Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
GESPREK MET DIE LESERS WAAR STAAN ONS?Om die vraag wat hierbo staan te beantwoord, moet ons in nederigheid vermeld dat ons in die strydperk staan vir die behoud van die normatiewe riglyne wat die Here se Woord openbaar ten opsigte van sy Kerk en die openbare samelewing. Die standpunt wat daarteenoor soms gehoor word is dat die Here self wel sal sorg dat sy Kerk sal voortbestaan en dat die poorte van die hel dit nie sal oorweldig nie. Dit is waar. Maar aan die ander kant is dit ook so dat die Here van middels en instrumente gebruik maak.
So ook kan 'n saaiboer nie verwag dat die Here hom sal seën met 'n veelbelowende oes as hy nie die hand aan die ploeg slaan, die saad saai en die aanwas van onkruid bestry nie. Hy kan nie net gaan sit en bid nie en dan maar die saak in die hande van die Here laat nie. Nee, hy moet gaan doen wat nodig is en hom daarin toevertrou aan die sorg van die Here. En dan leer die Skrif om in voorspoed dankbaar en in teenspoed geduldig te wees. Dit raak ook diegene wat in die uitoefening van hulle bedryf soms hard geslaan word, soos nou die dag met verliese as gevolg van natuurrampe, die oorweldigende watervloede. Ander word van tyd tot tyd gepla met verliese as gevolg van periodieke droogtes, siektes of peste.
So werk die Here ook met sy Kerk Ook dáár die ritme van reformasie en deformasie, van hoogtepunte en laagtepunte. Dit is egter nie maar 'n natuurkundige verskynsel nie, maar die mens is die denkende. handelende en verantwoordelike faktor onder die toelating van die Here om die persoonlike bestaan en die verloop van sake in sy Kerk en in die breë samelewing te onderneem en te bestuur volgens sy geopenbaarde Waarheid, òf om dit in eiewilligheid as die bepalende faktor uit te skakel.
Dit is op sy wonderlike wyse deur Hom op ons pad geplaas om die basuin te blaas en te waarsku teen die opsetlike en geruislose verval van die norme wat Hy in sy Woord geopenbaar het. Dit betref allereers die kerklike samelewing, maar dit raak ook die publieke samelewing van die staat en maatskappy.
Waar staan ons? Feitlik staan ons teenoor die hele wêreld wat om ons heen verander en al hoe meer wegbeweeg van die gehoorsaamheid aan die insettings en gebooie van die Here. Die ergste van alles is dat die sogenaamde "gereformeerde" kerke deur die suigkrag van sekularisasie en valse eenheid aangetrek word en sodoende die skriftuurlike, antiteties behoudende plek in die breë samelewing verlaat. As die stem van die profesie stil word of as dit stilweg verander tot 'n boodskap van "vrede, vrede, geen gevaar nie", dan onttrek die Here Hom daarvan.
Dit is waar ons met die genade en in die krag van die Here wil staan om van sy Woord en wil te getuig temidde van sy Kerk en wat as sodanig bekend staan. Ons doen dit ook temidde van 'n wêreld wat vol ongeloof, goddeloosheid, sedeloosheid, geweld en misdaad is. Dit is waar ons poog om vas te staan met die morele en fisiese ondersteuning van die intekenare en lesers van ons blad.
'N DRINGENDE BEROEP
Die afgelope twee maande het teenspoed ons getref in die vorm van skade aan ons rekenaartoerusting. Op advies van broeder Nico van der Dussen, wat ons in die tegniese hantering bystaan, is toe besluit om dit tegelykertyd met 'n vergrote hardeskyf te vervang. Daar was nog ander probleme wat uitgeskakel moes word, sodat die totaal van die rekening wat betaal moes word naby R 6 000-00 bedra het. Die lopende reserwefonds het slegs R 2 000-00 bevat, sodat ons tans 'n tekort aan kontantvloei ondervind. Dit betref hierdie en die eersvolgende uitgawe wat voorlopig gedeeltelik uit die privaatfondse van die redakteur gefinansier moet word, tensy almal wil saamwerk om hierdie tekort so gou as moontlik aan te vul deur (1) die intekening vir hierdie (vierde) jaargang te hernu as dit nog nie gedoen is nie , en (2) die skenking van 'n bykomende donasie om in die onverwagte tekort aan beskikbare finansies te voorsien.
Let asseblief op die adresstrokie op die koevert wat aan u gepos is. Daar is nog enkele geadresseerdes wat nog nie die tweede jaargang betaal het nie. Toesending gaan gestaak word as dit nie nou voldoen word nie. Diegene waar die syfer 3 langs die naam staan, het nog nie vir die huidige jaargang bygedra nie en word vriendelik versoek om dit, as hulle kan, so gou as moontlik te doen. Dié wat die syfer 4 langs hulle naam het is die staatmakers wat vroegtydig hulle bydrae gepos het en daarvoor ons hartlike dank. Met almal se morele en finansiële bystand, sal ons hierdie krisis te bowe kan kom. ®