Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
KERKLIKE JOERNAAL DIE NUWE KERKLIEDBUNDELBerig in BEELD, Saterdag 15 April 2000
Met erkenning aan die skrywer, Neels Jackson,
ter kennisname van die lesers:
Die nuwe Afrikaanse kerkliedbundel gaan iets vir almal hê, sê ds Cassie Carstens, lid van die eindredaksie van die Psalm- en Gesangeboek wat volgens beplanning in Oktober volgende jaar bekend gestel gaan word.
Dit sal 'n maroon boek wees. 'n bietjie groter en dikker as die huidige Psalm- en Gesangeboek, met 150 psalms en 400 gesange.
Dit sluit 40 van die 62 liedere in die huidige groen Jeugsangbundel in.
Die kommissie kyk ook na die insluiting van 'n paar van die ou Hallelujaliedere, soos die kerslied Die Heiland is gebore en Nader my God by U.
Carstens sê daar is baie moderne liedere. Die musiekstyle in die bundel omvat 'n groter verskeidenheid as ooit te vore. Hy praat van "skitterende goed vir die jonges", en noem ook liedere van Gisela de Villiers en moontlik selfs een van Koos du Plessis.
Wat die psalms betref, is onsingbare melodieë uitgegooi en bekende wysies van gesange is onder meer gebruik vir die psalms.
Wat musiekstyl betref, is daar egter meer behoudend te werk gegaan by die psalms as by die gesange.
Carstens sê die onderskeie kommissies vergader net ná die Paasnaweek om die werk aan die liedere af te handel.
Die NG Kerk se algemene sinodale kommissie moet dit in November goedkeur as die kerk se liederebundel.
Die redaksionele werk aan die bundel en die begeleiersboek moet dan nog afgehandel word en die bundels moet gedruk word sodat dit op Hervormings-Sondag in Oktober volgende jaar in gebruik geneem kan word.
Prof Andries Breytenbach van die Hervormde Kerk sê hulle beplan om die liedere teen September vanjaar aan gemeentes beskikbaar te stel sodat hulle dit kan toets. 'n Buitengewone algemene kerkvergadering vroeg volgende jaar moet die bundel dan goedkeur.
Ds Arnold Mulder van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) sê die nuwe psalms sal teen einde vanjaar as die werk klaar is, aan kerkrade gestuur word vir kennisname en kommentaar. Die GKSA werk nie saam wat die gesange betref nie.
Die nuwe psalms kan op 'n proefgrondslag buite eredienste gebruik word totdat die nasionale sinode van 2003 besluit of dit in die kerk vrygestel kan word. Dit sal nie die Totiusberyming vervang nie, maar die twee versamelings sal naas mekaar aanvaar word.
Ds Mechiel Adendorff van die Afrikaanse Protestantse Kerk sê die bundel sal ná verskyning aan gemeentes gegee word vir gebruik buite die erediens. 'n Kommissie sal aangestel word om terugvoer uit die gemeentes te ontvang en aanbevelings aan 'n volgende sinode te doen oor die aanvaarding daarvan.