Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Kerk en Koninkryk

SKRIFOORDENKING:
Verwag die Stad van God

AKTUEEL
Ope brief aan die President

Die Psalmberyming in die nuwe "Liedboek van die Kerk"

Evolusieleer opnuut in die brandpunt

Dissipline in die Christelike huis

Die gesag van die gereformeerde belydenisskrifte

Die Boeddhisme vandag

Studie van die vrou in die Kerk

Die nuwe ideologiese demagogie

Die omkering van die Staatsbestel

Wie is dr Francis Nigel Lee?

Die "Dordt"-kerk in Orania

KERKLIKE JOERNAAL: 
Prof Koos Vorster weer by sitting van die Verenigde Nasies

Hervormers aanvaar die nuwe liedboek

Genadedood in Nederland gewettig

NG Kerk se aanvaarding van homoseksuele

NG Kerkraad tree nie op teen Spangenberg

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die multi-Godsdienstige benadering in die nuwe onderwyssisteem

'n Saak van etiese waardes

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhouding tussen die Kerk en Staat volgens die Skrif

PERSRUBRIEK: 
Die vertaling van die Name van God


Beswaarbriewe teen aanvaarding van homoseksualisme in die NG-Kerk

Bybel só gefragmenteerd

Lewe sonder God sinloos

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Siekte en gebed

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 3 Mei 2001

DIE "DORDT"-KERK IN ORANIA

Orania staan op twee fronte in die strydperk van die lewe. Talle behoudende Boere-Afrikaner volksgenote het 'n heenkome daar gesoek om in 'n volkseie omgewing te kan vertoef. Dit betref ook van ons Gereformeerde broeders en susters wat in alle opsigte behoudend is. Ongelukkig bestaan daar verdeeldheid omtrent die byeenkomste van die kerk. Hierdie verdeeldheid spruit voort uit die verlede van bediening uit twee geografiese gebiede, die kerke van Koffiefontein (klassis Fauresmith) en Philipstown (klassis Middelburg). Die kerk van Kimberley het op later stadium hulp verleen, wat nie in alle opsigte geslaag het nie. Op aandrang van lidmate/intekenaars van ons blad, publiseer ons die korrespondensie wat daaroor gevoer is.


VERKLARING VAN LOSMAKING

Hierdie Verklaring, gedateer 11 Februarie 2001, is deur die sogenaamde "Inkomplete Kerk Orania" versend aan alle kerkrade in die verband van Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Dit is gedoen om die aandag te vestig op die nood waarin hulle verkeer omdat Woord- en Sakramentsbediening tans in die gedrang is. Hierdie gemeente funksioneer as 'n oorspronklike wyk van die Gereformeerde Kerk te Koffiefontein, onder die leiding van ouderlinge wat, volgens die reëls van die kerkorde, amptelik bevestig is. Hierdie gemeente het onder bepaalde omstandighede 'n bedieningsooreenkoms met Die Gereformeerde Kerk, Kimberley aangegaan, wat op 20 Augustus 2000 deur laasgenoemde se kerkraad beëindig is. In die brief wat aan die kerkrade gestuur is, spreek die lidmate van die "Dordt"-kerk uit dat dit met leedwese aanvaar is en gee hulle kennis van die beëindiging van die verbintenis met die kerkraad van Kimberley. Dié brief is onder ons aandag gebring met die versoek vir publikasie.

Die brief is gerig aan die Voorsitter en Kerkraad van Die Gereformeerde Kerk Kimberley, Posbus 178, Kimberley. Kopie hiervan aan die kerkrade in die verband van die GKSA. Dit lui soos volg:

Geagte broeders

VERKLARING VAN LOSMAKING

Die Gereformeerde Kerk Kimberley het die bedieningsooreenkoms met die "Inkomplete Kerk Orania" op 20 Augustus 2000 beëindig en die opsegging is op 12 September 2000 deur die Klassis Griekwaland-Wes goedgekeur. Ons moes hierdie verbreking met leedwese aanvaar en verklaar hiermee dat ons verbintenis met Kimberley beëindig is.

