Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
GESPREK OOR GKSA SE SINODE 2000 EN VERWANTE AANGELEENTHEDE BINNE
DIE VGKSA
DS ARJAN DE VISSER (VGKSA) TEENOOR DS HENNIE MOMBERG (GKSA)
Ds de Visser: Ds Momberg, wat die sinode as n sekundus-afgevaardigde van die Partikuliere Sinode Noord Transvaal bygewoon het, se algemene gevoel oor die sinode 2000 is positief. Hy meen dat daar goeie werk gedoen is en hy sou die sinode wou tipeer as "Skrifbindend". In die verlede was sinodes soms geneig om te kies vir sekere interpretasies van die Skrif en dit dan as bindend voor te skryf. Die sinode 2000 het homself egter weerhou daarvan en veel meer by die Skrif self bly staan as die norm waarvolgens kerklike praktyke gereël word.
n Voorbeeld hiervan is die besluit wat geneem is oor die gebruike by die Nagmaal (die beker/kelkie-kwessie). Daar is n goeie prinsipiële raamwerk gegee waar daar met aanhaling van verskeie Skrifgedeeltes daarop gewys is dat daar gemeenskaplik uit een beker gedrink moet word. Verder is gesê dat, indien daar om gewigtige redes van hierdie reël afgewyk word, kerkrade dit vanuit die Skrif moet kan verantwoord. En die ordelike wyse waarop kerkrade hierdie verantwoording moet doen (en ook eendag sal doen) is eerstens by hulleself voor die Here, maar ook volgens ons ooreengekome orde volgens KO artt 41 en 44. Ds Momberg meen dit is n baie goeie besluit, selfs beter as die besluite van 1927 en 1930, al voeg hy ook by dat dit in die kerke op aanname van independente vryheid waarskynlik verskillend geïnterpreteer en toegepas gaan word.
Ds de Visser: Rob van der Kooy skryf in Die Kandelaar-gemeente se kerkblad, Kerk en Woord, dat die sinode nou wel goeie besluite geneem het, maar dat daar nog steeds kommer bestaan oor n "aansienlike aantal gemeentes, veral stedelikes" waar "allerlei vrysinnighede, independentisme en Skrifkritiese opvattings" toegelaat word. Stem u saam met sy opsomming van die situasie?
Ds Momberg: Ons het inderdaad in ons kerkverband nie meer n situasie waar een gemeente n bloudruk van die ander gemeente is nie. Gemeentes het individuele karakters ontwikkel. Ongelukkig het dit in sekere gevalle heelwat verder gegaan en is gebruike toegelaat wat vrysinnig genoem kan word. Ek weet van ten minste een gemeente waar vroue in die diakenamp funksioneer. Ek weet ook van n gemeente waar die gereformeerde presbiteriale bedieningspatroon prysgegee is ter wille van die sogenaamde selgroep-bedieningsstruktuur. Ek weet van gemeentes waar "gospel" liedjies gesing word. Daar is inderdaad gemeentes wat hulleself in sekere sin losmaak en independentisties hulle eie ding doen.
Ek sien twee redes hiervoor. In die eerste plek meen ek dat die postmoderne gees, net soos in ander kerkverbande (byvoorbeeld die Nederlandse vrygemaaktes), ook in die GKSA invloed gekry het. Mense is minder bereid om te hou by kerklike afsprake as wat voorheen die geval was. In die tweede plek is daar in ons kerke nie n planmatige manier om sinodebesluite in die kerke in te dra nie. By ons is daar nie n proses in plek om sinodebesluite te ratifiseer nie. Gevolglik land goeie sinodebesluite nie altyd op grondvlak nie.
Die vrou in die kerk
Ds de Visser: Hoe interpreteer n mens die sinode se be- sluit oor die vrou in die amp? Aan die een kant is die vrou weer eens nie in die besondere amp toegelaat nie, aan die ander kant is opdrag gegee tot breë studie oor die posisie van die vrou in die kerk. Is die besluit nou finaal dat die vrou nie in die amp gaan kom nie, of is die finale besluit maar weer eens uitgestel?
Ds Momberg: Daar was verskillende skrywes en beswaarskrifte op die sinode se tafel wat gevra het om vorige sinodebesluite in heroorweging te neem. Al daardie skrywes en beswaarskrifte is van die hand gewys. Dit is die vertrekpunt en dit is baie belangrik. Die sinode het basies gesê: oor die saak van die vrou in die amp is daar nou lank genoeg geredeneer, ons gaan nie weer daarop terugkom nie. Die sinode wou dit egter nie by hierdie negatiewe uitspraak laat nie. Daar is positief besluit dat daar studie gemaak moet word oor die vraag hoe die vrou se gawes in haar amp as gelowige in die kerk gebruik kan word.
