Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
Nkosi sikelel' iAfrika- P VAN DER KOOI -
Hierdie artikel is oorspronklik geskryf in 1994 en destyds gepubliseer in DIE KERKBLAD (19 Oktober 1994) en ander organe. Vanweë navraag oor die saamsing van die nuwe "National Anthem", bring ons dit graag onder aandag van die lesers
Die staatkundige eenheid van die nuwe Suid-Afrika word onder meer gesimboliseer deur die amptelike gebruik van "Nkosi sikelel' iAfrika" as bykomende volkslied, wat as sodanig voorheen slegs deur die ANC en ander swart bewussynsorganisasies aanvaar is.
Nkosi sikelel' iAfrika word voorgehou as "'n gebed vir die mense van Afrika". Dit dateer uit 1897, toe die eerste strofe daarvan deur Enoch Sontonga, oorspronklik in die Xhosataal, gekomponeer is. Sedertdien is daar nog sewe bykomende strofes aan toegevoeg. In 1925 het dit die ANC se formele volks- en strydlied geword. Die opgehewe gebalde vuis, die teken van solidariteit en eenheid, gaan dikwels gepaard met die sing daarvan. Dit is in meeste swart tale asook in Afrikaans reeds oorgeneem en berym. Talle Engelse kerke en veral ook die swart sendingkerke het dit intussen as 'n godsdienstige lied aanvaar.
Is hierdie lied, hierdie "gebed vir die mense van Afrika", vir ons as Gereformeerdes aanvaarbaar as 'n godsdienstige lied en as simbool van nasionale eenheid, die eenheid van die nuwe Suid-Afrika? Is hierdie lied as religieuse lied en as volkslied versoenbaar met dit wat ons glo en bely volgens God se Woord en die belydenisskrifte van die kerk? Kan ons dit wel van harte saamsing by die openbare geleenthede van die staat en samelewing soos wat ons dit met byvoorbeeld die vierde strofe van "Die Stem" kan doen?
Enoch Sontonga en die teks van sy Nkosi sikelel' iAfrika vind geen oorsprong in die geloof, belydenisskrifte en geskiedenis van die Gereformeerde kerke nie. Dit op sigself is geen rede om dit te verwerp nie. Ons God en Here het ook buite die Gereformeerde kerke sy kinders wat Hy ken en lei en bestuur volgens sy wil. Maar dit laat ons wel krities kyk na die agtergrond en die teks van hierdie lied en die betekenis wat daaraan geheg moet word.
Terwyl dit as 'n gebed wil dien, doen dit in bybelse perspektief tekort aan die verheerliking van God se Naam soos Jesus Christus dit aan ons geleer het (Matt 6: 9, 10). Op tipiese Afrikawyse is dit 'n eenrigtingverkeer: "Gee, gee". Dit is horisontaal en aardsgerig: "Seën ons, Here God, seën Afrika, laat sy mag tot in die hemel reik. ... Seën ons, Here God, seën Afrika, seën ons in Afrika ...", tot sesmaal toe herhaal. Dis moralisties: "Lei ons tot by eenheid en begrip. Hoor ons as ons U om vrede vra." Dis
'n gebed vir verbetering van die lewe en skuldvergewing sonder die belydenis van die waaragtige kennis van ellende, verlossing en dankbaarheid: "Neem dan nou die boosheid van ons weg, maak ons van ons sonde ewig vry."
Juis daarom en daarmee staan die agtergrond en teks van Nkosi sikelel' iAfrika nie los van die Swart Teologie nie. Die boodskap van bevryding is maar deurgaans die kern van die Evangelie vir die swartes in die algemeen. Maar elke teologie wat die omstandighede en die mens, wie en wat hy ook al is en of hy nou swart of blank is, as uitgangspunt neem, staan vreemd teenoor die ware Evangelie van verlossing van sondes en die heiliging van die lewe deur Jesus Christus en die kragvolle werking van die Heilige Gees.
Hierdie lied vind sy oorsprong in die sfere van die swartes van die negentiger jare van die vorige eeu; enersyds nog vasgeklem aan die tradisionele natuurkragte- en voorouer- verering en aanbidding, andersyds geraak en beïnvloed deur die sending van uiteenlopende godsdienstige gesindtes. Dit is 'n godsdiensvermenging los van 'n algemene Christelike belydenis en aanvaarbaar vir Hindoe Boeddhis en Moslem, sowel as vir die Christene, lidmate van uiteenlopende Christelike kerke en sektes. Hierdie gebed aan 'n onbepaalde godheid en "Heilige Gees" kan elkeen op sy eiesoortige en besondere wyse vertolk. Dit is in die praktyk 'n ongedefinieerde en veelvormige aanbidding van 'n goddelike mag wat bokant die bestaande werklikheid en onder die bestaande werklikhede aanwesig is.
