Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
KLEREDRAG IN DIE KERK GEEN NEUTRALE SAAK NIESlabbert le Cornu skryf op die Calvinistiese E-Poslys, 17 Maart 2000, as volg:
Kleredrag is nie 'n neutrale saak nie. Dit is onder invloed van die platonisme (die 'goeie' gees is gevange in die liggaam, dus net geestelike - innerlike - dinge maak saak) en die piëtisme (solank my hartjie net aan 'liewe Jesus' behoort, gee dit nie om of ek rock 'n roll musiek luister nie, dat ek myself tatoeëer nie, dat ek orals in my liggaam gate inskiet nie, ensovoorts), dat ons die uiterlike as 'onbelangrik' beskou. Daarteen leer Christus dat ons liggame ook deur gekoop is met sy bloed. Dus wat ons met ons liggame en dus die uiterlike doen, maak ook saak (1 Kor 6).
Alhoewel 'baarddra' natuurlik nie 'n beginselsaak is nie, glo ek tog dat dit 'n mooi simbool van manlikheid is, soos byvoorbeeld lang(er) hare vir 'n vrou 'n simbool van vroulikheid is. Die belangrikste boodskap aangaande baarddra, lang hare, onderskeie kleredrag, is dat daar in elke kultuur 'n duidelike onderskeid moet wees tussen mans en vrouens, seuns en dogters. Met mans wat deesdae hul hare so lank dra dat hulle vroulik lyk en meisies wat hul hare so kort sny dat hulle soos seuns lyk, word hierdie onderskeid myns insiens verwerp en verander hulle in 'n klomp "ditte" en "homo's". Natuurlik sal die lengte van hare asook die tipe kleredrag verskil van kultuur tot kultuur, maar dit moet ten minste voldoen aan twee vereistes uit die Skrif:
dit moet behoorlike kleding wees, wat ook die liggaam na behore bedek (1 Tim 2: 9);
dit moet die geslagtelike onderskeid tussen mans en vrouens handhaaf (Deut 22: 5).
Bogenoemde verse is weereens 'n welkome bevryding van slawerny aan vandag se postmodernistiese, hedonistiese, immorele en feministiese tydsgees. Soos iemand eenmaal gesê het: die hervormers was kinders van hul tyd ... maar vandag se kerk is SLAGOFFER van óns tyd!
Vir hulle wat deur Christus se bloed gereinig is, bring die wet egter vryheid (Jak 1: 25). Mag die kerk van Christus opnuut God se Woord ontdek! Daarom, laat ons maar liewers terugkeer na die "gebod op gebod" van God deur sy Woord en Gees wat ware vryheid bring. Die enigste alternatief is die "mensereg op mensereg" wettisisme en fariseërisme van die mens, wat lei tot die mees afgruwelikste tirannie en verdrukking ... soos ons al hoe meer in beide kerk en samelewing in Suid-Afrika begin ondervind.
(Om op die Calvinistiese Poslys in te teken, stuur 'n versoek aan nico@vddi.co.za)