Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYWARE BETEKENIS VAN DIE CALVINISME
P VAN DER KOOI
CALVINISME IS SINONIEM AAN GEREFORMEERD-WEES VIR DIE WETENSKAP EN DIE PRAKTYK VAN DIE LEWE |
ABRAHAM KUYPER (5)
In die vorige aflewerings is dr Abraham Kuyper se standpunte en optrede in die Nederlandse politiek behandel. As geesgenoot van Groen van Prinsterer het hy die gevierde leier van die Anti-Revolutionaire Partij geword. As laaste van sy funderende en praktiese leiding in die samelewing van kerk en staat wil ons die aandag vestig op die sosiale vraagstuk, die arbeidsverhoudinge teenoor die sosialisme van sy tyd.
Die omwenteling van die Franse Rewolusie het in Nederland nie die omvang geneem as byvoorbeeld in Italië, Frankryk en in Engeland nie. Dit is gedeeltelik die gevolg van die industriële rewolusie wat in dié lande, enkele dekades ná die Franse Rewolusie gevolg het. Onder laasgenoemde omstandighede het die saad van die Marxisme ontkiem tot 'n beweging wat die maatskaplike verhoudinge uit sy gevestigde en tradisionele verbande geruk het.
In die teorieë van Karl Marx speel die klassestryd - dit wil sê, die verhoudings tussen die dominerende en die ondergeskikte klasse - 'n oorwegende rol. In die geskiedenis het vryman en slaaf, patrisiër en plebejer, heer en onderhorige gedurigdeur teenoor mekaar gestaan. Onder heersende omstandighede betref dit die bourgeoise (dit wil sê, die moderne kapitaliste), en die proletariaat (dit wil sê, die loonarbeiders).
In die praktyk kom dit daarop neer dat die een klas regeer en die ander gehoorsaam. Ten einde altyd die maksimum voordeel te verkry, is die regerende klas gedurig besig om die produksiemiddele te verander deur van verbeterde tegnieke gebruik te maak.
In werklikheid is hulle dus besig om die produksieproses waarop die hele gesagsposisie berus, te wysig. Indien die stabiliteit waarop die gemeenskap bevestig is, gehandhaaf wil word, moet daar vanselfsprekend ooreenstemmende aanpassings in die produksieverhoudings geskied. Die dominerende klasse is egter nie hiertoe geneë nie en poog inteendeel om die bestaande verhoudings te handhaaf. Die gevolg hiervan is dat die spanning tussen die twee klasse toeneem en teenstrydighede ontwikkel. Hierdie ontwikkeling bring mee dat die produksieproses onversoenbaar met die klassestruktuur en die produksieverhoudings raak. Onder hierdie omstandighede word 'n sosiale rewolusie, om die nuwe situasie die hoof te bied , noodsaaklik. Die enigste wyse waarop dit kan geskied, is die oorname van die produksiemagte deur die proletariaat en dit is hierin wat Marx in sy tyd belang gestel en toenemend invloed uitgeoefen het.
Nadat dié invloed in die vorm van Kommunisme in ander Europese lande in omvang toegeneem het, het dit ook na Nederland oorgewaai, maar onder ander omstandighede. In Nederland is, as gevolg van sy historiese ontwikkeling, veel meer die band tussen kerk en staat in ag geneem wat beide deur die koning en sy wetgewende en uitvoerende magte uitgeoefen is. Dit was die omstandighede waaronder Groen van Prinsterer opgetree het en waarin Abraham Kuyper die lewenslig aanskou en sy loopbaan as predikant, akademikus en politieke leier begin het.
Aanvanklik was daar in Nederland van regeringskant nie veel belangstelling vir die sosiale vraagstuk nie. Oor die algemeen is 'n laissez-faire, 'n "laat maar loop-beleid" gevolg wat die industriëles die vrye hand gelaat het om arbeiders uit te buit, minder kapitaalkragtiges te monopoliseer en hulle self te verryk.
