Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
KERKLIKE JOERNAAL DIE VERENIGDE NASIESProf Koos Vorster afgevaardig na n sitting van die VN
Met skok en verbasing is kennis geneem van 'n berig in DIE KERKBLAD van 5 April 2000 (bl 24), dat prof Vorster as 'n genooide afgevaardigde 'n sitting van die menseregtekommissie van die Verenigde Nasies bygewoon het. Dié berig lui as volg:
"Prof Koos Vorster, direkteur van die Skool vir Kerkweten-skappe, is deur die International Association for Religious Freedom uitgenooi om as deel van hulle afvaardiging die eersvolgende sitting van die menseregtekommissie van die Verenigde Nasies by te woon. Die International Association for Religious Freedom (IARF) is 'n internasionale nie-regeringsinstansie wat hom beywer vir die bevordering van godsdiensvryheid wêreldwyd en is by die VN geakkrediteer. Die sitting vind plaas in die Palais de Nations van die VN in Genève en duur van 20 Maart tot 28 April 2000. By dié geleentheid word menseregteskendings oor die wêreld gemonitor vir moontlike optrede deur die VN en die afvaardiging lewer insette in dié proses."
Die Kerkpad se redaksie kan hom nie vereenselwig met die vermelde gelukwensing en die wens " vir sterkte met hierdie belangrike taak", van Die Kerkblad se redaksie nie. Ons is van mening dat dit 'n kritiese aangeleentheid betref, wat nie deel van die amptelike bevoegdheid van die professor is nie.
Ook is die uitnodiging nie gerig aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke nie. Prof Vorster kan dus nie vry-uit getuig namens die GKSA se geloofsoortuiging dat slegs die enige ware God, wat Homself in die Bybel as Drieënig geopenbaar het, vereer en aanbid mag word nie. Daarenteen aanvaar die IARF die gelykheid en gelyke erkenning van alle (af-)gode en religies. Vanuit daardie perspektief word gepleit vir vryheid van godsdiens en beweerde skending van menseregte. Die berig vermeld dat die afvaardiging insette in die proses van skending van menseregte kan lewer. Beskik prof Vorster oor 'n mandaad van die kuratore van die TSP met die oog daarop? Al met al is dit 'n twyfelagtige saak om as 'n vooraanstaande Gereformeerde hierdie uitnodiging te aanvaar en om deel van die afvaardiging te wees. Dit verdoesel die antitese wat die Here gestel het van Hom en sy diens teenoor die gode wat die volke aanbid (Ex 20: 3; Ps 96, 97, 99 ea). Kragtens sy afvaardiging word prof Vorster gereken onder diegene wat die Christelike godsdiens op dieselfde vlak plaas as dié van die Islam, die Boeddhisme, Hindoeïsme, voorouerverering en ander.
Daarbenewens is die Verenigde Nasies in normatiewe opsig betwisbaar. Dit is 'n sekulêre instelling om internasionale eenheid op die grondslag van die New Age, oftewel die nuwe wêreldorde te bevorder. As sodanig trag hy 'n juridiese, polisiële en militêre toesig oor die hele wêreld toe te pas, waarmee in veel gevalle die soewereine onaf-hanklikheid van state in die gedrang kom. Dit is bekend dat in talle gevalle onbehoorlik ingegryp is op die interne aangeleenthede en vryheid van volke, ook in ons land, en dat dié soewereiniteit bedreig en ondermyn is. Derduisende mense het al gesterf as gevolg van die toepassing van 'n valse ideologie van wêreldeenheid en gewelddadige onderwerping aan diktatoriale magsontplooiing.
Die Kerk van Jesus Christus behoort afsydig te staan teenoor hierdie goddelose strewe van eenheid en dwang.
Let op die uitnodiging wat aan prof Vorster gerig is. Wie is die instansie wat dit gedoen het? Saam met wie vorm hy deel van die afvaardiging? Watter organisasie finansier die koste hiervoor? In watter geselskap neem hy aan hierdie geleentheid deel? Watter belange word daarmee gedien of ondermyn? Wat is die aard en konsekwensie van prof Vorster se deelname? Almal vrae waaroor ernstige vooroordele en bedenkinge gestel kan word.
