Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
KOMMENTAARMENSEREGTE: RADIO PRETORIA VERSUS PROF AMIE VAN WYK
Dinsdag 21 Maart staan nou in ons land bekend as "Menseregtedag". Prof Amie van Wyk reageer daarop in BEELD van 20 Maart, in die rubriek Godsdiens-aktueel. Daarin skryf hy onder andere as volg:
"Hierdie dag herinner ons natuurlik aan wat veertig jaar gelede in Sharpville gebeur het toe swart mense teen paswette betoog en die polisie 69 doodgeskiet en honderde gewond het. ...
"Sharpeville herinner ons aan die vraag na menseregte. Het die mens dan regte? sou iemand kon vra. Is dit nie so dat net Gód regte het en die mens slegs voorregte nie? Sonder twyfel kan van menseregte 'n afgod gemaak word wanneer dit op 'n humanistiese wyse benader word.
"Dit kan egter ook op 'n ander manier en wel vanuit die Christelike etiek gehanteer word. Dan gaan dit nie oor aangebore regte nie, maar oor regte wat God aan die mens verleen. Hy het immers die mens na sy beeld geskape, sodat menswaardigheid 'n kosbare artikel is waarmee sorgsaam omgegaan moet word.
"Menseregte, of fundamentele regte, soos die Grondwet daarna verwys, is veral 'n staatsregtelike begrip om staatsabsolutisme te bekamp. Dit is 'n meganisme om magsmisbruik deur 'n regering (veral teenoor minderhede) te kontroleer. Vir diegene wat teen fundamentele regte gekant is, is die volgende vraag van deurslaggewende belang: watter ander en beter kontrolemeganismes teen diktature stel hulle voor?"
Radio Pretoria se Nuuskommentaar, op voorafgaande 8 Maart, beantwoord dié vraag aldus:
"Die Bybel maak dit baie duidelik dat God daarop gesteld is dat reg en geregtigheid jeens mense moet geskied. In die besonder jeens die weerloses, die armes, die weduwees en wese en les bes die vreemdeling in jou poorte.
"Hierdie verhouding begin tussen God en mens en moet weerklank vind tussen mens en mens. In teenstelling hiermee lę menseregte op 'n horisontale vlak, dit wil sę tussen mens en mens. Dit is 'n uitvloeisel van die humanisme. Dit begin en eindig by die mens as individu of as groep.
"Breedweg word tussen drie generasies menseregte onderskei:
"Eerste generasieregte poog om die burger teen magsmisbruik van die staat te beskerm. Dit plaas ook 'n verpligting op die staat om die burger se lewe, eiendom en regte te beskerm teen wie dit ook al bedreig. Die Suid-Afrikaanse grondwet wyk af deurdat dit aan die staat die reg gee om te diskrimineer ten gunste van wie hy as histories benadeeldes beskou. In die praktyk het dit rassediskriminasie geword, gegrond op bevoordeling en benadeling op grond van ras en kleur. Dit verleen dus aan die staat wel die reg tot magsmisbruik teen minstens sommige burgers.
"Tweede generasieregte is op die sosialistiese leer van Marx en Engels gegrond. Dit is teen kapitalisme gerig en laat die klem op gelykheid val. Die Suid-Afrikaanse grondwet se geďnstitusionaliseerde diskriminasie is ook hiermee in stryd omdat dit sommige mense bo ander bevoordeel.
"Derde generasieregte kan as solidariteitsregte of ook die selfbeskikkingsreg van volke beskryf word.
"Die Atlantiese Handves van 1940 het Amerika en Brittanje verbind tot erkenning van die regte van alle volke om die regering onder wie hulle wil leef, self te kies.
"Dié uitspraak is deur baie in die koloniale węreld aangegryp as synde op hulle van toepassing. Die dekolonisasieproses het homself onkeerbaar voltrek. Dit is in hierdie proses dat selfbeskikking sy aanvaarding as mensereg gekry het.
"Die Internasionale Konvensie oor Burgerlike en Politieke Regte en die Internasionale Konvensie oor Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte verklaar met identiese bewoording: "All peoples have the right of self-determination."
"Die menseregtekenner Sieghart wys daarop dat feitlik elke mensereg net in groepsverband, dus ook in volksverband uitgeoefen kan word.
"Ten spyte van die internasionale erkenning van die selfbeskikkingsreg van groepe en volke, en ten spyte van die feit dat dit juis die Afro-Asiatiese węreld was wat aan volksregte beslag gegee het, het die Suid-Afrikaanse grondwetopstellers daarvan weggeskram.
"Menseregtelik het die Suid-Afrikaanse grondwet dus twee gebreke wat dit feitlik neutraliseer. Ten eerste wettig dit magsmisbruik deur die staat teenoor sommige burgers. Tweedens bly dit in gebreke om 'n essensiële aspek van moderne menseregte te erken, naamlik die selfbeskikkingsreg van groepe en volke."