Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 3 Mei 2000
PERSRUBRIEK "GELOOFSVERKLARING 2000"Oorgeneem uit "Roeping en Riglyne" (VCHO)
Maart 2000
(bl 18)
"'Geloofsverklaring 2000' kan dalk 'n beleidsdokument van gereformeerde kerke in Suid-Afrika word soos wat Kerk en Samelewing byvoorbeeld 'n beleidsdokument van die NG Kerk is."
Dit is die mening van dr Johan Buitendag, voorsitter van die Weskaapse Raad van Reformatoriese Kerke (WARK). Die WARK bestaan uit Wes-Kaapse verteenwoordigers van die drie Afrikaanse Susterskerke (Ned Herv Kerk, Geref Kerk en NG Kerk). Geloofsverklaring 2000 is verlede jaar deur medewerkers uit ses gereformeerde kerke saamgestel.
Dr Buitendag sê Geloofsverklaring 2000 is 'n mengsel van die drie algemene simbole in die kerk (die Twaalf Artikels, die Geloofsbelydenis van Athanasius en dié van Nicea), die Drie Formuliere van Eenheid (die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls en die Nederlandse Geloofsbelydenis), sowel as van sommige beleidsdokumente.
"Die moontlikheid van Geloofsverklaring 2000 is aanvanklik op vergaderings van die WARK genoem en daarna het Die Kerkbode die inisiatief geneem om die proses af te handel. WARK sal waarskynlik onder meer deur middel van die Tussenkerklike Kommissie van die Susterskerke die saak verder wil voer", het dr Bingle gesê.