Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Kerk en Koninkryk

SKRIFOORDENKING:
Verwag die Stad van God

AKTUEEL
Ope brief aan die President

Die Psalmberyming in die nuwe "Liedboek van die Kerk"

Evolusieleer opnuut in die brandpunt

Dissipline in die Christelike huis

Die gesag van die gereformeerde belydenisskrifte

Die Boeddhisme vandag

Studie van die vrou in die Kerk

Die nuwe ideologiese demagogie

Die omkering van die Staatsbestel

Wie is dr Francis Nigel Lee?

Die "Dordt"-kerk in Orania

KERKLIKE JOERNAAL: 
Prof Koos Vorster weer by sitting van die Verenigde Nasies

Hervormers aanvaar die nuwe liedboek

Genadedood in Nederland gewettig

NG Kerk se aanvaarding van homoseksuele

NG Kerkraad tree nie op teen Spangenberg

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die multi-Godsdienstige benadering in die nuwe onderwyssisteem

'n Saak van etiese waardes

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhouding tussen die Kerk en Staat volgens die Skrif

PERSRUBRIEK: 
Die vertaling van die Name van God


Beswaarbriewe teen aanvaarding van homoseksualisme in die NG-Kerk

Bybel só gefragmenteerd

Lewe sonder God sinloos

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Siekte en gebed

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 3 Mei 2001

DIE PSALMBERYMING IN NUWE "LIEDBOEK VAN DIE KERK"

-  DS JP COETZEE  -

Die voorgestelde nuwe ''Liedboek van die Kerk'', is agtereenvolgens reeds aanvaar deur die sinodale vergaderings van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Die sinodes van die Afrikaanse Protestantse Kerk en dié van Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika moet nog daaroor besluit. Met die oog daarop enkele gedagtes oor die toetsing van die vernuwing (omdigting) van die Psalmberyming wat deel van dié nuwe Liedboek is.

 

VERNUWING IN DIE PSALMBERYMING

Dit is 'n saak wat baie ernstige aandag en besluitneming van die kerke verg. Dit raak die godsdienstige gevoels-belewennis van die gelowiges. Psalms was deur die eeue in die kerke van die Reformasie gebruik om dankbaarheid, hoop en troos te verwoord. Dit is nog steeds die geval. Psalmsing is verder een van die sterkste religieus-historiese bande wat geslagte van gelowiges se dank, hooop en troos in Skrifgebonde bane lei.

In die Christelijke Encyclopaedie (Tweede Druk, 1960. Kampen: Kok) is daar 'n insiggewende artikel van prof dr G Kuiper oor hierdie aangeleentheid. 'n Belangrike punt wat hy aanroer is die gevaar van verstarring deur die voortdurende gebruik van ou Psalmberymings en die gevare van ondeurdagte vernuwing. In hierdie artikel word belangrike onderskeidings, historiese gegewens en rigtingwysers gegee.

PSALMBERYMING IS UNIEK

Alle bewerking van die Psalms is nie Psalmberyming nie. By die Kerkreformasie het Luther en Calvyn psalms berym. 'n Psalmberyming moet die inhoud van die Hebreeuse Psalm reg weergee. Dit mag nie 'n ander gees as die oorspronklike Psalmgedig dra of aanbied nie. Die geloofsgevoelens van die gelowiges moet in 'n psalmberyming aangespreek en ervaar word. Daarom moet mens terdeë kennis neem van die volgende onderskeidings wat in die bewerking, benewens beryming van Psalms reeds bestaan:

PSALM-UITBREIDING

Dit beteken dat iemand wel die die psalmteks volg, maar op die inhoud van die psalms uitbrei om so bepaalde gedagtes wat eie van die psalmbewerker is, te beklemtoon. Die subjektiewe aard van so 'n uitbreiding maak dit ongeskik vir kerklike gebruik. Die bekendste voorbeeld van so 'n psalm-uitbreiding is stellig die "Uytbreyding over de psalmen des propheten Davids",  wat deur DR Camphuysen, in 1630 gepubliseer is. Dit was veral met die oog op sy remonstrantse medestanders. Hierdie ''Uytbreyding'' het aanvanklik baie invloed in die kerke van dié tyd gehad.

