Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
"Let op jouself en op die leer"

AKTUEEL:
Polemies of irenies

SKRIFOORDENKING:
Die handelende Here Jesus hou sy Hand oor sy Kerk
Hand. 12:1-24

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (3)

Totius se vereistes vir Psalmberyming

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Pous en die 1983 Vertaling

Kerke en Staatslotery

Gesprek oor GKSA se Sinode 2000

Kleredrag in Kerk geen neutrale saak nie

Nkosi sikelel'iAfrika
Kan ons dit aanvaar en saamsing?

Kontra-kultuur, kultus en volkskultuur onversoenbare ooreenkomste?

Ongeoorloofde Abeeldings van Christus

Is dit moontlik om 'n Christen en 'n Evolusionis te wees?

WOORD EN WETENSKAP:
Mount St Helens

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die Verenigde Nasies
GKSA Predikant bedank
Die nuwe Kerkliedbundel

OPVOEDING EN ONDERWYS:
VCHO - 50 jaar van Genade
"Die wêreld van eie politieke dogma's en stelsels"

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (5)

PERSRUBRIEK: 
Geloofsverklaring 2000 - 'n belydenis vir GKSA?

Toesprake van Cassie Aucamp in parlement

KOMMENTAAR: 
Menseregte: Radio Pretoria versus Prof Amie van Wyk

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die menslike lewe in die lig van God se Woord

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 3  Mei 2000

Persrubriek

TOESPRAKE VAN AEB LEIER, CASSIE AUCAMP, IN PARLEMENT

Patriot lewer in sy uitgawe van 17 Maart verslag van toesprake van mnr Aucamp in die Parlement. Sonder om te vereenselwig met die partypolitiek, vermeld ons graag wat hy onder andere daarin gesê het. Met erkenning aan Patriot kwoteer ons instem-mend as volg:

PLAASMOORDE

Na aanleiding van die onlangse toename in voorkoms van plaasmoorde, het hy die volgende mosie in die parlement voorgestel:

''Dat hierdie huis met sorg kennis neem:
Van die drastiese toename in plaasmoorde, wyd en syd in ons land. In Kwa-Zulu-Natal alleen is onlangs 9 boere in 6 weke vermoor.

Dat groeiende ontevredenheid bestaan oor die regering se klaarblyklike onvermoë om hierdie saak aan te spreek.

Dat die persepsie begin posvat dat 'n proses van etniese suiwering hierdeur aan die gang is.

Dat dikwels ongegronde, negatiewe publisiteit oor sogenaamde vergrype van blanke boere bydra tot hierdie situasie.

Dat die aandag van die internasionale gemeenskap toenemend op hierdie onverkwiklike situasie gevestig moet word.

Dat maatreëls in die voorgestelde wapenwet wat die selfverdedigingskapasiteit van boere op plase aan bande lê, dringend hersien word.''

MIDDELEEUSE INKWISISIE ?

Mnr Aucamp het die Menseregtekommissie (MRK) se optrede teen koerantredakteurs oor sogenaamde rassisme met 'n middeleeuse inkwisisie vergelyk.

''Die MRK het duidelik nie 'n verhoudingsagenda, maar 'n politieke agenda.''

''Die kriminaliserende effek van die Waarheids- en Versoeningskommissie op veral die blanke gemeenskap is besig om te vervaag. Nou moet dië sondebok lewend gehou word, en daarvoor is die MRK 'n al te handige instrument.''

''Die ANC besef dat wat met hom gebeur, wêreldwyd met bevrydingsbewegings gebeur. In die geval van Suid-Afrika: Die wins wat behaal kan word deur op apartheid te teer, ook as motivering vir omgekeerde rassisme en diskriminasie, is besig om uit te loop.''

''Hou iets daarvan lewend deur rassisme op te blaas, en behou só die momentum van die bevrydingsbeweging.''

''Ekonomiese realiteite dwing die regering om besluite te neem wat in sy populistiese kaders ongewild is. Om 'n sogenaamde 'Back lash' te vermy, slaan hy maar net hard op die snare van die ou kitaar. Blaas rassisme op, tree sterk daarteen op, en gee sodoende aan die radikale element in die ANC 'n been om aan te knou, hulle gelukkig te hou en hul steun te behou.''

Intussen het die MRK die mees basiese van die dinamiek van menseverhoudinge vergeet.

''Met dwang en gedwonge sosiale manipulasie verbeter jy nie verhoudinge nie, inteendeel! Met die optrede van die MRK het gesonde rasseverhoudings in Suid-Afrika eerder myle agteruit geboer.''

