Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
SKRIFOORDENKING
DIE HANDELENDE HERE JESUSHandelinge 12: 1 24
DR AH BOGAARDS - DANIëLSKUIL"En meteens staan daar 'n engel van die Here by hom (Petrus), en 'n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval. En onmiddellik het 'n engel van die Here hom (Herodes) getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe. (Hand 12: 7, 23)" |
Inleiding
Ek glo nie ek sê te veel wanneer ek die stelling maak: Ons Gereformeerdes gee maar weinig aandag aan die werk van die engele nie. Tog sê Hebreërs 1: 14: "Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van dié wat die saligheid sal beërwe nie?" Deel van hierdie diens was en is om God se kinders te beskerm. Is dit nie n rusgewende gedagte nie? Reeds onder die Ou Verbond sien ons die engele so aan die werk: Op die gebed van Elisa gaan sy kneg se oë oop en sien hy hoe die engele n muur van vuur om die dorp vorm om hom en sy meester teen die Arameërs te beskerm (2 Konings 6:15-17).
Waar die optrede van die engele egter verlossing vir die Kerk gebring het, het dit verderf beteken vir die Kerkvyandige magte. Ons lees byvoorbeeld in 2 Konings19: 35 hoe n engel van die HERE, op die gebed van koning Hiskia - wéér hoor ons van n gebed -, uitgetrek het en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtig man verslaan het. Dit was in die Ou Testament. Ook onder die Nuwe Verbond sien ons die engele in aksie en dan met name in die boek Handelinge, want ook in ons teksverse lees ons van n engel van verlossing en van n engel van verderf.
Die Here kom sy volk te hulp deur n engel van verlossing( vers7)
Die boek Handelinge dra verkeerdelik die naam "Die Handelinge van die apostels". Dit is nie waaroor dit ten diepste in hierdie boek gaan nie. Nie wat mense doen, staan hier in die middelpunt nie, maar Handelinge wil ons, tot ons troos, laat sien: die handelinge van die verhoogde Here Jesus. Dit wil aan ons toon hoe Hy, die Koning van die Kerk, sy Kerk laat groei en uitbrei.
Maar dit onthul ook die handelinge van ons Here Jesus Christus wanneer sy Kerk bedreig word. Ons sien naamlik in hierdie boek hoe ons Here Jesus verlossend handel wanneer die Satan probeer om sy Kerk te vernietig. Die Seun van God vergader, beskerm en onderhou sy kerk (HK, Sond 21, V/A 54).
Handelinge 12 vertel hoe daar weer vervolgings teen die gemeente losgebreek het. Daarvoor was Herodes Agrippa, nuwe koning oor die grondgebied van Ou Israel, verantwoordelik. Hy was n kleinkind van Herodes die Grote, die kindermoordenaar van Betlehem en hy was n regte aartjie na sy vaartjie: ewe vyandig teen Christus en sy Koninkryk. Om die guns van die Jode te win, het Agrippa begin om die gemeente te vervolg. Waarskynlik het hy van hulle gegésel en in die gevangenis gewerp. Ook het hy Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard laat ombring. Toe hy sien dat dit in die smaak van die Jode val, het hy verder ook Petrus in die tronk laat sit. Ná die Paasfees sou Herodes hom verhoor en waarskynlik ook tereggestel het.
Natuurlik was die gemeente hartseer en verslae. Wat moes hulle, wat kon hulle doen? Moes hulle miskien met swaarde en spiese uittrek om Petrus te bevry? Ag nee, hulle het geen kans gehad teen die Romeinse wagte nie. Tog het hulle n wapen gehad, n wapen veel en veel sterker as die gebalde hande: die gevoude hande! Die gebed! Daar het n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir Petrus opgegaan (vers5).
Soos n Elisa vanouds en n Hiskia van weleer het die eerste gemeente, bedreig aan alle kante, in die nood van hulle lewe, hulle knieë gebuig. Hulle het besef wie hulle eintlike vyand was. Hulle het begryp hoe enorm die oormag van die Satan was. Hulle het terdeë geweet: "...ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie( nie teen mensies nie), maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug (Ef.6:12)." Daarenteen het hulle egter ook geweet van die krag van die gebed. Tot die almagtige Here Jesus het hulle hulle gewend. En Hy het gehoor en verhoor. Hy het n engel gestuur om Petrus te verlos (vers 7 tot 12). Hierin is vir ons n les opgesluit: Die Here stuur sy verlossingsengel in antwoord op die gebed van sy gemeente. Bid ons ook in die nood van die Christendom vandag, of glo ons eerder in die vuis, in wapengeweld, of in aksies van mense, om die Kerk te red en veilig te stel?
Wel is dit diep beskamend dat die kerk daar in Handelinge nie kon glo dat hulle gebed verhoor is nie (vers 15).
Die Here kom sy volk ook te hulp deur n engel van verderf (vers23).
Dit moet ons eweneens sien as deel van gebedsverhoring. Lukas vertel dat Herodes, ná die bevryding van Petrus, na Casarea gegaan het. Waarskynlik wou hy toe, om een of ander rede, oorlog maak teen Tirus en Sidon. Dit was twee vername handelstede aan die Middelandse See. Maar die manne van Tirus en Sidon was nie soldate nie. Hulle was handelaars. Hulle wou nie oorlog hê nie. Boonop was hulle baie afhanklik van Judea vir hulle koring. Daarom het hulle Herodes se hofdienaar, Blastus, omgekoop om die koning te laat afsien van sy planne. Dit het inderdaad geslaag.
n Tyd daarna het afgevaardigdes van Tirus en Sidon na Herodes gekom met geskenke om hom te bedank. By dié geleentheid het die koning opgestaan en n toespraak gehou. Toe hy klaar was, het die entousiastiese skare uitgeroep : " n Stem van n god en nie van n mens nie" (vers 22). Uit die vervolg kan ons tereg aflei dat Herodes hom die goddelike hulde laat welgeval het. Maar opeens het hy inmekaar gekrimp van pyn. Wat het ge-beur?
Net soos Petrus in die gevangenis is hy deur n engel aangeraak. In die Grieks staan in vers 7 ( "aanraak" ) en in vers 23 ("tref" ) presies dieselfde woord. Tog was daar n geweldige verskil: By Petrus was die aanraking tot verlossing. In die geval van Herodes was dit tot verderf. In die een geval was die aanraking heilsaam. In die ander geval het dit onheil beteken. Die geneesheer Lukas, die skrywer van Handelinge, meld dat wurms die koning lewendig verteer het.
So raak die Here diegene wat sy kinders aanraak, aan!
Besluit
Wie die Skrif glo, weet: engele is n werklikheid, n vertroostende werklikheid vir God se Kerk. Daarenteen is hulle n verskriklike werklikheid vir dié wat hulle hande oplig teen God se eiendom. Dit is heerlik om te weet: "Die HEER sal in gevaar sy leërs om ons skaar, oneindig in getal. Die God van Jakob sal vir ons n veilge vesting wees." (Ps.46: 6 - Totius)
Gevoude hande beteken: Nou lê ek die kerk in die hande van n Ander. Die Koning van Handelinge sal ook vandag verlossend handel met sy kerk en sy almagtige hand beskermend daaroor hou. Daarom bid ons: "Laat u koninkryk kom". Dit wil sê: "Bewaar u kerk en laat dit groei." (HK, Sondag 48, V/A 123).