Ds de Visser: Gaan hierdie besluit nie deur sommiges gebruik word om met n ompad maar weer eens die vrou in die besondere amp te probeer kry nie?
Ds Momberg: Die sinode het uitdruklik gesê dat die verdere studie onderneem moet word "met as vertrekpunt die vorige sinodebesluite", waarby daar veral gedink moet word aan die besluit van 1988. Die sinode se besluite is dus duidelik: dit is die boodskap van die Bybel dat die vrou nie in die besondere amp mag staan nie. n Mens besef egter wel dat daar altyd mense sal wees wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie (2 Tim 3:7), wat die besluit anders wil interpreteer en wat sal probeer om met n ompad die saak tog weer op die tafel te kry. n Mens kan dit so opsom: die besluit is finaal, maar die diskussie is nie afgesluit nie.
Skrifkritiek
Ds de Visser: Ek wil graag uitkom by die punt van Skrifkritiese tendense wat blykbaar in die GKSA opgemerk word. n Mens dink hierby aan die Bybellenniumuitgawe waar GKSA-teoloë saamgewerk het met vrysinnige teoloë. U het self in n resensie van die boek die volgende vraag gestel: "Het die teologie van die GKSA Skrifkrities geword, dat ons tuis voel in hierdie geselskap?" Kan u vir ons asseblief u eie vraag beantwoord?
Ds Momberg: My vraag was natuurlik n retoriese vraag! As GKSA-teoloë met hierdie geselskap kan saamwerk, is daar fout. Daar was deur prominente teoloë onder ons tot onlangs nog heftig ontken dat daar enige bewyse van Skrifkritiek in die GKSA is. Die bewyse wat aangevoer is, is weggewys as niksseggend. Daar is gesê dat mense hulle met vlieëvangery besig hou. n Teenopmerking is egter: as ek drie vlieë gevang het, het ek iets gevang? En as daar vlieë is om te vang, is daar ook iets wat stink!
Daar is inderdaad Skrifkritiese tendense in die GKSA wat ernstig aangespreek moet word. En ek wil onmiddellik bysê: dit word darem ook aangespreek! Daar is bewyse in preke en in artikels. Daar is publikasies van teoloë wat lidmate van die GKSA is (nie noodwendig almal in Potchefstroom werksaam nie), wat Skrifkritiese tendense vertoon.
Met betrekking tot "Die Bybellennium" is ek van mening dat die bydrae van die GKSA-teoloë tot n mate eiesoortig is as n mens dit vergelyk met die bydraes van die ander teoloë. Ek wil selfs sover gaan om te sê dat ek oor die algemeen die bydrae van die GKSA-teoloë as goeie kommentaar ervaar. . Tog het ek ernstige probleme met die hele opset. In die eerste plek het die GKSA-teoloë hulleself gekomprommitteer deur deel te neem aan n postmoderne konsep wat nie eers bedoel is om suiwer en alleen gereformeerd te wil wees nie, maar wat verteenwoordigend moet wees van alle teologieë in Suid-Afrika. Hierdie samewerking is nie in lyn met die predikante en professore se verbintenis aan die ondertekeningsformulier nie. Daar vind ek n spanning.
In die tweede plek word daar in die bydraes van die GKSA-teoloë tog opmerkings gemaak waaruit dit blyk dat hulle of die polemiek oor kritiese sake (b.v. die plek van die vrou) omseil, of dat hulle juis saamloop in die moderne neiging van n anti-diskriminasie-obsessie.
In die derde plek is een van die hoofredakteurs van "Die Bybellennium" n GKSA-teoloog, naamlik prof Fika van Rensburg. Wat vir my hier die probleem is, is dat hy dus in die openbaar n beherende en beslissende aandeel gehad het in die meesterplan en beleid wat opgestel was vir die uitgawe daarvan. Daar-mee neem hy n mate van verantwoordelikheid vir die hele boek. n Individuele outeur kan nog tot n mate verskoon word, maar in die geval van hoofredakteurs is daar geen verskoning nie. Hulle het as hoofredakteurs die rasionaal uitgewerk waarop die verklaringsproses moet rus. Die rasionaal is onder meer dat dit nie enkel gereformeerde teologie moet wees nie.
Ds de Visser: Ek veronderstel dat u ook bekommerd sal wees oor die klasse wat in Potchefstroom aangebied word.