Neem prof Vorster aan hierdie afvaardiging deel met die vooraf kennisname en goedkeuring van die Kuratorium van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke? Is hulle bewus daarvan dat dit spanning bring binne die verband van ons kerke omdat dit in konfessionele en kerkordelike sin betwisbaar is?
Prof Vorster is verslag en verduideliking verskuldig aan sy sender, die IARF. Maar hy is ook 'n verantwoording verskuldig aan die Kuratorium onder wie se toesig oor leer en lewe hy staan. Sal hy aan altwee instansies dieselfde verslag en verantwoording kan lewer? Is die Gereformeerde geloof versoenbaar met die samewerking in inter-afgods-geloofsverband?
Dit is 'n saak waaroor ernstig besin moet word en die kuratore van die TSP is dit aan die verband van kerke wat hulle dien, verplig om die bywoning en deelname van prof Vorster aan hierdie VN vergadering te verantwoord.
THE INTERNATIONAL ASSOCIATION
FOR RELIGIOUS FREEDOM
Samestelling van sy "Council"
Met verwysing na die omstrede insluiting van prof Koos Vorster in 'n afvaardiging na 'n sitting van die VN te Genève, het 'n leser van dié berig wat Die Kerkblad (lees berig hierbo) gepubliseer het, inligting verstrek wat offisieel op hulle webgebied gelees kan word, op die adres: http://www.geocities.com/~iarf/:
Ons publiseer die inligting in Engels soos dit deur die organisasie vrygestel is. Dit lui as volg:
"The International Association for Religious Freedom was organized in 1900 to resist intolerance. Its members today include Buddhists, Christians, Hindus, Humanists, Jews, Shintoists, Sikhs, Unitarians, Universalists, and members of indigenous communities from more than thirty countries on four continents. The IARF welcomes into membership any individual or group that endorses the fundamental human right under international law of freedom of religion or belief."
Dit veronderstel dat prof Vorster deur sy afvaardiging die aanvaarding van hierdie omstrede samestelling en grondslag onderskryf. Die volgende persone en hulle denominasies word vermeld op 'n bykomstige webadres:
President:
Mr Eimert van Herwijnen - Remonstrantse Broederschap (Netherlands)
Vice-President
Ellen Campbell - Canadian Unitarian Council (Canada)
Treasurer:
Rev. Norio Sakai - Rissho Koseikai (Japan)
Azam Bayburdi - Community of the Medicine Buddha
(Hungary)
Rev. John Buehrens Unitarian Universalist Association (USA)
Bhiksuni Chueh Men - Fo Guang Shan (Taiwan)
Rev. Polly Guild - Unitarian Universalist Association (USA)
Prof. Dr. Mumtaz Ali Khan - Center for Research and Development of Dalits (India)
Dr. Alexei Krindatch - Logos Society for Christian Culture (Russia)
Rabbi Mordechai Liebling - Jewish Reconstructionist Federation (USA)
Rev. Anne McClelland - British General Assembly (UK)
Rev. Tatsuo Miyake - Konko Church of Izuo (Japan)
Ranjit Mukherji - Ramakrishna Mission (India)
Dr. Creamlimon Nongbri - UU North Eastern India (India)
Mr. Manfred J. Paul - Deutscher Unitariar (Germany)
Dr. Mohinder Singh - Bhai Vir Singh Sahitya Sadan (India)
Rev. David Steers - Non-Subscribing Presbyterian Church (Ireland)
Bishop Arpad Szabo - Transylvanian Unitarian Church (Romania)
Sebellon Wale - Silliman Universiy (Philippines)
Rev. Yukitaka Yamamoto - Tsubaki Grand Shrine(Japan)
'n Twyfelagtige geselskap vir Gereformeerdes! (red)