HULDE: MEV VERWOERD

In die parlementêre debat oor Wêreld Vrouedag het Aucamp 'n gaping gesien en gevat, deur dié debat te benut vir 'n huldeblyk aan mev Betsie Verwoerd wat onlangs oorlede is. Hy het haar onder andere beskryf as 'n vrou wat ''haar grootste vervulling gevind het in die edel rol van eggenote van wyle dr HF Verwoerd en as moeder en ouma van haar kinders en kleinkinders.''

VLOEDRAMP IN DIE NOORDE

Mnr Aucamp het in die debat oor die vloedramp gepleit dat die Noordelike Provinsie tot nasionale rampgebied verklaar word.

Hy het daarop gewys dat hierdie ramp veel erger is as die vloedramp van 1986 wat 'n ''vernietigende uitwerking op boere gehad het.''

Die voorlopige skade aan die jongste vloed in die Noordelike Provinsie word op sowat R 700 miljoen geraam. In die Mooketsi-omgewing alleen het 25 besproeiingsdamme totaal weggespoel. 'n Skade van R 25 miljoen, terwyl skade aan oeste R 30 miljoen beloop.

Etlike boere moes in 1986 boedel oorgee.

Aucamp het voorts gepleit dat spesifieke aandag aan dakloses gegee word; 'n konkrete plan daargestel sal word om boere te help om minstens infrastruktuur te herstel; dat koöperasieskuld afgeskryf moet word; voorsiening vir die moontlike 20 000 nuwe werkloses teengewerk word deur aandag te skenk aan die bronne waarvan hulle afhanklik is.

Dat indringende samesprekings gevoer word met landbou-unies ten einde die beskikbare bronne van hulp ten beste aan te wend.

STAATSLOTERY

Cassie Aucamp het die instelling van 'n staatslotery in sy geheel verwerp.

''Die AEB erken in sy Manifes die soewereiniteit van die Drie-enige God oor die hele terrein van die samelewing, nie net binne die mure van die kerk nie, en ons onderneem om ons maatskaplike bestel in gehoorsaamheid aan sy Woord in te rig.''

''Die AEB se ideaal vir Suid-Afrika is dus duidelik nie dié van die sekulêre staat nie.''

''Die praktyk van lotery/dobbelary deurstaan nie die toets van God se Woord nie, en het ondanks die onheilige wins daaraan verbonde 'n vernietigende uitwerking op die gemeenskap.''

''Sake wat in die gedrang kom is onder andere: 'n gesonde werksetiek, die groeiende afhanklikheid van geluk en kans en die grootskaalse verarming wat aan die verlieskant van dié spel ervaar word.''

''Ook in hierdie geval kan die doel nie die middele 'heilig' nie. Dan kan ons net sowel 'n bordeel oopmaak en die wins aan die armes gee.''


NASIONALE SONDE VAN ABORSIE

Berig uit PATRIOT, 17 Maart 2000 (bl 9)

Meer as 100 000 onskuldige ongebore babas is sedert 1 Februarie 1997 wettig in Suid-Afrika gedood, sê United Christian Action in 'n onlangse nuusbrief.

United Christian Action het as gevolg hiervan op 1 Februarie 2000 - presies drie jaar nadat die aborsiewet van krag geword het - 'n "nasionale dag van berou oor die nasionale sonde van aborsie" gehou wat protesoptrede by die parlement ingesluit het.

Volgens hierdie Aksiegroep se jongste nuusbrief, UCANEWS, het sowat 100 predikante, geneeshere, moeders en wetgewers deelgeneem aan 'n gebedsbyeenkoms by die parlement.

'n "Veroordelende Gebedsproklamasie" is deur die meeste leiers teenwoordig ondreteken. Afskrifte daarvan is aan die staatspresident, die 400 parlementslede, en elke koerant in die land besorg.

In hierdie proklamasie versoek United Christian Action die regering om sy vernietigende beleid waardeur aborsie, pornografie, homoseksualisme en intergelowige afgodediens bevorder word, te laat vaar.

Die proklamasie wys op onweerlegbare mediese getuienis dat lewe met bevrugting begin en aborsie inderdaad gelykstaande is aan moord. Die destydse minister van gesondheid het hierdie wetenskaplike getuienis as "irrelevant" afgemaak.

Volgens UCA is aborsie gevolglik strydig met die grondwetlike bepaling wat elkeen 'n "reg tot lewe" gun.

Die aborsiewet kom neer op staatsgesanksioneerde moord, lui die artikel in die nuusbrief.