Die reaksie teen die bevoorregting en beskerming van industrieë en ander maatskaplike lewensverbande, was die propagering van die indiwiduele vryheid en die onbelemmerde konkurrensie soos toegepas in die laissez-faire handelsbeleid. Die gevestigde belange en verkreë regte van groeperinge van indiwidue of korporasies moes as verbeurd verklaar word om die welvaart van die indiwidu te verseker op 'n grondslag van onbeskermde, vrye mededinging. Op so 'n wyse moes die industriële rewolusie bevorder word, terwyl dit ook een van die doelwitte van die Franse Rewolusie was om, volgens Thorbecke - Nederlandse Eerste minister - alle besondere regte en besondere "politieke liggame" te "vernietig" en die voormalige outonomie van bevoorregte dele uit te brei tot 'n onbeperkte outonomie van die ganse volk. In die lig hiervan verwerp Kuyper die praktyk van staatsonthouding. Hy het geworstel om 'n formule te vind vir die behoud van indiwiduele vryheid sonder uitlewering van die enkeling aan die genade van die sterkste mededinger.
Teenoor die indiwidualistiese natuurreg-filosofie met sy ontbinding uit die natuurlike lewensverbande en sy toepassing van die minimum-staatsingryping, plaas Kuyper die erkenning van 'n meervoudigheid van korporasies, wat 'n natuurlike funksie verrig, historiese regte verkry het, en waarin die regte van die indiwidu erkenning en beskerming geniet.
Tot ongeveeer 1870 was in Nederland die arbeidersbeweging maar klein van omvang. Van 'n georganiseerde arbeidersbeweging - soos in ander Europese lande van dié tyd - wat die regering kon dwing om beleid te formuleer ten opsigte van hulle organisasies en die regsposisie van die arbeid te erken en te handhaaf, was daar nog eintlik nie sprake nie. Iets van die gildes en groepe handwerkers is toegelaat deur die owerheid, dog van die eintlike arbeidersbond was vóór 1860 nie sprake nie. Dit vind sy oorsaak in die afwesigheid van 'n werklike klassegevoel by die arbeiders. Die werkgewer was gewoonlik òf 'n weldoener wat die arme wou aanhelp, òf
een van "de kleine bazen" wat minder welvarend was en juis daarom ook self 'n leidende rol in dié organisasies vervul het.
Sosialisme, in sy anargistiese vorm wat geen goewerment en geen staat, dog slegs 'n maatskappy nodig ag vir "die goue eeu", of die sosiaal-demokrasie wat nog wél die staat en maatskappy langs mekaar wil behou, maar dan 'n staat as alleen-orgaan en alleen-versorger van die maatskappy, met die oplossing van die meervoudigheidsbeginsel van vele huishoudinge in die één huishouding van die staat vir almal sonder onderskeid - dink aan die tesis van Abraham Kuyper oor Soewereiniteit in eie Kring - was daar vóór 1878 nie. Die Sosiaal-Demokratiese Bond, saamgestel uit 'n aantal vakverenigings, wat verantwoordlik was vir 'n paar betogings in 1985 en '86, was maar innerlik swak en sy leiding onseker. In die stryd tussen parlementarisme en anti-parlementarisme het hulle,verdeeld gestaan en mee as gevolg daarvan is dié Bond in 1894 ontbind.
Van anargistiese kant het F Domela Nieuwenhuis, voortspruitend uit die ekonomiese ontwrigting van die tagtiger jare en die werkloosheid in die stede sowel as 'n noodtoestand in die landboubedryf, felle rewolusionêre propaganda gemaak. Hy wou alle politieke regering afskaf.
Want heerschen is en blijft geweld uit te oefenen over anderen, die men betitelt als zijn broeders. Heerschappij uitoefenen is tiranniseeren en welk recht heeft de eene mensch om den ander te tiranniseeren?