Ds Momberg: Inderdaad. As dit alreeds in geskrifte van n populêr-wetenskaplike aard so is, wat gebeur dan in die klas in Potchefstroom, daar waar die streng wetenskaplike fondament gelê word? Maar daardie kommer bestaan reeds langer. GKSA-teoloë se deelname aan die Bybellenniumuitgawe, en uitsprake wat hulle doen, is nie n verrassing nie. Soortgelyke uitsprake is al deur dieselfde persone by ander geleenthede gedoen. "Die Bybellennium" is bloot die jongste bewys daarvan.
Ds de Visser: Volgens dr Tjaart van der Walt is die groepie mense in die GKSA wat bekommerd is oor Skrifkritiek, nie baie groot nie...
Ds Momberg: Miskien moet ek net sê dat ek nie baie van die woord "bekommerdes" hou nie. Dit is n skeefgetrokke term. n Mens sou eerder die woord "strydvaardiges" wil gebruik. Dit gaan daaroor dat ons die suiwerheid van die kerk op die hart dra. Ek sien die situasie so: Dit mag lyk asof die groepie persone wat die verkeerde tendense wil aanspreek, klein is. Maar tydens die sinode was dit vir my duidelik dat daar n stille meerderheid van ouderlinge en predikante is wat nie noodwendig baie praat of skryf nie, maar wat hulle menings juis laat lei deur die Skrif en die belydenis. Die krag van hierdie stille meerderheid moet ons nie onderskat nie. Dr Tjaart se opmerking klink vir my na volstruispolitiek.
Skeuring?
Ds de Visser: Bestaan daar die moontlikheid van n kerkskeuring oor hierdie saak?
Ds Momberg: Dit is n baie sensitiewe vraag. Die idee van n kerkskeuring sny deur n mens se siel. Dit kan nooit goedgepraat word dat die liggaam van Christus geskeur word nie. Die sinode se werkwyse het ook duidelik aangetoon dat die kerke n baie innige band ervaar. Dit is moeilik. Aan die een kant moet dinge aangespreek word, en dit gebeur nog nie genoeg nie. Maar dit moet asseblief nie tot n kerkskeuring lei nie. Aan die ander kant is ons prinsipiële vertrekpunt dat die gehoorsaamheid aan die Woord van die Here belangriker is as die gerieflikheid van een kerkverband. So was dit ook die prinsipiêle vertrekpunt in 1859 toe die Gereformeerde Kerke onder leiding van ds Dirk Postma te Rustenburg tot herstigting gekom het.
Ds de Visser: n Mens kry die indruk dat die mense in die GKSA wat teologies behoudend is, dikwels ook polities regs is, en omgekeerd: dat die mense wat teologies liberaal is, dikwels ook polities links is. Is dit korrek? Is daar soiets soos n Dopper-APK-tjie binne die groot GKSA?
Ds Momberg: My algemene indruk is dat dit dalk waar kan wees dat jy by n aansienlike deel van die lidmate n verbinding kry tussen teologiese en politieke oriëntasie. Die probleem is egter dat n mens nou politieke terminologie gebruik: behoudend/liberaal, en dit ook in n kerklike konteks oordra. Uit gebeure op die sinode is ek oortuig daarvan dat die lidmate van die GKSA redelik vuisvoos is vir die politiek. Mense is ook teleurgestel in die leiers van die verlede en die strukture van die verlede.
Ek glo dat daar n veel groter polarisering in die basiese lewenshouding plaasgevind het en dat daar n gesonde kern van lidmate is wat waarlik gereformeerd en Skrifgetrou wil wees, en dat dit ver bo die politieke oriëntasie uitgaan. Hiermee wil ek dus sê: Daar is n groot persentasie lidmate wat teologies graag eg Gereformeerd en onvoorwaardelik Skrifgetrou wil wees, maar wat beslis nie polities aan die konserwatiewe kant staan nie. Terselfdertyd is daar ook n deel van die lidmate wat polities gesproke tradisioneel konserwatief is, maar van wie die gereformeerdheid en Skrifgetrouheid bevraagteken kan word. Wat daardie groepering betref, is daar sekerlik n tipiese APK-aanslag. Maar hulle is min.
Verhouding met VGKSA
Ds de Visser: Daar is blykbaar tydens die GKSA-sinode ook kritiek uitgespreek ten opsigte van die VGKSA. Watter kritiek was dit?