PSALM-VERSIFIKASIE

Dit is letterkundige bewerking van Psalms wat nie vir kerklike gebruik bedoel is nie.

DIGTERLIKE PSALMPARAFRASE

Sulke werke wil uiteraard die inhoud van die psalms, wel digterlik, maar anders weergee. Weens die die subjektiewe aard van alle vorms van parafrase is hierdie soort bewerking nie geskik vir kerklike gebruik nie.

PSALM-LIED

Dit is liedere wat na aanleiding van 'n psalm gemaak is.Uiteraard dan ook nie geskik vir kerklike gebruik nie.

NUWE PSALMBERYMING IN AFRIKAANS

Die strewe na nuwe psalmberymings bestaan by baie mense. Besware teen die Afrikaanse Psalmberyming van 1937 word ingeklee in woorde dat ''die beryming oud is'' (dit spreek dus die moderne mens nie meer aan nie) of ''dié beryming is verbonds-eensydig'' (en is gevolglik in kerke wat die verbondsleer wat in die psalms uitgedruk word, anders opvat en leer, nie bruikbaar nie).

Wat die ouderdom van die bestaande beryming betref wys ons daarop dat 1937 nie die gryse verlede verteenwoordig nie. 'n Tydperk van vier-en-sestig jaar is in die bestaan van kerke nie lank nie. Die argument oor veroudering word bes moontlik maar gebruik om 'n nuwe soort kerklike belewenis daar te stel, soos wat op baie ander terreine van die kerklike lewe ook maar gebeur.

Aan leerstellige verskille wat bestaan, kan mens seker maar min doen.

In hierdie LIEDBOEK is elf berymings uit die 1937-Totius berymings, omdat dit geliefde psalms is, alternatiewelik opgeneem.

Die Nasionale Sinode van die GKSA, Januarie 2000, het aan Deputate opdrag gegee om aan hierdie bundel, wat die Psalms aangaan, mee te werk. Dit is gedoen. Noudat dit deur die NG en NH Kerke reeds aanvaar is, en op Hervormingsondag, 27 Oktober vanjaar amptelik in gebruik geneem gaan word, is dit reeds algemene besit en nie meer 'n geheime werksdokument nie. Die deputate behoort die kerke te dien om hierdie nuwe beryming (omdigting) so gou as moontlik aan die plaaslike kerke beskikbaar te stel. Ons verneem dat so 'n gedagte reeds by die Deputate ingang vind. Daar sal beslis sowel lof as kritiek op die nuwe bundel wees. Die vraag is wie die beoordeling oor die nuwe beryming moet/sal verrig

BEOORDELING VAN DIE NUWE BERYMING

Die Nasionale Sinode moet uiteindelik die finale beoordeling behartig. Daaroor bestaan geen twyfel nie. Maar daar behoort ook geen twyfel te bestaan oor dat die afgevaardigdes op die eersvolgende Nasionale Sinode deeglik kennis behoort te hê van alles wat dié beryming behels nie. Dit kan tog nie die bedoeling wees om die Sinode daarmee te verras nie?!

Daarom behoort kerkrade nou onverwyld te begin om die nuwe beryming krities te bestudeer. Die kerke word tog nie deur 'n sinode of selfs deur enige groep Sinodale Deputate regeer nie? Dus sal dit ook kerkregtelik in orde wees dat mindere vergaderings reeds die nuwe beryming begin beoordeel. Dit is noodsaaklik met die oog op die geweldige impak wat die berymde Psalms op die kerk se lidmate het. Diegene wat reeds die nuwe psalmberyming in die geheel besit, kan met groot vrug aan die hand van die bogenoemde onderskeidings, aangehaal uit die Christelijke Encyclopaedie, na die nuwe bundel begin kyk. Dié artikel is 'n gedeë stuk werk, soos die indrukwekkende literatuurlys ook aantoon. Die nuwe bundel behoort veral eksegeties en leerstellig beoordeel te word.

Mag die Gereformeerde Kerke daarvan bewaar word dat daar, volgens die voorbeeld van die 1933/53 naas die 1983 Bybelvertalings, twee psalmberymings sal kom wat dan ''naasmekaar'' (wat dit ook al mag beteken) gebruik kan word. Dié manier van besluitneming bring verdeeldheid en stryd in die saambestaan van die Kerke.