Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
"Let op jouself en op die leer"

AKTUEEL:
Polemies of irenies

SKRIFOORDENKING:
Die handelende Here Jesus hou sy Hand oor sy Kerk
Hand. 12:1-24

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (3)

Totius se vereistes vir Psalmberyming

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Pous en die 1983 Vertaling

Kerke en Staatslotery

Gesprek oor GKSA se Sinode 2000

Kleredrag in Kerk geen neutrale saak nie

Nkosi sikelel'iAfrika
Kan ons dit aanvaar en saamsing?

Kontra-kultuur, kultus en volkskultuur onversoenbare ooreenkomste?

Ongeoorloofde Abeeldings van Christus

Is dit moontlik om 'n Christen en 'n Evolusionis te wees?

WOORD EN WETENSKAP:
Mount St Helens

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die Verenigde Nasies
GKSA Predikant bedank
Die nuwe Kerkliedbundel

OPVOEDING EN ONDERWYS:
VCHO - 50 jaar van Genade
"Die wêreld van eie politieke dogma's en stelsels"

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (5)

PERSRUBRIEK: 
Geloofsverklaring 2000 - 'n belydenis vir GKSA?

Toesprake van Cassie Aucamp in parlement

KOMMENTAAR: 
Menseregte: Radio Pretoria versus Prof Amie van Wyk

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die menslike lewe in die lig van God se Woord

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 3  Mei 2000

MEDIESE ETIEK

DIE MENSLIKE LEWE IN DIE LIG VAN GOD SE WOORD

DR MC DURAND

Die waarde van die menslike lewe

Die waarde van die menslike lewe kan afgelei word uit die mate wat ander dit begeer en ag. Bó alles het dit vir God 'n besondere waarde. Want Hy het die mensewêreld so lief gehad, dat Hy sy Seun gestuur het om aan sy uitverkorenes die ewige saligheid wat deur die sataniese verleiding tot sonde verloor is, weer as 'n onverliesbare goed terug te skenk. Ook vir die engele het dit waarde. Want hulle is daar om die mens te dien (Hebr 1: 14).

Daarbenewens het by die Satan die begeerte na die mens 'n jaloesie laat ontstaan, en hy probeer enigiets om die kinders van die Here afvallig te maak (Luk 22: 31, Openb 12: 17). Die waarde van die menslike lewe kan ook daarin gesien word dat dit die diereryk ver te bowe gaan. Alles wat deur God geskep is, dien tot verheerliking van sy Naam. Die mens is daargestel om dit tot die doel waarvoor dit geskep is, te bewaar en te ontwikkel (Gen 1: 26 - 30, 3: 17 - 19).

Die begronding van die waarde van die menslike lewe

Die Woord van God stel dit duidelik dat die waarde van die menslike lewe nie van en uit sigself nie, maar slegs uit die Goddelike bestemming, afgelei kan word. Die menslike geslag is nie net deur God geskep, soos alle ander geskape wesens nie, maar die mensdom is spesifiek na die beeld van God geskep. Dit raak die betekenis van die mens dat sy waarde nie net daaruit bestaan dat hy, soos die hele skepping, die eiendom van God is nie, maar dat hy ook beskik oor bepaalde besondere eienskappe waardeur hy in staat gestel word om spesifieke take te kan verrig. Derhalwe mag die waarde van die menslike lewe nie in sigself gesoek word nie, maar juis in dit wat die mens ten opsigte van God is. Die menslike lewe bestaan uit God en is deur Hom na sy beeld geskep. Vir elke asemteug is die mens van God afhanklik. Kortweg kan gestel word dat die menslike lewe heilig is. God het dit geskep tot die doel wat Hy daarvoor bepaal het en dus het Hy alleen die aanspraak en die reg daarop.

God beveel die doodstraf en Hy veroordeel die wederregtelike doodslag

Dat die mens in sy bestaan volkome toegewy aan God moes wees, is reeds in Genesis 2: 17 bekend gemaak. Daar word die mens beveel dat hy aan God gehoorsaam moet wees en dat ongehoorsaamheid met die dood gestraf sal word. Die dood van die menslike lewe is geen natuurlike saak nie, dit behoort nie by die oorspronklike bestaan nie. Die dood is onnatuurlik en is die loon op die sonde. In Genesis 4: 5-11 word die vermoording van Abel en die oordeel oor Kain beskryf: Die grond was vanweë die sonde van Adam vervloek, maar Kain sal vanweë sy sonde groter vloek dra as die grond wat die bloed van Abel ontvang het. Ja, die grond wat vanweë Adam se sonde vervloek is, kla Kain aan. Daarin word die heiligheid van die menslike lewe aan ons bevestig en ervaar ons God se oordeel, spesifiek oor dié moord. God veroordeel die vergryp aan die heiligheid van die menslike lewe. So straf God ook die wêreld, wat met geweld vervul was, met die sondvloed. Dit is duidelik dat die skending van die menslike lewe met die dood gestraf word.

God beskerm die menslike lewe uit genade en gebied die doodstraf

Die menslike lewe bestaan slegs deur die genade van God. Die verbond van genade is vanweë die verdorwenheid van die mens noodsaaklik. Die omstandighede ná die vloed (naamlik die vernietiging van die menslike lewe) maak dit duidelik. Deur middel van sy verordeninge stel God die vermeerdering en die beskerming van de lewe teenoor die dood.

Genesis 9: 6 bied sowel 'n stelling as 'n opdrag. Die koelbloedige vermoording van 'n mens moet en sal vergeld word.

Hier vind ons weer eens die onderliggende grond van die waarde van die menslike lewe en die rede van die doodstraf, naamlik dat die mens na die beeld van God geskep is. Hieruit lei ons af dat die doodslag deur God verbied is en andersins eis om die doodstraf te bedien. Die heiligheid van die menslike lewe dien vir beide, as basis vir die be-skerming van die menslike lewe sowel as basis vir die eis en bediening van die doodstraf. Die sesde gebod is gegrond op die heiligheid van die menslike lewe. Daarom is dit voor die handliggend dat dié gebod nie die doodstraf verbied nie.

Dit is die owerheid se taak om die doodstraf te eis en te bedien

Die taak van die wêreldlike owerheid behels ook sy eerbiediging van die heiligheid en die beskerming van die menslike lewe. Enersyds is dit 'n verpligting om die lewensomstandighede van die burgers te bevorder en hulle te beskerm, naamlik te sorg vir rus en vrede (1 Tim 2: 2). Andersyds ontvang hy die swaardmag om God se strafgerig te bedien (Rom 13: 1 - 7; 1 Pet 2: 13 - 17; NGB, art 36).

Nieteenstaande die duidelike Skrifgegewens en die Goddelike bepalings vind ons die toestand in die Nuwe Suid-Afrika, dat dit 'n land is waar aborsie en eersdaags ook eutanasie toegelaat en toegepas word. Tegelykertyd is die doodstraf, in stryd met die Goddelike openbaring, afgeskaf.

Die heiligheid van die menslike lewe word misken en die beeld van God daarin, gesmaad. Sodoende word die vergryp aan die menslike lewe nie in bedwang gehou nie.