Motivering:

Kimberley het die bedieningsooreenkoms strydig met die bepalings daarin, eensydig beëindig. De facto is ons verbintenis daarmee beëindig, aangesien die nie-aanvaarbare, nie-onderhandelde nuwe 'ooreenkoms' gewetebindend ons verplig om die 1983/92-vertaling as Woord van God te aanvaar.

Op 20 Augustus 2000 het Kimberley besluit om die Gereformeerde lidmate te Orania (sogenaamde Inkomplete Kerk Orania) die gebruik van die nagmaal te ontsê deur uitstel van die nagmaalviering te Orania weens die beweerde voorkoms van twissoekerigheid en skeurmakery en onsekerheid oor die leer en lewe rakende NGB, Art 3-7 en 28 en 29, sowel as die nie-honorering van sinodebesluite. Hierdie besluit is geneem sonder enige daging of vermaning en die veroordeling onverhoord, vals en lasterlik, strydig met onder andere KO, Artt 61, 72-76 en daarom Matt 18 en die negende gebod. Sedertdien het Kimberley geen vinger verroer om hierdie staat van beskuldiging op te klaar nie.

Pogings van ons kant om uitklaring oor die beskuldigings te kry, is onbroederlik afgewys.

Predikante wat intussen by ons Woord en Sakrament bedien het, is gedreig met vervolging onder ander kragtens KO, Art 80.

Klassis Griekwaland-Wes (12 September 2000) het die lidmate van Orania versoek om in te skakel by Kimberley; - dus was en is ons nie lidmate van Kimberley kragtens KO, Art 39 sedert April 2000, soos beweer word nie.

Kimberley se optrede is strydig met dié van die ware kerk volgens NGB, Art 29 en verplig ons om ons ooreenkomstig NGB, Art 28 by die ware kerk te voeg.

Verder verklaar ons dat:

ons voortgaan om ons eie erediensreëlings te tref soos vóór April 2000, in ooreenstemming met die besluite van Die Gereformeerde Kerk Koffiefontein (en die Klassis Fauresmith van September 1998);

ons ons hou by die kerklike orde ooreenkomstig Die Kerkorde van die GKSA. Die kerkregering deur middel van die ampsdienaars, eredienste en katkisasie gaan voort, die barmhartigheidsdiens word in stand gehou en die sinodale ramings oorbetaal;

ons die Drie Formuliere van Eenheid volkome onderskryf en die 1933/53-vertaling van die Bybel in Afrikaans as Woord van God bely. Die 1983/92-vertaling voldoen nie aan die eise wat die Woord self stel om waarheidsgetroue vertaling te wees nie en word daarom nie vir enige amptelike doeleindes gebruik nie. Dit is in ooreenstemming met die besluite van die Nasionale Sinode 1985 dat gebruik aan die vryheid van die kerke oorgelaat word en die 1933/53-vertaling nie uitfasseer mag word nie;

ons ons by die ware kerk (gemeente) moet voeg ooreenkomstig NGB, Art 28.

U broeders en suster in Christus.


ALGEMENE OMSENDBRIEF AAN KERKRADE VAN DIE GKSA

Geagte Voorsitter en Broeders 11 Maart 2001

Woord- en sakramentsbediening te Orania

Die Gereformeerde Kerk Kimberley gee hiermee die volgende inligting aan u deur in verband met bogenoemde aangeleentheid.

In Orania en omgewing is die Woord-, sakraments- en pastorale bediening met goedkeuring van die Klassis Middelburg (KP) onder die sorg van die Gereformeerde Kerk Kimberley gestel (Art 39 KO). Daar word elke Sondag minstens een erediens gehou.

Verskeie pogings van die kerkraad van Kimberley en die Klassis Griekwaland-Wes om 'n groep (vroeër van Koffiefontein) te versorg wat hulself die Inkomplete Gereformeerde kerk Dordt noem, het nog nie geslaag nie.

Hiermee versoek ons kerke om nie enige navraag om bediening van hierdie groep wat hulself die Inkomplete Gereformeerde Kerk Dordt noem, toe te staan sonder om vooraf met die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk Kimberley te skakel nie.

Broederlike seën op u arbeid word u toegebid.

Namens bogenoemde Kerkraad,

TN Aucamp (Skriba)