Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
"Let op jouself en op die leer"

AKTUEEL:
Polemies of irenies

SKRIFOORDENKING:
Die handelende Here Jesus hou sy Hand oor sy Kerk
Hand. 12:1-24

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (3)

Totius se vereistes vir Psalmberyming

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Pous en die 1983 Vertaling

Kerke en Staatslotery

Gesprek oor GKSA se Sinode 2000

Kleredrag in Kerk geen neutrale saak nie

Nkosi sikelel'iAfrika
Kan ons dit aanvaar en saamsing?

Kontra-kultuur, kultus en volkskultuur onversoenbare ooreenkomste?

Ongeoorloofde Abeeldings van Christus

Is dit moontlik om 'n Christen en 'n Evolusionis te wees?

WOORD EN WETENSKAP:
Mount St Helens

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die Verenigde Nasies
GKSA Predikant bedank
Die nuwe Kerkliedbundel

OPVOEDING EN ONDERWYS:
VCHO - 50 jaar van Genade
"Die wêreld van eie politieke dogma's en stelsels"

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (5)

PERSRUBRIEK: 
Geloofsverklaring 2000 - 'n belydenis vir GKSA?

Toesprake van Cassie Aucamp in parlement

KOMMENTAAR: 
Menseregte: Radio Pretoria versus Prof Amie van Wyk

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die menslike lewe in die lig van God se Woord

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 3  Mei 2000

BOEKBESPREKING

POPULêRE AFRIKAANSE BYBELS EN KOMMENTARE: DRAERS VAN 'N VREEMDE SKRIFBESKOUING

DS T DANZFUSS  -  NG KERK WITFIELD

Derde Aflewering
(Tweede Aflewering)
(Eerste Aflewering)

In die vorige twee artikels van hierdie reeks het ons enkele opmerkings gemaak oor die invloed van vreemde Skrifbeskouings en verskeie variasies van die Skrifkritiek op die nuwe populêre Afrikaanse Bybelvertalings en Bybelkommentare. Ons het gekyk na publikasies soos Die Bybel in Praktyk, Die Boodskap en Die Boodskap vir Kinders. In hierdie aflewering wil ons kortliks wys op die invloed wat hierdie modernistiese en Skrifkritiese denke gehad het op Die Bybellennium.

Soos wat reeds in die eerste artikel gesê is, is daar ook baie mooi dinge in Die Bybellennium. Dink maar aan die keurige uitleg, die handige formaat, die groot bron van nuttige inligting asook die kernagtige samevattings van verskeie onderwerpe en perikope. Sommige van die skrywers het ook daarin geslaag om die resultate van resente wetenskaplike navorsing op ‘n sinvolle en verantwoordelike wyse in hul kommentaar te verwerk.

Ten spyte van vele lofwaardige dinge wat van Die Bybellennium gesê kan word, is dit ongelukkig ‘n baie gevaarlike boek wat op vele plekke die gesag en die betroubaarheid van die Bybel ernstig ondermyn. Die feit dat sommige van die teoloë wat saamgewerk het, nog ‘n behoudende gereformeerde Skrifbeskouing en eksegese handhaaf, maak hierdie boek soveel gevaarliker vir die gewone lidmaat. Ons weet tog almal dat gif wat weggesteek word deur dit met helder skoon water te meng, veel gevaarliker is as onverdunde gif wat maklik herken kan word.

1. Verskeie skrywers van die Bybellennium bou met hout, hooi en stoppels.

Om ons beswaar teen Die Bybellennium se Skrifkritiese benadering te verstaan moet dit nie verwar word met tekskritiek nie. Wetenskaplikeerlike tekskritici se doel is om die oorspronklike teks so akkuraat as moontlik vas te stel. Dit kan getuig van groot eerbied vir die oorspronklike teks. Ook die historieskritiese ondersoek van die Bybel kan baie waardevol wees en is nie noodwendig problematies nie.

