleiding (apataö). Sy is nie alleen mislei nie, sy is volledig bedrieg. Daaruit kan dus met reg afgelei word dat wanneer die vrou die beskermende leiding van haar besker-mer verlaat sy kwesbaar is.
Die sondeval was dus die gevolg nie alleen maar van ongehoorsaamheid aan God se uitdruklike opdrag nie, maar ook van verbreking van die godgegewe orde tussen die geslagte. Eva tree onafhanklik op en neem die rol van leierskap oor. Adam verbreek sy rol deur van sy leierskap afstand te doen en Eva se leiding te aanvaar.
Die sondeval dui dus nie daarop dat die vrou meer onvolkome is as die man nie. Altwee het hulle eie skuld. Net soos die vrou die man nodig het, het die man ook die vrou nodig. Sonder die wedersydse hulp is sowel die vrou as die man meer kwesbaar.
Wanneer die leierskap van die man daarom bevestig word, is dit op grond van God se Woord met die skepping en die sondeval. Geen dogter van Eva moet daarom haar voorbeeld volg en die verbode terrein betree van leierskap wat vir die man bestem is nie.
6. DIE VERVULLING VAN DIE VROU
"Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid" (Vers 15).
Hierdie vers handel oor die redding van die vrou deur kinders te baar. Hierdie redding is nie verlossing uit sonde nie. Die vers kan ook nie oor Eva alleen handel nie, omdat die toekomstige tyd gebruik word (... sy sal gered word...). Die gebruik van die meervoud (... as hulle bly in geloof...) sê ook dat dit hier gaan oor meer as net een vrou. Trouens alle vroue is hier ter sprake.
A. Die vrou se "redding" verduidelik.
Die Griekse woord wat gebruik word kan verwys na redding uit meer dinge as sonde alleen. Deur kinders te hê word vroue verlos van die stigma van die vrou as oorsaak van die sondeval. n Vrou het die menslike geslag in sonde ingelei, en deur n vrou word ook die Verlosser uit daardie sonde gebore. Deur die menslike geslag aan te vul en deur die invloed wat hulle uitoefen op hulle kinders, het vroue die geleentheid om van die stigma van "swakkere geslag" verlos te word.
B. Die betekenis van die vrou omskryf.
Die invloed van n godvresende moeder op haar kinders is onbeskryflik groot. Deur haar kinders godvrugtig op te voed ontvang die moeder self ook eer en waardigheid. Daarom moet sy voortgaan om in geloof, liefde en heiligmaking te lewe.
Natuurlik wil God nie alle vroue moeders laat word nie. Sekere vroue ontvang van Hom die gawe van onthouding (1Kor. 7) en ander laat Hy in sy alwetendheid kinderloos bly. As algemene reël is moederskap egter die grootste bydrae van n vrou tot die menslike geslag. Die geboortepyne was die vrou se straf op die sonde, maar deur kinders te hê en hulle op te voed in die vrees van die Here, red haar van die stigma van daardie sonde.