Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
OPVOEDING EN ONDERWYS VCHO - 50 JAAR VAN GENADEOp 25 en 26 Maart jl. het die VCHO se Jubileumkongres in Bloemfontein plaasgevind. Die rapport van die kongresgangers was voor die voet positief. Lof is uitgespreek oor elke voordrag wat gelewer is. Die toehoorders is getrakteer op deeglik voorbereide en keurige aanbiedings.
n Kort oorsig:
Prof J C Lombard het die opening waargeneem. Op sy kenmerkend spitsvondige manier het hy eers die wyding gelei, en daarna in n neutedop gewys op n paar mylpale op die pad van die VCHO.
Dr Chris L Jordaan het daarin geslaag om sy diepgaande studie oor die uiters aktuele saak van geestelike misleiding en verwardheid op n baie bevatlike manier tuis te bring.
Proff Marč en Van Niekerk het respektiewelik aangetoon hoe die stand en uitbouing van ons reformatoriese erfenis en roeping daaraan toe is op die kerklike -, en op die onderwysgebied.
Dr J M Gerber het sy gebruiklike netjiese bydrae gelewer in n raak wydingsrede by die prestigebyeenkoms, waarna die VCHO se voorsitter, prof A W G Raath die gehoor geboei het met sy relaas oor die Vereniging se wordingsagtergrond, geskiedenis en bestaansdoel.
Prof P A Verhoef (Emeritus) het n kostelike waarderingsrede uitgespreek in die eerste F J M Potgieter-gedenklesing. Prof Potgieter se roeping en werk het duidelik voor die gees gekom in die gloedvolle vertelling van sy 86-jarige oud-kollega.
Op die Sondag het dr Jordaan n aangrypende Calvinistiese diens gelei, na aanleiding van 2 Thessalonisense 2, waarna mnr G Opperman met videotoeligting verslag gedoen het oor die godslasterlike węreldparlement van godsdienste wat in die Kaap gehou is in Desember 1999.
Hoofbestuur
By elke kongres word die Hoofbestuur hersaamgestel. Uit die nege verkose lede tree drie (in rotasiebeurt) uit by elke kongres. Twee uittredende lede is herkies, nl. proff JJ Pienaar en R Marč. Die derde uittredende lid, dr CL Jordaan was nie weer beskikbaar nie. In sy plek is toe verkies prof EJ van Niekerk van Unisa. Benewens die nege verkose lede, is daar ook nog drie lede wat gekoöpteer word vir een termyn, van kongres tot kongres. Vir die volgende termyn is gekoöpteer : di F J van der Merwe en G van Heerden en mnr J de Vos.
Mosies
Die kongres was sterk onder die indruk van die louheid en die onbetrokkenheid van Afrikanermense wat bely dat hulle Christene is. Omdat ons tye so buitengewoon kritiek geword het, besluit die kongres om alles in sy vermoë te doen om elke Calvinistiese Afrikaner tot die besef te probeer bring van wat werklik rondom ons aan die gang is. Verder ook om te werk om die teikengroep om te skakel na medewerkers, in plaas van passiewe gebruikers, wat net mooi praat.
Die kongres wil opnuut alles in sy vermoë doen om so veel moontlik van ons studerende jeug te bereik sonder om kinders en volwassenes te versaak!
Die volgende kongres is DV in September 2001. Die kongres wil graag geesgenootlike organisasies regoor die land uitnooi om met die VCHO-kantoor te skakel reeds nou al en hulle samewerking aan te bied. Die kongres onthou nog 1982 se Volkskongres oor die onderwys waar meer as 1 000 Afrikaners besluite geneem het wat genotuleer is as "ononderhandelbaar". Die meeste daarvan is binne agttien jaar wegonderhandel deur mense wat hulself Calvinistiese Afrikaners genoem het! Die kongres wil dringend dat die oorblyfsel, vir wie die Woord en die Belydenis geld as die Alpha en die Omega, bymekaar moet kom om oor die huidige dilemma te besin, en om positiewe oplossings saam uit te werk.
Daar het ook n sterk besluit geval om deeglik ondersoek in te stel na die rol wat musiek speel in die hele proses van breinspoeling.
Uiteiendelik staan een versugting soos n paal bo water SOLI DEO GLORIA.
Die VCHO se adresbesonderhede is:
Posbus 1824, Bloemfontein;
E-pos: vcho@imaginet.co.za
Tel nr 051- 4489160 / 4484464
en faksnr 051- 4484669