Die probleem kom wanneer die eksegeet en kommentator homself nie meer ónder die teks stel nie, maar bó die teks! Met "Skrifkritiek" bedoel ons die benadering van teoloë wat nie bereid is om die Bybel in sy geheel en in al sy dele afsonderlik as die betroubare Woord van God te aanvaar nie.

Hoewel daar baie variasies van Skrifkritiek is, het almal in gemeen dat die inwendige getuienis van die Skrif self nie meer as die laaste en beslissende woord aanvaar word nie. Daar is telkens buite-Bybelse instansies of inligting wat tot die Bybel se regter verhef word. Soms is dit die mens se eie beperkte en bedorwe verstand, soms teoloë se eie saamgeflansde teorieë of selfs sogenaamde paralelle gelowe en gebruike uit antieke heidense godsdienste. Dit gaan in die Skrifkritiek ten diepste oor ‘n bepaalde gesindheid: ‘n selfversekerde, beterweterige houding teenoor die teks. Dit wat die teks sê, moet nie te ernstig opgeneem word nie. Dit moet met ‘n knippie sout geneem word, want ons moderne wetenskaplike mense weet van beter.

Verskeie van Die Bybellennium se skrywers bou op die wankelrige teorieë van Skrifkritiek. Vir ‘n vollediger bespreking en voorbeelde hiervan, verwys ons graag na die reeks artikels van ds. HLJ Momberg oor Die Bybellennium wat sedert Januarie 2000 in Waarheid en Dwaling asook in Kerk en Woord verskyn het. Wanneer ons die kronkelpaadjie van die Skrifkritiek deur jare bestudeer, dan is dit opmerklik dat daar nie een van die Skrifkritiese teorieë is wat veel langer as een of twee geslagte kon bestaan nie. Die dwaasheid en ongeldigheid van die Skrifkritiese teorieë is gewoonlik deur ‘n volgende geslag Skrifkritiese teoloë ontbloot. In die 18de eeu het manne soos HB Witter (1711), J Astruc (1753) en JG Eichhorn (1780-83) na aanleiding van die verskillende Godsname in Genesis, begin om die Pentateug se ontstaan te verklaar met die sogenaamde Bronnesplitsingsteorieë. Daar is toe onderskei tussen ‘n J-bron en die E-bron. Later is die E-bron weer verder verdeel in 'n E1 en E2 (H. Hupfeld 1853). Dit is weer vervang met die P-E-J-D (Priesterbron, Elohistiese bron, Jahwistiese bron en die Deuteronomistiese bron) of die Vier-bronne-teorie. Hierdie Vier- bronne-teorie het meer variasies as ondersteuners gehad. Na vele de-batte oor die verskillende bronne, is dit verwerp en vervang met die Fragmenteteorie. Ander Skrifkritici werk weer met die Vormkritiek (H Gunkel, H Gressman en die Uppsala skool – 1900-1920). Hulle verwerp die P-E-J-D bronneteorie heeltemal, en probeer om bepaalde Kategorieë (Gattungen) te onderskei. Die Godsdienshistoriese Kritiek (Religionsgeschichte) is ‘n ander variasie wat probeer het om die Bybel te verklaar vanuit paralelle in die ou Babiloniese- en ander godsdienste. Later het die aksent verskuif na die Literêre Kritiek (M North, G von Rad en W. Pannenberg). Die historisiteit van die Bybelverhale is nie belangrik nie, slegs die kerugma (boodskap) wat dit vir daardie bepaalde "Sitz im Leben" (konkrete situasie) gehad het.

Die gemeenskaplike filosofiese uitgangspunt van al hierdie Babelse teorië is dat hulle nie erns maak met hoe die Skrif dit teks met teksvergelykend verklaar nie, en dat hulle ook nie erns maak met die inspirasie van die Heilige Gees nie. Daar word altyd na ander verklarings gesoek om te probeer bewys dat die teks, soos dit tans daar staan, nie werklik outentiek en betroubaar is nie. Die rol van die Heilige Gees word so verskraal dat die Bybel bloot ‘n menslike boek is waar die Heilige Gees skrywers beslis nie geïnspireer het nie, maar slegs so effens begelei het.