Ds Momberg: Daar is beswaar gemaak dat die VGKSA na soveel jaar steeds nie hulle onderneming nakom nie, naamlik dat hulle gesê het dat as die GKSA sy bande met die sinodale gereformeerdes in Nederland verbreek, dat hulle dan die engere eenheidsband met ons sou soek. Die indruk bestaan dat die VGKSA telkens met nuwe probleme vorendag kom waarom hulle hierdie onderneming nie uitvoer nie. Dit word gewoon n vraag of ons ja, ja is en ons nee, nee. Dit lei tot n gees van moedeloosheid by die GKSA en daar het selfs stemme opgegaan om die broederlike handreiking na die VGKSA terug te trek.
Ds de Visser: Wat is u eie beoordeling van die optrede van die VGKSA ten opsigte van die GKSA?
Ds Momberg: Ek meen dat ons in die VGKSA n kerkverband het wat probeer om eerlik vir die GKSA n evalueringsraamwerk te gee waaraan ons ons behoort te toets. Dit is hoe ek die bedoelings van die VGKSA lees. Aan die ander kant wil ek graag iets meer van n pastorale aanslag sien. Kritiek is reg, ons het dit nodig. Maar kritiek lei ook tot spanning en n mens moet die spanningsituasie nie tot breekpunt bring nie. Daar is tog n onderlinge vertrouensband wat deur die jare opgebou is. Dan vra ek: broeders, moenie tot by die breekpunt gaan nie. En nog n ding: is daar slegs kritiek? Is daar dan nie ook erkentelikheid vir die goeie dinge wat daar in die GKSA is nie?
Ds de Visser: Watter rol, sou u sê, moet die VGKSA in die toekoms speel ten opsigte van die GKSA?
Ds Momberg: Op die oomblik is die VGKSA op die pawiljoene wanneer dit gaan oor die gang van sake in die GKSA. Vanaf die pawiljoene kan jy slegs n baie beperkte rol speel. Jy kan net skree. Vir die toekoms meen ek dat dit baie sinvol kan wees as daar pogings geloods kan word waarby wedersyds erkenning gegee word aan die strewe om ware kerk te wees. Dan kan n mens ook sekere terreine van samewerking identifiseer. Dit sal ook aan die VGKSA n sterker mandaat gee as hulle by die GKSA bepaalde tekortkominge uitwys.
Verder sal dit help as die VGKSA bereid sou wees om ook sy eie tekortkominge te erken. Een van die klagtes van die VGKSA ten opsigte van die GKSA is byvoorbeeld dat daar n skeiding tussen leer en lewe is. My vraag is: Kan die gemeentes van die VGKSA sê dat dit by hulle werklik soveel beter is? As n mens byvoorbeeld kyk na die moraliteit van die jeug, is dit by die VGKSA se jeug nie ook maar n probleem nie?
Verder kla die VGKSA oor die invloed van die NG- Kerk op die GKSA. n Spesifieke vraag wat in hierdie verband op my gemoed lewe, is: In die onlangse geskiedenis het verskeie predikante en lidmate vanuit die NG Kerk oorgekom na die VGKSA toe. Is die VGKSA seker dat hulle daarmee ook hulself van die negatiewe invloede van die NG Kerk gevrywaar het? Dink die VGKSA werklik dat n paar maande ekstra studie in Kampen iemand se teologiese aanslag ingrypend gaan verander?
Ek ervaar voorts by die VGKSA n inkonsekwentheid wat hulle moet opklaar as hulle in die toekoms n rol ten opsigte van die GKSA wil speel: Hulle het kerklike eenheid met die vrygemaakte Gereformeerde Kerken in Nederland (GKN). Dit is nie n geheim nie dat daar in die GKN (vrygemaakt) heelwat stoeiery aan die gang is, ook oor vraagstukke wat met die suiwerheid van die kerk in verband staan, soos byvoorbeeld die posisie van die vrou in die kerk, die liturgie, die sang in die erediens. Met die GKN het die VGKSA, sover ek kon vasstel, nie stryd nie maar as dit by die GKSA kom, is daar stryd!
Laastens: Oor die rol van die VGKSA op die GKSA hoop ek dat die VGKSA nie miskien onbewustelik - met n sielkundige spel besig is nie. Om jou bestaansreg te regverdig, moet jy aanmekaar redes kry om nie een te word met die GKSA nie. Ek hoop dat die VGKSA van dié gevaar bewus is, en ek sê dit met n pastorale bekommernis.
Ek meen regtig dat die VGKSA veel meer redes het om engere korrespondensie met die GKSA te soek as om dit nie te doen nie.