|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 3 Mei 2001
WIE IS DR FRANCIS NIGEL LEE?
In die vorige uitgawe van ons blad is geadverteer dat Dr Nigel Lee een van die gesiene sprekers is wat 'n aantal voordragte gaan lewer tydens die Bybelse Wêreldbeskouingsweek wat van 26 April tot 7 Mei in die lokaliteite van die Vrye Gereformeerde Kerk te Pretoria gehou gaan word. In DIE BOODSKAPPER van April 2001 (bl 6) verskyn 'n kort oorsig van die.verloop van sy lewe, wat ons graag vir die aandag van ons lesers bekendstel. Hierdie oud-Suid-Afrikaner het pas afgetree as professor in Dogmatiek asook Caldwell-Morrow Lektor in die Kerkgeskiedenis aan die Queensland Presbiteriaanse Kweekskool in Australië. Dr Lee, wat deur wyle dr Koot Vorster as 'n "Engelsman met 'n Afrikanerhart" beskryf is, is in 1934 in Engeland gebore. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is dr Lee se vader deur die Britse vloot as Suid-Atlantiese Hoofradaroffisier aangestel. So verhuis die gesin na Suid-Afrika. Daar word dr Lee 'n Calvinis, waarna hy die vreugde gehad het om albei sy ouers na Christus te lei, en om predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk te word. Hy vertel self sy lewensverhaal so:"Sedert my ontvangenis en geboorte was my hart geneig om van die Here af te dwaal. Toe, slegs dertig dae oud, is ek as sy eiendom in die Naam van die Drie-enige God deur die doop verseël. My toegewyde Roomse moeder het my gedurende my eerste sewe lewensjare geleer om elke dag kerk toe te gaan. Nietemin, onder my ateïstiese vader se invloed, het ek self radikaal en volkome met die Christendom gebreek - toe ek maar slegs agt jaar oud was.
Daarna het ek al my talente daarop toegespits om die valse religie van die ateïsme te bevorder. Rasionalistiese boeke oor paleontologie, argeologie en antropologie het ek gretig verorber - sodat ek op 13-jarige leeftyd ook 'n baie oortuigde evolusionis was. Gedurende my vroeë tienderjare bestudeer ek sterrekunde, chemie, tale, skaakspel, poker, brug, en selfs Boeddhisme. Maar geeneen het my rustelose siel vir baie lank tevrede gestel nie.
Op universiteit skryf ek vir die graad LL.B in, daar ek deur middel van die regte 'n politieke loopbaan beplan het waardeur ek my lewe kon wy aan die verbetering van menslike toestande. Juis om my in die politiek te bevorder, het ek 'n Bybel gekoop en dit toe begin lees. Ses weke later, gedurende die universiteit se somervakansie, gaan werk ek in 'n goudmyn. Ondergronds vasgevang, is ek skielik op 'n baie dramatiese wyse tot Christus bekeer. Ek het Hom toe belowe dat as Hy my lewe sou spaar, ek al my kragte aan sy diens sou toewei. Die Here het my gered en huis toe gestuur, waar ek die groot vreugde gehad het om albei ouers na Christus te lei. Hy het my toe oorreed om by 'n Bybelgelowige kerkverband aan te sluit en daarna Kweekskool toe te gaan.
Sedertdien het Hy my die genade gegee om baie universiteitsgrade te behaal, insluitende my Th.D in Dogmatiek en my Ph.D in die Kommunistiese Wysbegeerte (wat ek natuurlik sterk teenstaan). Ek was sowel herder in gemeentes en professor aan kolleges, en is tans kweekskooldosent en prediker.
Vandag glo ek saam met die Westminsterse Geloofsbelydenis (2.1) dat Jehova Elohim, die Almagtige Skepper, die enigste God is. Die oorweging van al sy hoedanighede is verreweg die lonendste aktiwiteit wat enigiemand kan onderneem."
Later verhuis dr Lee na die VSA, waar hy die allereerste Algemene Vergadering van Die Presbyterian Church in America bywoon. Hy dra toe sy ministeriële geloofsbrief na dié kerkverband oor, en word herder eers in Mississippi en daarna in Florida. Hy word ook: Professor in die Wysbegeerte by Shelton College in New Jersey; Navorser by die Christian Studies Centre in Memphis en Dekaan van die Graham Bible College in Bristol Tenessee.
As prediker, teoloog, regsgeleerde, opvoedkundige, historikus, filosoof en outeur het Lee meer as 325 publikasies (waaronder baie boeke) asook 'n menigte langerige manuskripte geproduseer. Behalwe 'n ere-LL.D, het hy twintig verdiende grade behaal, insluitende toen doktorate vir proefskrifte in die regte, letterkunde, wysbegeerte en teologie.
Dr Lee staan vroeg op, lees Gods Woord in agt tale, en stap dan vir 'n paar kilometer vóór ontbyt. Hy was al ses of sewe keer rondom die aardbol, het agt-en-tagtig lande besoek (waarvan etlike herhaaldelik); en het el-ke vasteland besoek. Hy bly in aanvraag as promotor van doktorale studente in Australië, Brittanje, Duitsland, Suid-Afrika en die Verenigde State. Dr Lee is 'n klipharde voorstander van die uitverkiesingsleer.