2. Voorbeelde van Die Bybellennuim se eksegese.

Die skepping en sondeval is blote fabels: Genesis is volgens Die Bybellennium eintlik maar net ‘n sameflansing van ‘n klomp los verhale en oorlewerings wat deur die geskiedenis vele kere gewysig en geherinterpreteer is. Dit is eers ná die Babiloniese ballingskap as een boek voltooi. Die hele skeppingsverhaal van Genesis is nie ‘n vertelling van iets wat werklik in die begin gebeur het nie.. "Dis eerder ‘n aankondiging, ‘n deklarasie oor God…" Ook die hele paradysverhaal is bloot ‘n simboliese verhaal. Niks wat die Bybel oor die gebeure in die paradys vertel, het werklik gebeur nie. Die tuin is bloot ‘n simbool, die bome in die tuin was bloot simbole, die riviere is simbole en selfs die slang is ‘n simbool van die boosheid. Oor die historisiteit van Adam en Eva self, as werklike voorouers van alle mense word totaal geswyg. Tekste wat daarop dui dat Genesis 1-3 werklike historiese gebeurtenisse was, word in die kommentaar heeltemal geïgnoreer. Sien bv Gen 2:4: "Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is", en ook Gen 3:20: "Die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe."

Die Bybellennium swyg oor die historisiteit van die sondeval en van die eerste mensepaar. Ten spyte daarvan dat die Bybel dit as werklike heilshistoriese gebeurtenisse beskrywe, word dit in Die Bybellennium nie heilshistories verklaar nie, maar slegs as ‘n morele lessie oor die mens se vrye wil en sy daaglikse keuses tussen goed en kwaad.

Daar bestaan geen moederbelofte in die Bybel nie.
As daar volgens Genesis nie werklik ‘n sondeval was nie, dan sou daar ook geen Messiaanse verwagting wees nie. Daarom het selfs Gen 3:15 volgens Die Bybellennium geen Messiaanse betekenis nie. Dit gaan hier weer oor die ewige stryd tussen mense en slange wat dan ‘n simbool word van die stryd tussen die mens en die kwaad. Volgens die Bybellennium sê die Ou Testament "dat daar in hierdie stryd geen wenner is nie" (bl 19)! Asof dit nie genoeg is nie, sê die skrywer dan na sy eie slim anti-Messiaanse verklaring van die teks, nog: "Die Genesisteks sê niks meer as dit nie." As die skrywer van Die Bybellennium te blind was om die Messiaanse perspektief van Gen 3:15 raak te sien, dan maak dit nie saak hoe die Nuwe Testament hierdie teks vertolk nie, Die Bybellennium het gepraat, en dit is die einde.

God is nie net ons Vader nie, maar ook ons Moeder.
Op bladsy 1823 word die Bybelse Godsbeeld bespreek. Daar word God genoem: die Skeppergod, Koning, Herder, Regter, en dan, as nog een van die opskrifte: "Vader (en moeder)". Die motivering hiervoor word gehaal uit Jes 49:15. Hierdie eksegese pas pragtig in by die moderne feministiese bevrydingsteologie. Die betrokke teks gee bloot ‘n vergelyking, nie ‘n Godsnaam nie. As ons die Bybel só vertolk kan mens, volgens Matt 23:37, God selfs "ons Hen" wil noem!

Is Homoseksualisme sonde?
Terwyl die skrywer wat oor Romeine1:26-28 kommentaar lewer, baie duidelik en suiwer die Bybel se standpunt stel dat homoseksualisme en lesbianisme ‘n ernstige sonde is, was die skrywer wat oor 1 Korinthe kommentaar lewer, nie bereid om te sê wat die teks self sê nie.