Daarmee het hy die prinsipiële teenstelling tussen 'n Chistelike en ateïstiese staatsopvatting in sy konsekwensie deurgetrek as 'n antitese, soos hyself dit noem, tussen geloof en anargie. Immers, wie die owerheid as instelling van God en as gesagsorgaan van God loën, moet dus die gesag in die méns, en dan in die oorheersing van die meerderheid oor die minderheid of die sterkes oor die swakkes fundeer. Dit is die tirannie van die massa of die sterkeres teenoor die minderhede en swakkeres.
Teenoor Nieuwenhuis se rewolusionêre benadering, wat egter sonder gedissiplineerde of geplande aksie was en daarom in Kuyper se tyd nie so 'n groot rol gespeel het nie, het die Christelik-protestantse PATRIMONIUM as vereniging van vakbonde gestaan. Beide werknemers en werkgewers kon hierby aansluit. Die godsdienstige belange van die arbeider is sterk beklemtoon, sowel as 'n gesonde geestelike verhouding tussen werkgewer en werknemer.
Die moeilikheid was egter nog steeds, dat alhoewel die Christelike benadering van die sosiale vraagstuk in Nederland destyds nie aan die sosiale gevoel ontbreek het nie, dit in die gees van die Reveil nie gepoog het om sy sosiale wense in dwingende reg om te sit nie.. Daarom was die klag van die arbeidersleiers, Kater en Poesiat tereg:
"Ons volk is met geen preeken, met geen loutere theorie te helpen."
Prakties sou hierdie standpunt nog bevorderlik wees vir die uitbuiting van die arbeider en 'n verskansing van die groot geldbelange teenoor die arbeiders se saak. Dit het nog geen waarborg ingehou dat die godsdiens, pligsgevoel en menslikheid iets meer vir die arbeider sou verower as simpatie en filantropie nie. Daar was met ander
woorde nog geen politiek-progressiewe Christelike beleid waarvolgens die arbeider deel sou hê aan die profyte van die land se ekonomie nie.
Met hierdie filantropiese benadering het Kuyper van meetaf verskil. Dit was hom te doen om in die sosiaal-ekonomiese patroon aan die arbeid 'n gelykwaardige REGSposisie naas die kapitaal te verseker. Alleen 'n oplossing
langs die weg van die REG sou universeel wees. Die indiwidualistiese natuurregfilosofie het uitgekristaliseer in die laissez-faire beleid of staatsonthouding. Maar juis omdat dit die beskermende maatskaplike en ekonomiese bestaanskringe deurgebreek het en die indiwidu van die regswaarborge van die korporasies waartoe hy behoort het, beroof het, sou die indiwidualisering die weg oopmaak na die diktatuur van die massa, van die helfte plus een. Dit was die weg waarop Kuyper die Liberale Party met sy weiering om korporatiewe regte te handhaaf, sien beweeg het. Dit was die weg van die alvermoënde en gebiedende staat. Daarteenoor ontwikkel by hom die meervoudigheidsgedagte en die oortuiging van "Soewereiniteit in eie Kring" wat deur die sentrale en plaaslike regerings eerbiedig moet word.
Voor beide, voor handel en landbou, komen we op; we wenschen, dat én stad én dorp bloeie; maar als de zuiging van het stadsleven, gelijk dit er in Engeland reeds toe kwam, de landbou aan de handel ten offer wil brengen, en het dorpsleven voor het stadsleven wil doen verdwijnen, dan eischt traditie en beginsel beide, dat wij, naar de aloude tegenstelling tusschen negotie en religie, het pleit opnemen voor dat machtig bestanddeel van het nationale leven, waarin de religie nog het krachtigst spreken bleef, en, dank zij de taaiheid der religie, ons nationale type nog het best bewaard werd.
Duidelik moest het voor onszelven en voor onze tegenstanders uitkomen, dat wij . . . onzen Calvinistischen aard verloochenen zouden, indien we niet ook op de sociale quaestie met alle macht ons wierpen, om juist daardoor
de buiten haar oevers getreden staatsmacht, die den vrijen burgergeest, het cosmopolitisme dat ons nationaal karakter, en de negotie die de religie bedreigt, met de hulpe Gods te weerstaan.
Abraham Kuyper, 29 April 1897