Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
Hoofartikel
"LET OP JOUSELFVerleidende geeste en leringe van duiwels; die bose geeste in die lug. Dit gryp terug op die begin van die Bybel, Gen 3: 1, waar die slang as "listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het", beskryf word. Kyk ons na Openbaring 12 : 9 en 20 : 2, dan word al dié begrippe omvattend beskryf as "die groot draak" wat neergewerp is, "die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei". Petrus beskryf dit met daarop te wys dat "die duiwel rondloop soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind" (1 Pet 5 : 8). In die boek Job lees ons dat die Satan voor die HERE verskyn het. "Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan?" En die Satan antwoord die HERE en sê: "Van 'n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het" (Job 1 : 7). Met die oog op die Satan se groot mag om te verlei, vermaan Paulus vir sy leerling Timoteus om "te let op homself en die leer en daarin te volhard" (1 Tim 4 : 16), en Petrus praat in dieselfde terme om nugter en waaksaam te wees en die duiwel teë te staan, "standvastig in die geloof" (1 Pet 5 : 8 en 9).
Skrifvergelykend kan gekonkludeer word dat die Satan as 'n teëstander van God funksioneer; dat hy 'n geskape wese, 'n gevalle engel is, aan wie God mag verleen het om die mense te toets en te verlei. Dié mag wat aan hom verleen is, is veelsydig van aard. Soms verskyn hy as 'n engel van die Lig (2 Kor 11 : 14), dan weer as 'n vyand, die antichris, "die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is" (2 Tess 2 : 4). Ook sien die apostel Johannes hom geopenbaar as die twee diere wat uit die see en die aarde opgekom het met die geestelike, ekonomiese en politieke mag oor "almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie" en dat aan hom mag gegee is "oor elke stam en taal en nasie". Dit is ook aan hom (die dier uit die aarde) "gegee om 'n gees aan dié dier se beeld (die dier uit die see) te gee, sodat hy ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie" en om diegene ekonomies te boikot, "behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het" (Openb 13).
Die Satan poog van die begin af die kinders van die HERE deur middel van dialoog te verlei. Dit is 'n poging om die redelike denke van die mens te stel naas en teenoor die gesproke en geskrewe Woord van God. Dis wat in die Paradys gebeur het toe Eva die (proef-) gebod van die HERE betwyfel het, toe sy en Adam saam met haar, voor dié listigheid, voor die eerste aanslag van die Satan, geval het. Dié taktiek van die Satan loop as 'n sigbare lyn deur die wêreldgeskiedenis tot vandag toe. Aan die hand van die openbaring in God se Woord dra ons kennis van sy bedreiginge wat voortduur tot die wederkoms van Christus op aarde, op die dag en uur wat deur Hom bepaal is.
Van homself is die Satan nie 'n mag of krag teenoor God nie. Die gedagte dat daar 'n goeie mag en 'n bose mag in stryd met mekaar verkeer en invloed op die aarde uitoefen, is 'n dwaling wat geen skriftuurlike grond het nie. Die Satan is 'n geskape wese wat slegs oor mag beskik wat aan Hom verleen is. Hy kan uitsluitend opereer binne die perke
vir sover die HERE dit toelaat. Die magte wat aan hom verleen is, is omvattend. Dit betref (i) die geestelike, om op die terreine van die geloof en wetenskap te verwar, (ii) die ekonomiese, om die materiële bestaan van die gelowiges te beheers en (iii) die politieke, om soos die Bybel dit openbaar, die hele wêreld aan hom te onderwerp. Dit is 'n stelselmatige strewe om stilweg die kinders van die HERE van die waaragtige kennis van Hom te vervreem en andersins om hulle deur dwang en die uitoefening van mag en geweld afvallig te maak.
Op die terreine van die geloof en wetenskap kom die aanslag allereers in die vorm van betwyfeling van God se bestaan en skeppingsalmag, asook aangaande sy beheer oor die aardse bestaan. Daarna volg die teologiese relativering van die Goddelike inspirasie van die Bybel. Daaruit voortspruitend die historiese en dialektiese Skrifkritiek. Tegelykertyd daarmee die ontkenning dat die Bybel die enigste geopenbaarde waarheid van God is en dat Hy die enige ware God en Skepper van hemel en aarde is. Sodoende word die Skrifgesag ondermyn en nie meer as voorskrywend en rigtinggewend aanvaar nie. In die beoefening van die wetenskap word gepoog om self die oplossings vir die probleme in die praktyk van die lewe te "ontdek". Religie dien slegs om die mens te verhef en te veredel. Dus word gelyke waarde toegeken aan alle religieuse geskrifte. In dié opsig staan die Bybel gelyk aan die Koran van die Islam en die voorskriftelike boeke van die Boeddhisme en Hindoeïsme. Die eksistensiële neiging om alles te verklaar uit en deur en tot die mens, onttroon God en haal Hom omlaag na die menslike nadenke oor Hom. Daarmee word 'n god na die beeld van die mens ontwerp. Dit is 'n laagtepunt in die sonde teen die tweede gebod.
Die tweede sataniese magsontplooiing lê op die ekonomiese terrein. Dit loop daarop uit dat "niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het" (Openb 13: 17). Wat dit behels, ervaar ons reeds in 'n mate. Die ekonomiese mag word toenemend gemonopoliseer in groot geldmagte wat wêreldwyd gevestig is. Die woord wat al hoe meer gehoor word, is "globalisering". Dit dui op 'n omvang wat die hele aardbol (globe) omvat. Dit moet nie onderskat word nie. Dit betref die internasionale koophandel, die olievoorsiening, die groot-industrie, die uiteindelike sentrale beheer oor die banke, geldsirkulasie en aandelebeurse, die beheer oor die teaters, bioskope en die vervaardiging van rolprente; die beheer oor die toonaangewende openbare media, die televisie, radio, tydskrifte, koerante, die onderwys, ensovoorts. Dit is 'n bombardement van druk en beïnvloeding wat uitgeoefen word om deel te neem aan 'n sekulêre lewenspatroon teenoor die Skrifgetroue binding aan die gebooie van die Here. Dié wat nie sterk in die geloof staan nie, word maklik meegesleur in die gemaksug en die aanvaarding van die materiële voordele en genietinge van wêreldse genot wat aangebied en gekoop of verkry kan word.
Die derde fase van die Satan se aanslag is meer gewelddadig. Dit bestaan uit fisieke dwang. Dié dwang, vervolging en onderdrukking sal deur kerklike en wêreldlike owerhede toegepas word. Hulle "sal die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. ... julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak" (Luk 21: 12, 16). "Dit is ook aan hom (die dier uit die see, oftewel die Satan) gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie" (Openb 13: 7). Daar kan nog verwysings bygevoeg word. Die tendens is duidelik dat die toekoms vir opregte Christengelowiges nie, volgens wêreldse standaarde, belowend en rooskleurig is nie. Ons gaan 'n stryd tegemoet wat toenemend intensiveer. Daarom temeer moet ons ons inset vir die waaragtige reformasie van die Here se kerk. Die geleidelike aanpassing van die kerk aan die aanwesige neiging van op die mens gerigte (eksistensiële) teologie, maak die kinders van die Here magteloos om hierdie drieledige doelgerigte aanslae van die Satan te kan weerstaan. ®