Ten spyte van die feit dat 1 Kor. 6:9-10 homoseksualisme baie duidelik as sonde verwerp, is Die Bybellennium se kommentaar as volg: "Daar is tans hewige debatte aan die gang of homoseksualiteit ‘n sonde is. Daar is aanduidings dat die oorsake daarvan geneties kan wees... daar is lidmate en ampsdraers in bestaande kerke wat praktiserende homoseksuele is...’n Openlike debat oor die saak is tydig. Is ons werklik vandag bereid om al die mense wat in 6:9-10 genoem word met skuldigbevinding uit die kerklike gemeenskap uit te sluit, indien hulle weier om te verander?"

Dit is eerder modernistiese humanisme as Skrifuitleg!

Die Boek Daniël "pure bedrog!"
Die Bybellennium wat Skrifkrities te werk gaan, en dus weier te glo wat die Bybel self sê, verdraai Daniël se woorde so dat niks wat hier staan as die waarheid aanvaar word nie. Die Boek Daniël is pure bedrog!

Dit word alles verklaar vanuit ‘n bepaalde skrywerstegniek wat só werk: "Wat Daniël oor sy visioene vertel, kom eintlik van die skrywer af... Die skrywer laat Daniël vertel van die gebeure wat hy en die eerste lesers gedurende hulle leeftyd (tweede eeu vC) beleef het… Vir hulle het dit voorgekom asof Daniël alles noukeurig voorspel het, maar in werklikheid het die skrywer maar net van ‘n baie interessante verteltegniek gebruik gemaak." (bl 979). Op bladsy 983 word die boek nog duideliker as bedrog behandel. Dit word dan geregverdig asof dit maar net die skrywer se briljante skrywerstegniek was. "Hy laat dit baie eg klink en lyk, want Gabriël verseker Daniël dat die gebeure in die verre toekoms wanneer die eindtyd aanbreek, sal plaasvind". Die hele storie van Gabriël was ook ‘n leuen, Gabriël het nooit regtig met Daniël gepraat nie. Daniël het self geen werklike visioene gesien of profesieë gegee nie, en ook niks op skrif gestel of op skrif laat stel nie. Die skrywer van die boek Daniël, wat volgens die Bybellennium ‘n hele paar eeue later as Daniël geleef het, het die gebeure van sy eie tyd terug verplaas in Daniël se mond, sodat dit moet klink asof Daniël dit geprofeteer het. "Daniël is sonder twyfel eers na 171 v.C. neergeskryf." ( bl 1816)

Ook die boek Jona is slegs ‘n storie, met geen historiese basis nie! (bl 1041)

3. Is die Bybel regtig die Woord van God?

Agter hierdie dwalings van die Bybellennium lê ‘n valse Skrifbeskouing by die betrokke skrywers. Volgens die kommentaar op Hosea 1:1 is die Bybel nie die Woord van God nie, dit bevat slegs die Woord van God.

Die Bybellennium doen baie moeite om sy eie strooipop van fundamentalisme en van die meganiese inspirasieteorie te verwerp, sonder om die inspirasie van die Skrif werklik te verduidelik. Dieselfde skrywer wat die hele boek Daniël soos bedrog behandel, erken openlik dat hy en sy teologiese geesgenote ‘n nuwe teologiese paradigma aanvaar het, waarvolgens die Bybel nie meer die Woord van God is nie, maar slegs mense se woorde oor God. Die Bybel het vir hulle geen objektiewe gesag nie, maar slegs relasionele gesag. Die Bybel is nie meer die gesagsdokument van die Christendom nie, maar slegs ‘n basisdokument wat ons help om ons eie sienings oor God te verwoord.1 

Een ding is seker: Die Bybellennium se gif is sterker as die water waarmee dit gemeng is!

1.  Spangenberg, Izak. 1998. Perspektiewe op die Bybel. (bl 30-34)