Die benadering van die Heilige Gees in Nkosi sikelel' iAfrika is nie ooreenkomstig die Gereformeerde geloof in die persoon en Heilige Gees as deel van die Goddelike Drieënheid (HK, Sondag 20; NGB, art 11) nie. "Daal neer, o Heilige Gees ..." tot sesmaal toe herhaal. Dis 'n mistieke belewenis, maar geen sigbare en onbetwyfelbare bybelse, Christelike geloofsbelydenis nie. Dis nie ooreenkomstig die benadering en taal van die Heilige Skrif en die Christelike belydenisskrifte nie. Daarenteen is dit aanvaarbaar vir diegene wat die gedagte huldig dat die godheid op onderskeie wyses aanwesig is en aanbid kan word. Dit neig in Christelike sin tot die sektariese rigtings van die piëtisme, in die rasionele filosofie en die oosterse godsdienste tot die panteïsme, in die tradisionele Afrikareligie tot die verering en vergoddeliking van die ontslape voorouers: Piëtisme: skeiding tussen die gesag van die Woord en die werk van die Heilige Gees. Panteïsme: God en die skepping is een, God verwerklik Homself in die opheffing van die gees en materie. Afrikatradisies: die ontslape voorouers dien as skakel tussen die goddelike kragte in en bo die natuur. Onder al hierdie omstandighede dien Nkosi sekelel' iAfrika as 'n gemeenskaplike gebed en mistieke belewenis.
Die ATKV-vertaling van "Nkosi sikelel' iAfrika" Seën ons, Here God, seën Afrika, |
MR van den Berg waarsku in Synkretisme as Uitdaging, myns insiens tereg soos volg: "Het grote aantal 'gelijste' Christenen onder de Bantoe mag ons niet in slaap wiegen. Voor de overgrote meerderheid van de Bantoe die zich Christenen noemen, is het Christenzijn een dun vernisje westerse beschaving, dat Zondags keurig wordt opgepoetst, maar voor de rest van de week verdwijnt onder de bedekking van het oude levenspatroon."
Sonder 'n gemeenskaplik aanvaarde en uitgesproke geloofsbelydenis is dit nie moontlik om gesamentlik te bid vir die gemeenskap met en die inwoning van die Heilige Gees nie. Die sing van Nkosi sekelel' iAfrika hang dan ook sigbaar saam met die veelvormige aanbidding, soos wat tydens die opening van die Parlement in 1994 op 9 Mei en tydens die inhuldiging van die nuwe president op 10 Mei plaasgevind het, wat wêreldwyd oor die televisie vertoon is. Daarteenoor die gebod om "geen ander gode voor my aangesig, naas My, te hê nie" (Eks 20: 3; Deut 5: 7, 6: 14; 1 Joh 5: 21). Die gesamentlike deelname aan die sing van hierdie geproklameerde volkslied bevorder implisiet die, in skriftuurlike perspektief, verwerplike veelgodedom. Daarom is dit as volkslied ongeskik en nie aanvaarbaar nie.
Onder die omstandighede van 'n veelvormigheid van godsdienste wat in die staat gelyke regte en erkenning geniet, is dit in bybelse sin nie moontlik om 'n enkelvoudige religieuse volkslied te kan huldig nie. As dit, soos tans, wél plaasvind, is dit onteenseglik òf 'n vorm van godsdienseenheid, sinkretisme, òf 'n openbare vertoon en belydenis van 'n bepaalde godsdiens wat in stryd met die liberale toleransiegedagtes is.
Dit is opmerkenswaardig dat van die kant van die Hindoes, Boeddhiste, Moslems en ander nie-Christelike godsdienste geen besware teen Nkosi sekelel' iAfrika verneem word nie!
Volgens die bogenoemde besware is hierdie "gebed vir die kinders van Afrika" vir ons as Gereformeerdes nie gepas en aanvaarbaar as volkslied en simbool van staatseenheid nie, asook andersins nie as 'n religieuse lied om dit te kan saamsing nie.