|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 3 Mei 2001
Aktueel
OPE BRIEF AAN DIE PRESIDENT
WETSGEHOORSAAMHEID EN WETSTOEPASSING
- K van Dykhorst (afgetrede Regter van die
Hooggeregshof)
In : DIE KERKBLAD, 14 Maart 2000, bl 8 en 9 -
Geagte meneer die PresidentOns glo dat ons goeie God owerhede verorden het omdat Hy wil dat die wêreld deur wette geregeer moet word tot goeie ordening van die samelewing.
Daarom het hy die owerheid die swaard van strafoplegging in die hand gegee om kwaaddoeners te straf en die vromes te beskerm.
Ook is dit die owerheid se plig om die koninkryk van Jesus Christus te bevorder en die Woord van die Evangelie orals te laat preek, sodat God deur elkeen geëer en gedien word.
Ons is daarvan oortuig dat elkeen verplig is om hom aan die owerheid te onderwerp en gehoorsaam te wees in alles wat nie in stryd met die Woord van God is nie.
Ons glo dat ons eer en eerbied moet betoon aan u as die owerheid en voorbidding moet doen, sodat die Here u mag bestuur in al u weë en ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle Godsvrug en waardigheid.
Dit is ons gereformeerde credo. So is dit al in die sestiende eeu verwoord in ons geloofsbelydenis. Dit is gegrond op die Bybel, ons enigste rigsnoer.
Hoë owerheid, die saak is dus eenvoudig. Ons moet ons aan u onderwerp omdat almal dit moet doen ter wille van die goeie orde. By oortreding is nie net ons nie, maar almal strafbaar. Aan u is die Godgegewe taak opgedra om die goeie orde alhier te handhaaf, alle misdadigers te straf en ons te beskerm.
Dat u u verdere plig om die evangelie te bevorder versaak het, doen hieraan nie afbreuk nie. Ons doen vir u voorbidding. Ons maak aanspraak op 'n rustige en waardige lewe. Ons vra nie veel nie. Is dit in ons pragtige land 'n onmoontlike versoek?
Groot protesoptogte is nie ons styl nie. Ook toi-toi ons nie graag nie. In ons protes wil ons waardig wees. Maar ons kan en mag nie langer stilbly nie. Selfs al loop ons gevaar om deur u van politieke verdagmakery beskuldig te word. Sake loop verkeerd. Miskien is u verkeerd of onvolledig ingelig en onbewus van die diepte van ons nood. Sekerlik kan u nie net met volle kennis onverskillig bly nie.
Weet u dat ons in die dapper woorde van Psalm 91 kwalik vertroosting vind teen die skrik van die nag wanneer die koeëls uit die duister deur die venster fluit? Of as ons sakke gerol word met die koue lem in die rug?
Het u al probeer troos as 'n jong dogter onteer is of haar grootouers in hul eie huis van kant gemaak is? Is u bewus van die algehele empatie waarmee die dade gepaard gaan, of die totale afwesigheid van berou daarna?
Is u bewus daarvan dat daar in die laaste dekade ongeveer 4 400 aanvalle op plase was en dat dit op meer as 920 moorde uitgeloop het? Of dat in die townships waar van ons mense woon, die wet in eie hande geneem word in reaksie op die misdaadvlaag?
Weet u dat daar in die laaste dekade 'n verharding by mis-dadigers ingetree het? 'n Sadisme en venyn ongekend toe ons jonger was? Roof wat vroeër gepleeg is met geweld toepaslik om die buit te bekom, gaan nou gewoon gepaard met moord en waar die geleentheid hom voordoen, verkragting.
Dink u dat daar geen verband is tussen die toename in felheid en sadisme en die afskaffing van die doodstraf nie? Waarom het u die skerp swaard wat aan u toevertrou is, laat stomp word, gevlek met die roes van humanisme? En dit terwyl die oorgrote meerderheid van ons landsburgers u sal toejuig as u van die moordenaars van ons polisie, ons vroue en ons kleuters die hoogste tol eis.
Met Psalm 121 hef ons ons oë op na die berge en kyk oor lemmetjiesdraad op hoë mure. Ons weet dat ons hulp van die Here kom, maar wonder soms of dit moet wees in die vorm van alomteenwoordige sekuriteitsdienste, terwyl ons polisie magteloos toekyk.
Ons is bekommerd oor die kanker van korrupsie wat wyd wortel skiet by owerheid en onderdaan, en die persepsie dat dit nie eintlik verkeerd is nie.
U weet dat ons polisie onderbeman, ondergekwalifiseerd en swak gemotiveerd is - en soos nêrens ter wêreld voëlvry verklaar is deur ons vermetele misdadigers.
U weet tog seker dat ons regstelsel homself vasgedraai het in prosesregtelike rompslomp en herhaalde uitstelle. En dat dit dikwels aan toegewyde diens ontbreek. Werksetiek is skaars en van empatie met die publiek is daar min te bespeur. Of is dit blote onbekwaamheid? Weet u dat skuldigbevindings belemmer word deur 'n vlaag konstitusionele uitsprake wat nuttige regsvermoedens in die ban gedoen het?
Weet u dat geharde misdadigers op borg vrygelaat word en dan verdwyn - tot gramskap van 'n oorwerkte polisiemag?
Ons mag en wil nie die blaam vir alles wat in ons land verkeerd is, voor u deur lê nie. Dit is nie maklik om hierdie land te regeer nie.
God het u egter dié groot taak opgelê. Ons vra met eerbied dat u dit na die beste van u vermoë uitvoer. U het ons ondersteuning.
Ora et labora. Ons sal bid. Ons vra dat u hand aan die ploeg slaan.